Snow Report SA, ʼn organisasie wat sneeuval monitor, sê al die hoogliggende pieke in die Wes-Kaap sal na verwagting teen Woensdagoggend ligte sneeu ontvang het en dat Sutherland in die Noord-Kaap ook moontlik ligte sneeu kan verwag.
Bransby Bulo, ʼn weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens, het gesê ʼn kouefront is tans op pad en sal die Wes-Kaap teen Dinsdagmiddag bereik. Hy het gesê dit sal koud wees in die suidwestelike dele van die provinsie. Daar word ook plek-plek, ook in Kaapstad, reën verwag. ʼn Maksimumtemperatuur van 13 °C word Woensdag vir Kaapstad verwag.
Dit sal na verwagting ook teen Woensdagmiddag lig sneeu in dele van die Oos-Kaap namate die kouefront na dié provinsie beweeg. Teen Woensdagaand sal daar na verwagting sneeu voorkom op die Drakensberge en die suidelike dele van die Noord-Kaap. ʼn Minimumtemperatuur van -9 °C word Dinsdagoggend vir Sutherland verwag en ʼn maksimumtemperatuur van 8 °C vir Woensdag.
Bulo het gesê daar is ʼn goeie kans vir reën onder meer in Port Elizabeth, Oos-Londen en Port St. Johns. ʼn Maksimumtemperatuur van 14 °C word vir Woensdag en Donderdag in Port Elizabeth voorspel.
Volgens Snow Report SA is daar ook teen Donderdag die moontlikheid van sneeu in Lesotho en die suidwestelike dele van KwaZulu-Natal. “Daar is ook die moontlikheid dat ligte sneeu in Clarens in die Vrystaat kan val.” In Bloemfontein word Donderdag ʼn minimumtemperatuur van -2 °C voorspel en ʼn maksimumtemperatuur van 14 °C.
Bulo het gesê die kouefront sal later die week koue weer tot gevolg hê in die Vrystaat, Mpumalanga en Gauteng. Die maksimumtemperatuur vir Donderdag in Pretoria is 14 °C en ʼn minimumtemperatuur van 4 °C word vir Vrydag voorspel. Teen Saterdag word ʼn maksimumtemperatuur van 19 °C verwag.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
15 Kommentare
Hoogtyd dat die winter kom. Dit is hopeloos te warm … !
Se ek ook Pikkie. hierdie is onnatuurlike warm weer vir hierdie tyd van die jaar. My bome loop al uit en het al nuwe blare.
Lekker man lekker
As die reen net wil val. Ons sal almal met neuse teen ruite staan en kyk
Die bloeisels begin al vir die afgelope 50 jaar al in Augustus bot hier in Pretoria. My ouers is in hulle 80’s en sê ook al was dit nie ‘n koue winter nie, vergeet mense dat Augustus nie koud is nie.