Kouefront tref Wes-Kaap

Argieffoto van oorstromings in Kaapstad (11 Junie 2020) (Foto; Ayanda Ndamane African News Agency/ANA)

Die erge kouefront wat Suid-Afrika na verwagting teen Donderdagmiddag sou tref, het reeds dele van die Wes-Kaap getref.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeër die week gewaarsku ʼn “goed ontwikkelde kouefront” nader die land van die weste en sal Donderdagmiddag die land tref.

Maroela Media het vroeër berig die Weerdiens het gesê sterk noordwestelike winde van 60 tot 75 km/h gaan ook van Donderdagmiddag in die Kaapse metropool en Sentrale Karoo in die Wes-Kaap woed.

“Die stormsterkte wind sal na verwagting Donderdag ook die kusgebiede aan die suidwestelike dele van die land tussen Saldanhabaai en Kaap Agulhas tref en teen laataand na Alexanderbaai versprei.”

Sterk wind, reën en sneeu word teen Vrydag op die hoogliggende dele van die Kaapse Wynland verwag.

Anton Bredell, LUR vir plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, het lede van die publiek gemaan om buitemuurse bedrywighede so veel as moontlik te beperk. “Dit gaan baie koud en baie nat word. Ons is ook gewaarsku dat die nasionale elektrisiteitsnetwerk in hierdie stadium onder druk is met ʼn moontlikheid van beurtkrag.” Hy versoek inwoners om hul elektrisiteitsverbruik so ver as moontlik te beperk.

Charlotte Powell, woordvoerder vir Stad Kaapstad se rampbestuur-eenheid, het gesê geen groot voorvalle is tot dusver aangemeld nie. Daar was egter reeds paaie wat oorstroom het, maar geen paaie is gesluit nie. Motoriste word gemaan om versigtig te wees.

In ʼn noodgeval kan inwoners die volgende besonderhede gebruik:
Kaapse Wynland-munisipaliteit: 021 888 5837
Eden-distrik: 044 805 5071
Sentrale Karoo: 023 449 8000
Weskus: 022 433 8700
Overberg: 028 425 1690
Stad Kaapstad: 107 (landlyn) of 021 480 7700

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.