Koue, sneeu op pad

‘n Argieffoto van sneeu in Sutherland. (Foto: Brendan Magaar/ANA)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê talle Suid-Afrikaners moet hulle gereedmaak vir ʼn bibberbegin van die nuwe week wanneer temperature na verwagting Maandag en Dinsdag beduidend gaan daal.

Nadat sneeu reeds oor dele van die Oos-Kaap en Lesotho en daarna oor gebiede soos QwaQwa in die Vrystaat geval het, kan die Wes-Kaapse berge en die verre suidwestelike dele van die Noord-Kaap ook hul eerste sneeu van 2020 verwag.

Die weerdiens sê ʼn koue front word Sondagaand verwag en kan lei tot reënbuie oor die suidwestelike gedeeltes van die Wes-Kaap. Die koue front word voorafgegaan deur winderige toestande in die meeste gebiede, met stormsterk wind oor die Wes-Kaapse binneland.

Stormsterk wind word ook vir die suidwestelike gebiede en suidkus van die Wes-Kaap en Oos-Kaap voorspel. Rowwe seetoestande met golwe van tussen 4,5 en 6,5 m hoog word langs die kuslyn verwag.

Bitter koue dagtemperature word vir die Kaapprovinsies voorspel en diegene in die verre suidwestelike dele van die Wes-Kaap moet hulle staal vir ʼn kombinasie van koue, sterk wind en matige reën, het die weerdiens gewaarsku.

Daar is ook ʼn waarskuwing teen oorstromings.

Koue toestande word Maandag ook vir Lesotho, die Vrystaat en die suide en suidweste van Noordwes voorspel. Sneeu word Dinsdag in die noordelike binneland van die Oos-Kaap verwag. Bittere koue word ook vir Dinsdag vir die Kaapprovinsies, die Vrystaat en die suide van KwaZulu-Natal voorspel.

Ook die suidelike gedeeltes van Gauteng gaan Dinsdag koud en winderig wees.

Die sneeu gaan na verwagting na Lesotho, QwaQwa en die KwaZulu-Natalse Drakensberge verspei.

“Hoewel baie mense opgewonde gaan wees om die sneeu te sien, raai die weerdiens die publiek af om te midde van die Covid-19-pandemie en die afsonderingsregulasies daarheen te reis,” het die weerdiens gesê.

Temperature behoort teen Woensdag weer te begin styg, hoewel wydverspreide ryp oor die binneland verwag kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

sterk soos n beer ·

ek hoop dit reen lekker in die kaap die damme is al halfpad vol. die sneeu is goed vir die damme

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.