Kouefront, reën op pad

(Argieffoto: Pieter du Preez)

Suid-Afrikaners is Dinsdag met koeler weer begroet en temperature sal na verwagting hierdie week verder daal wanneer nog ’n kouefront die land se suidwestelike kus tref.

Lehlohonolo Thobela, ’n weervoorspeller verbonde aan die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), sê ’n hewige kouefront sal teen Woensdag die suidwestelike kus van die Wes-Kaap bereik en koeler weer en reën vir dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap tot gevolg hê.

“Daar is ’n moontlikheid van sneeu oor die hoogliggende gebiede van die Oos- en Wes-Kaap, maar dit is nog te vroeg om met sekerheid te sê,” sê Thobela.

Matige tot swaar reënneerslae word ook van Woensdag vir die res van die land verwag. Gauteng kan van Dinsdagmiddag af swaar donderbuie verwag.

Weens die kouefront wat Woensdag die land tref, gaan die res van die land se temperature teen Donderdag ʼn bietjie daal, maar teen Sondag weer normaliseer.

Minimumtemperature in dele van die Wes-, Oos- en Noord-Kaap kan tot onder vriespunt daal.

Volgens die weerdiens kan Sutherland in die Noord-Kaap ’n minimumtemperatuur van -6 ˚C en ʼn maksimum van 7 °C teen Donderdag verwag. Bloemfontein kan teen die naweek ’n minimumtemperatuur van -1˚C en maksimum van 19˚C verwag, gevolg deur Bethlehem met ’n minimum van 0 ˚C en ʼn maksimum van 13 ˚C. In die Oos-Kaap gaan Aliwal-Noord teen Donderdag ’n minimumtemperatuur van -2 ˚C en maksimumtemperatuur van 13 ˚C aanteken.

’n Maksimumtemperatuur van 13 °C en minimumtemperatuur van 10 °C word Woensdag vir Kaapstad verwag. ’n Maksimum van 13 °C en ʼn minimum van 5 °C word more vir die Paarl verwag.

Vir Donderdag word ’n maksimumtemperatuur van 19 °C en ’n minimumtemperatuur van 9 °C vir Johannesburg en 20 °C maksimum en 11 °C minimum vir Pretoria voorspel. In Nelspruit word ’n minimum en maksimum van 14 °C vir Woensdag verwag, terwyl Polokwane ’n maksimum van 24 °C en ’n minimum van 13 °C gaan bereik.

In Noordwes kan inwoners van Potchefstroom en Rustenburg ’n maksimum van 20 °C en ’n minimum van onderskeidelik 4 °C en 10°C teen Vrydag verwag. Inwoners in Durban kan ook temperatuurdalings ervaar en kan teen Vrydag ’n maksimum van 17 °C en minimum van 13 °C verwag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Androclus ·

Vol hoop vir die Noord -Kaap vir reentjies veral oor Karoo hoogland.
Voorspoed

Tania ·

Ek het iewers op FB gesien daar is hierdie jaar ‘n La Nina in die Pacific? Beteken dit ons gaan ook meer reen kry die jaar?

Meisie ·

Dit bestaan regtig! La Nina is voorspel wat beteken ons gaan n natter jaar verder he :)

Tanniepetoors ·

Hierdie verplante Bolander wat in PE kuier het gedink ek vlieg terug GP toe vir warmer weer. Die donderweer is vir my altyd asemrowend mooi. (Anders skynbaar as vir baie ander)

Ronel ·

In 2020 doen mens niks soos in ander jare nie. Pak maar weer daai winterklere uit lol!! 2020 en sy wintersdinge.is nog nie klaar met ons nie.

Die Goodwoodianer ·

Dankbaar kan ons wees vir die reën. Al loop sommige damme vol en die “potholes” in ons buurte raak al groter, is daar gebiede wat kreun van die droogte. Ja, dankbaar kan ons wees vir die reën.

capie ·

Die reen het lankal weggewaai. Windguru tussen 0.1mm en 0.5 mm. Time and date, 1,2mm . Meteo blue tussen 0mm en 2mm. Ek het al baie lank terug gesien ons weervoorspellings is maar op dieselfde vlak as die regering.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.