Koster: ‘Skok, teleurstelling’ ná hofuitspraak oor water

Die Koster-rioolverwerkingsaanleg. (Foto: Willie Jones)

Die burgerregteorganisasie AfriForum en die Kgetlengrivier Besorgde Inwoners-aksiegroep (KBI) sê hulle is geskok en teleurgesteld met die beslissing dat water- en rioolaanlegte in Koster en Swartruggens aan die Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit in Noordwes teruggegee moet word.

Dít volg nadat ’n waarnemende regter Maandag in die hooggeregshof in Mahikeng beslis het dat KBI dié aanlegte teen Woensdag om 12:00 aan die munisipaliteit moet teruggee. Die hof het boonop bevind dat Joseph Mogale, munisipale bestuurder, nie aan minagting van die hof skuldig is nie.

Regsaksie en geskille oor die munisipaliteit se jarelange versuim om water volhoubaar te voorsien, duur al etlike maande.

Maroela Media het berig dat KBI en Pionier, ’n dienstemaatskappy wat deur AfriForum gestig is, die hof versoek het om voort te gaan met die bestuur van water- en rioolwerke op Koster en Swartruggens.

Dít het gevolg nadat die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) en Kgetlengrivier- plaaslike munisipaliteit ’n dringende aansoek gebring het om die bestuur van die water- en rioolwerke in die dorpe van die KBI terug te neem.

Die LUR het Pionier by die aansoek gevoeg omdat die KBI hom aangestel het om dienste te lewer. AfriForum se tweede aansoek was suksesvol om as vriend van die hof toegelaat te word in die aansoek wat die LUR ingedien het.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid, onder leiding van adv. Gerrie Nel, het voorts gevra dat Mogale weens minagting van ’n hofbevel vir 90 dae agter tralies moet sit.

Volgens Carel van Heerden, voorsitter van die KBI, sal inwoners teen die uitspraak appelleer.

“Regter FS Gura se dapper stap in Desember (2020) om die gemeenskap die verantwoordelikheid te gee om die aanlegte self te kan bestuur, is tot ’n groot mate deur dié uitspraak ongedaan gemaak.

“Die munisipaliteit word nou weer in beheer gestel van aanlegte wat tans soos ’n goed-geoliede masjien loop.”

Van Heerden sê voorts dat die gemeenskap pas gewoond geraak het aan die betroubare verskaffing van skoon water.

“Nou is hulle weer uitgelewer aan die munisipaliteit en Magalies Water, wat die uiteindelike verval van die aanlegte en die daaropvolgende waterkrisis verlede jaar veroorsaak het.”

Volgens Johan Kruger, hoof van gemeenskapsontwikkeling by AfriForum, is gemeenskappe keelvol vir twyfelagtige hofuitsprake, swak administrasie en voortslepende korrupsie en vermorsing van belastinggeld.

“Die staat het toegegee dat die munisipale bestuurder nie die hofbevel nagekom het nie. Die hof se uitspraak is vir ons ondeurgrondelik en stuur ’n boodskap dat munisipale amptenare skotvry van wanbestuur en openlike nalatigheid sal afkom.

“Gemeenskappe sal eenvoudig spontaan begin opstaan teen munisipaliteite wat belastinggeld ten koste van inwoners se basiese regte steel en vermors. Spontane belastingverset is waarskynlik die regering se voorland.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

33 Kommentare

jongste oudste gewildste
Chris dupreez

Dan moet die munisipale bestuurder en sommer die waarnemende regter ook, verantwoordelik gehou word as dinge weer versleg en die mense neem die gereg in eie hande.

Manie

Die regering sal nie toelaat dat hulle onbeholpenheid so dikwels uitgewys word nie. Die howe is in hulle sakkie en sal ook nie maklik uitsprake teen die regering lewer nie.

Jack

Kan jy nou glo? KBI en Pionier doen al die herstelwerk en maak watervoorsiening moontlik net sodat die regter die aanleg kan terugee aan die munisipaliteit en die onbevoegdes.Nou kan hulle rustig agteroor sit en alles is herstel en die mense sing weer lofliedere. As ek Afriforum was sal ek op groot skaal mense begin gereed maak vir ‘n belastingverset.Dit is al taal wat hierdie korrupte en nuttelose regering sal verstaan.Om op eerlike regters staat te maak is tydmors in die land.

marius

Vat die water en gooi dit in die regter se tee pot .

Pieter

Belasting boikot dit is al wat gaan werk praat gaan niks help nie. Hoekom moet ons betaal vir doenste wat ons nie kry nie