Koue wéér op pad

Argieffoto

Suid-Afrikaners kan hulle gereed maak vir bibberweer wat dié week voorlê met die meeste provinsies wat dit nié gaan vryspring nie.

Bransby Bulo, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Nasionale Weerdiens (SANW), het Maandagoggend aan Maroela Media gesê dat temperature reg oor die land van Dinsdag sal begin daal. Die SANW verwag ’n koue week tot Vrydag waarna temperature weer geleidelik sal styg.

Volgens Bulo sal dit Dinsdag geleidelik kouer raak in dele van die Wes-Kaap en Oos-Kaap. Hoogliggende dele soos Tiffindell in die suidelike Drakensberg kan Woensdag maar regmaak vir ’n minimum van -7 °C.

Die koue sal na verwagting van Woensdag na die binneland versprei. Bulo sê dat lae temperature vir die Vrystaat voorspel word, asook vir KwaZulu-Natal waarna die koue Donderdag Gauteng en Mpumalanga sal bereik.

Bulo meen dat dié skielike koue voor die somer amptelik aanbreek nié buitengewoon is nie. “Dit gebeur beslis nie elke jaar nie, maar dit het al vantevore gebeur.”

Snow Report SA voorspel intussen dat sneeuneerslae wyd, veral in hoogliggende gebiede, sal voorkom. “Teen Woensdagmiddag verwag ons sneeu op die Oos-Kaapse Drakensberg, die Suidelike Drakensberg en in die sentrale hoë Drakensberge. Teen Woensdagnamiddag verwag ons dat sneeuneerslae sal toeneem en verder noordwaarts versprei na die Maluti-berge rondom AfriSki en in die oostelike dele van Lesotho.”

Teen Woensdagaand en Donderdagoggend verwag Snow Fall SA dat temperature verder sal daal wat na verwagting aansienlik meer sneeu oor die Oos-Kaapse Drakensberg, die Suidelike KZN Drakensberg, asook die sentrale en noordelike Drakensberg sal meebring.

Bulo kon nie die moontlikheid van sneeu bevestig nie, maar meen dit is beslis ʼn moontlikheid met die koue temperature wat verwag word.

“Teen Vrydagoggend sal die sneeuweer begin opklaar en die lug sal ooptrek,” voorspel Snow Report SA.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Mrs H ·

Met brandstof pryse wat belaglik styg, sal ons nie hierdie keer kan gaan sneeu besigtig nie… Sou n heerlikke geleentheid wees, aangesien dit ook skool vakansie tydperk is.

Blommie 2 ·

Sowaar elke ander deel van die land behalwe Limpopo, en dit is so onsaglik warm.

Alki ·

Hoop nie die boere in die Wes en Oos Kaap het al skape geskeer nie

Verspot ·

Ek sal maar my nuwe Dagga-plantjie in die huis moet laat slaap ;)

Carol ·

Nie buitengewoon nie. Het al baie in die verlede tot 10 Oktober ryp gekry in Griekwastad en laer af teen die Oranje rivier tot die 20ste Oktober ryp gekry..

Tuinlover ·

Vorige keer ook net nadat ek saailinge geplant het, ryp dit. Sondag weer geplant en hier gaan ons alweer lol ?

Casper Labuschagne ·

SANW klink meer soos die SA Nasionale Weermag as Weerdiens. Ek wonder al vir ‘n ruk oor wat die korrekte Afrikaanse afkortings asook benamings sal wees vir al die staatsdepartemente wat nou glad nie meer Afrikaanse name het nie. Is dit nog hoegenaamd korrek om dan ‘n staatsdepartement se naam te vertaal aangesien daar vandag nie meer so ‘n inrigting met ‘n Afrikaanse benaming bestaan nie? Net soos “Hoërskool Linden” nie vertaal kan word nie, aangesien daar nie so ‘n instansie bestaan met ‘n vertaalde benaming nie.

Wat die weer betref, die dae en nagte is al van laas Saterdag af pure wintersdae dog matig warm hier in die Vrystaat waar dit wolklose dae is met koue nagte en ‘n koel Oostewind in plaas van die warm Noordwestewind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.