Kouefront bring bibberweer, sneeu

Foto: https://pixabay.com

Sneeuneerslae word teen Dinsdagaand in die westelike dele van die Wes-Kaap verwag.

Snow Report SA, ʼn organisasie wat sneeuval monitor, sê al die hoogliggende pieke in die Wes-Kaap sal na verwagting teen Woensdagoggend ligte sneeu ontvang het en dat Sutherland in die Noord-Kaap ook moontlik ligte sneeu kan verwag.

Bransby Bulo, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het gesê ʼn kouefront is tans op pad en sal die Wes-Kaap teen Dinsdagmiddag bereik. Hy het gesê dit sal koud wees in die suidwestelike dele van die provinsie. Daar word ook plek-plek, ook in Kaapstad, reën verwag. ʼn Maksimumtemperatuur van 13 °C word Woensdag vir Kaapstad verwag.

Dit sal na verwagting ook teen Woensdagmiddag lig sneeu in dele van die Oos-Kaap namate die kouefront na dié provinsie beweeg. Teen Woensdagaand sal daar na verwagting sneeu voorkom op die Drakensberge en die suidelike dele van die Noord-Kaap. ʼn Minimumtemperatuur van -9 °C word Dinsdagoggend vir Sutherland verwag en ʼn maksimumtemperatuur van 8 °C vir Woensdag.

Bulo het gesê daar is ʼn goeie kans vir reën onder meer in Port Elizabeth, Oos-Londen en Port St. Johns. ʼn Maksimumtemperatuur van 14 °C word vir Woensdag en Donderdag in Port Elizabeth voorspel.

Volgens Snow Report SA is daar ook teen Donderdag die moontlikheid van sneeu in Lesotho en die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal. “Daar is ook die moontlikheid dat ligte sneeu in Clarens in die Vrystaat kan val.” In Bloemfontein word Donderdag ʼn minimumtemperatuur van -2 °C voorspel en ʼn maksimumtemperatuur van 14 °C.

Bulo het gesê die kouefront sal later die week koue weer tot gevolg hê in die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng. Die maksimumtemperatuur vir Donderdag in Pretoria is 14 °C en ʼn minimumtemperatuur van 4 °C word vir Vrydag voorspel. Teen Saterdag word ʼn maksimumtemperatuur van 19 °C verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Hannelie ·

Waar bly jy Pikkie….ek wil soontoe trek. Dis te koud hier by ons in Worcester.

Penellope Jones ·

Ek stem saam. Dit was nog nie winter nie. Net koeler weer met hier en daar ‘n paar yskoue dae.

m ·

Se ek ook Pikkie. hierdie is onnatuurlike warm weer vir hierdie tyd van die jaar. My bome loop al uit en het al nuwe blare.

SI ·

Gelukkig gaan d Noordwes Prov dit vryspring? Sien nie dat daar êrens melding gemaak word vsn koue daar nie?

Kom Ons Boks ·

Ek stem. Vir die laaste 30 jaar is Augustus meer warm as koud. War val hierdie koue-front uit?

Lba ·

As die reen net wil val. Ons sal almal met neuse teen ruite staan en kyk

Susan ·

Die bloeisels begin al vir die afgelope 50 jaar al in Augustus bot hier in Pretoria. My ouers is in hulle 80’s en sê ook al was dit nie ‘n koue winter nie, vergeet mense dat Augustus nie koud is nie.

Piet Pompies ·

Dit voel vir ons ook nogal dat dit nie so koud was die winter, maar hoe sal ek weet, ek is nie ‘n termometer……

Mooi weer ·

Ek was krabvisser in die Beringsee met minus 48 grade en dit is nogal koud, het altyd met net n t-shirt gewerk met minus 10 grade.
Ek is nie Rambo nie maar ek kan maar net die koue handle.

Phillip ·

Hoop , Bid , en Glo dat dit baie sal reen dat die damme in die kaap kan vol kom voor die winter weg is ek bid dit iut my hart

Phillip

Leon ·

Dis nou jammer om te hoor van die koue front wat oppad is, wat beteken ons sal nie kan gaan swem, draf of fiets ry nie. Maar ons sal kan braai!!!! :-)

CK ·

Ons het al die seisoene nodig. Dis net die laaste 2 jaar glad nie so koud soos vroeër jare nie. By ons in die Noordelike Vrystaat is dit nog glad nie so koud soos wat dit moet wees nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.