Kouga ook hof toe oor strande

Foto: Kouga-munisipaliteit/Facebook

Die Kouga-munisipaliteit is besig om ’n dringende hofaansoek te finaliseer waarin versoek sal word dat die besluit om alle strande in die Oos-Kaap te sluit, omgekeer word.

Horatio Hendricks, burgemeester van die Kouga-munisipaliteit, sê hoewel die beskerming van inwoners en besoekers teen Covid-19 ’n prioriteit is, is hulle van mening dat ’n meer genuanseerde benadering, soos vir die res van die land se strande, ’n beter balans tussen die red van lewens en die red van mense se lewensbestaan sal moontlik maak.

Ingevolge die huidige gewysigde regulasies is alle strande in die Oos-Kaap en die Tuinroete-distrik tot 3 Januarie 2021 gesluit. “Daar is egter onduidelikhede wat deur die regulasies veroorsaak word, en sommige verwysings word wyd vir negatiewe interpretasie oopgelaat,” meen Hendricks. “Dit sluit in die definisie van ‘strand’ en die beoefening van watersport soos branderplankry.”

Volgens Hendricks het die Covid-19-kurwe in die Kouga-streek nie noemenswaardig toegeneem oor die afgelope drie weke nie en word dit ondersteun deur die hoë persentasie mense wat herstel van die virus.

“Die feesseisoen is ’n laaste reddingsboei vir baie werkgewers en werknemers wat die afgelope nege maande reeds geweldige verliese gely het. As die strande gesluit bly, sal die impak op ondernemings, op werkbehoud en werkskepping vernietigend wees.”

Hendricks het ook aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf om namens die inwoners van Kouga te pleit dat die besluit omgekeer word en dat ’n meer genuanseerde benadering gevolg word.

Die DA het reeds Donderdag hofstukke by die Kaapstadse hooggeregshof ingedien teen die regering se besluit om die Tuinroete se strande vir die feesgety te sluit. Dié aansoek sal na verwagting Maandag aangehoor word.

ʼn Dringende aansoek sal ook Dinsdag in die Pretoriase hooggeregshof aangehoor word oor die besluit om strande in die Tuinroete-distrik, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal te sluit gedurende die feestyd.

Daniël Eloff, prokureur by Hurter Spies, sê die aansoek is gebring namens die Grootbrakrivier-sakeforum, Louis Cook, ’n gastehuiseienaar en voorsitter van die Gastehuisgilde van Mosselbaai, en AfriForum as derde applikant.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.