Koue naweek voorspel

Argieffoto

Suid-Afrikaners kan gerus weer ʼn warm ding nadertrek aangesien daar nog ʼn kouefront op pad is wat plek-plek met reën gepaard sal gaan.

Puseletso Mofokeng, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse weerdiens (SAWD), het aan Maroela Media gesê ʼn kouefront het aan die Wes-Kaap begin ontwikkel. Volgens hom ervaar Kaapstad vandag reeds koel temperature van 18°C en bewolkte toestande wat teen Donderdag sal vererger.

Die kouefront sal ook met ligte reën gepaardgaan voor dit teen Donderdag na die suidelike dele van die land begin beweeg. “Teen die tyd wat die kouefront verby is, sal daar ʼn hoëdrukstelsel vorm wat met ʼn 60%-kans vir reën tussen Kaap Agulhas en Oos-Londen in die Oos-Kaap gepaard sal gaan,” het Mofokeng gesê.

Vir Gauteng voorspel Mofokeng Donderdag ʼn skraal kans vir reën. Hy het gesê daar word Vrydag en Saterdag reën en donderstorms in Gauteng verwag. “Die groot ding is die lae temperature – Gauteng sal Saterdag temperature onder 20°C ervaar, wat weer teen Sondag sal begin opklaar en verbeter.”

Pretoria sal volgens die SAWD se webtuiste Saterdag 18°C bereik. “Saterdag sal die oostelike provinsies die kouefront die ergste voel en toestande in die Kaapse provinsies sal verbeter.”

Durban sal volgens Mofokeng ook teen Vrydag en Saterdag temperature van 16°C en 17°C ervaar met ʼn 60%-kans vir reën. Volgens hom sal dit ligte reën wees. “Die SAWD monitor die situasie.”

In die Vrystaat, het Mofokeng gesê, sal die kouefront Woensdag reeds begin, maar Vrydag die ergste gevoel word met temperature onder 17°C in dorpe soos Bethulie en Philippolis.

Polokwane het Vrydag en Saterdag ʼn 60%-kans vir reën, en laer temperature sal Saterdag en Sondag hier gevoel word. Dit kom ná baie warm weerstoestande dié week in Polokwane met temperature wat raak-raak aan 40°C.

Potchefstroom in die Noordwes sal ook van baie warm temperature die week na 19°C Saterdag val.

In die Noord-Kaap sal Kimberley, Kuruman en Kathu nie een keer dié week temperature onder 25°C ervaar nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.