Koue, sneeu weer op pad

Foto ter illustrasie. (Foto: Jorge Guillen/Unsplash)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) het Woensdag gesê dat Suid-Afrikaners hulle moet staal vir ʼn kouefront wat vandeesweek oor gedeeltes van die land sal beweeg. Ligte sneeuval kan ook oor die Drakensberge verwag word.

Temperature sal na verwagting vanaf Donderdag in gedeeltes van die Wes-Kaap, Oos-Kaap en KwaZulu-Natalse kus skerp begin daal. Dié gebiede kan ook reën- en donderbuie verwag.

Vanetia Phakula, ʼn weervoorspeller verbonde aan die SAWD, sê Kaapstad kan Donderdag ʼn minimum temperatuur van 9 °C verwag, met ʼn maksimum van 14 °C. Port Elizabeth sal ook ʼn minimum van 9 °C beleef met temperature wat tot 17 °C kan styg.

Durban sal eers vanaf Vrydag koeler temperature van tussen 13 °C en 15 °C hê, terwyl reën- en donderbuie later dieselfde dag tot by Mpumalanga sal strek, waar gedeeltes van die provinsie maksimum temperature van net 12 °C kan verwag.

“Daar is ook Vrydag ʼn moontlikheid van ligte sneeuval oor die Drakensberge en hoogliggende gebiede van die Oos- en Wes-Kaap,” het Phakula gesê.

Terwyl die kouefront steeds Saterdag oor die meeste kusgebiede sal voortduur, kan temperature in die res van die land na verwagting ook daal.

“Reën- en donderbuie gaan moontlik oor die naweek na gebiede aan die ooste van Limpopo versprei.”

SAWD het boere gewaarsku dat koeler temperature vandeesweek, veral in die vroeë oggendure, tot ʼn verlies aan kwesbare vee en gewasse kan lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Dr. Rhoshe ·

Is dit net ek od is hierdie Wes Kaapse winter ekstra lank

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.