Stad Kaapstad het Maandag laat hoor rampbestuurbeamptes staan gereed vir die kouefront wat dié stad Maandag sal tref.
Wayne Venter, weervoorspeller by die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), het aan Maroela Media bevestig die kouefront is nog sowat ʼn 100 km ver en sal tussen 17:00 en 18:00 oor Kaapstad inbeweeg.
Volgens hom sal die front gepaardgaan met reënval van sowat 30 mm in die Suidwes-Kaap, veral in die bergagtige gebiede. Reën kan ook verwag word in onder meer Vredendal, Hondeklipbaai, Stellenbosch, Kaapstad, Worcester en Kaap Agulhas.
“Dit klink dalk nie na baie reënval nie, maar daar bestaan wel ʼn moontlikheid van gelokaliseerde oorstromings veral omdat dit nou so droog is. Die water syfer nie in die grond in nie – dit is die probleem,” het Venter gesê.
Die stad het verder in ʼn verklaring gesê dat die westelike dele van die provinsie tussen 5 mm en 20 mm reën kan verwag. “Swaar reëns sowel as poele water en oorstromings kan in plekke in die Kaapse metropool, die Wynlande en Overberg-distrik verwag word,” lui die verklaring.
Volgens Venter is daar ʼn geringe kans vir ʼn bietjie reën Dinsdagoggend ook. Kaapstad sal môre ʼn maksimum van 19 °C bereik terwyl George en Stellenbosch ʼn maksimum van 20 °C sal bereik.
Temperature sal dan weer begin styg en die reën opklaar tot ʼn twééde kouefront Woensdagmiddag weer die Kaap sal tref. Dié front sal tot Donderdagoggend duur en kan ook gepaardgaan met middelmatige reënval.
Die fronte sal volgens Venter nie na die binneland beweeg nie.
Volgens hom is die somerreëns vir die binneland ook nou byna verby. “Die oppervlaktemperature raak te laag en daar is te min vog in die lug.”
Stad Kaapstad het gesê die rampbestuursentrum en ander verwante departemente sal gereed wees om op enige krisis te reageer.
Hoop hulle staan gereed om op hulle kniee te gaan en dankie te se ook….
Lekkerrrr