Kouefront op pad na Kaapse kus

(Argieffoto: pixabay)

Met die winter om die draai kan dele van die Noord- en Wes-Kaap binnekort ʼn kouefront verwag, met ligte reën wat inwoners al langs die kus tot by KwaZulu-Natal sal laat bibber.

Kgoloselo Mahlangu, ʼn weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê ʼn kouefront sal na verwagting Dinsdagaand of vroeg Woensdagoggend oor die weste van die Noord-Kaap en dele van die Wes-Kaap beweeg, waarna dit Vrydag die Oos-Kaap sal bereik.

Hoewel die res van die land relatief droog sal bly, sal die kouefront ligte reën- en donderbuie langs die kus meebring, wat temperature verder sal laat tuimel.

Met ʼn 30%-kans vir reën in die Wes-Kaap sal temperature in Kaapstad teen Woensdag na ʼn yskoue 13 °C daal, met ʼn maksimum van 17 °C wat voorspel word.

Port Elizabeth sal na verwagting Saterdag ʼn 30%-kans vir reën hê, wat ook koeler temperature van 13 °C en 20 °C grade tot gevolg sal hê.

“Temperature aan die Wes- en Oos-Kaapse kus sal teen Saterdag steeds koel wees, waarna dit geleidelike vanaf Sondag sal herstel,” sê Mahlangu.

Teen daardie tyd sal die reën na die noordkus van KwaZulu-Natal beweeg.

Volgens Mahlangu sal hierdie reënbuie die temperature in KwaZulu-Natal en die ooste van Mpumalanga laat daal.

Hoewel temperature in die res van die land koel in die oggend, maar warm in die middag sal wees, sê Mahlangu dat ons nou wintertemperature kan begin verwag en dat dit onwaarskynlik is dat uitermatige warm temperature weer dié seisoen in die land ervaar sal word.

“Binne die volgende paar weke sal daar ʼn betekenisvolle daling in temperature reg oor die land wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.