Kovsie se skietdood: ‘Hy was alles wat mooi is’

RJ Lues en Stephanie Enslin. Foto: Facebook

RJ Lues en Stephanie Enslin. Foto: Facebook

RJ Lues (21), die derdejaar Kovsie-student wat homself Donderdagoggend in sy motor geskiet het, sal Maandag begrawe word.

RJ was ʼn landboustudent aan die Universiteit van die Vrystaat. Sy vriendin, Stephanie Enslin (20), het Sondag aan Maroela Media gesê sy sal een van die kisdraers by sy begrafnis wees en ook ʼn huldeblyk aan hom lewer. “Dit lê soos ʼn berg voor my, maar dit is iets wat ek vir hom moet doen. Dit is hoe ek vir hom totsiens gaan sê,” het sy gesê.

Stephanie het gesê sy het RJ omtrent ʼn halfuur voor hy homself om die lewe gebring het, vir die laaste keer gesien. “Ons het Woensdagmiddag saam spandeer en hy het nog saam met my dokter toe gegaan. Ons het lekker gesels en planne gemaak vir die naweek om saam rugby te gaan kyk en vir sy ouers in Dewetsdorp te gaan kuier,” het sy gesê. “My ouers sou ook van De Aar af Bloemfontein toe kom en dit sou die eerste keer wees wat ons mekaar se ouers ontmoet.”

Nadat sy die aand teruggekom het by die koshuis, het sy gehoor dat haar ouers besluit het om die naweek in Bloemfontein te spandeer en dat sy dus nie saam met RJ Dewetsdorp toe kon gaan nie. Sy het hom laat weet en hy het gevra of hy haar by die koshuis kan kom sien.

“Ek het gewonder hoekom dit nie net kon wag tot die volgende dag nie, want dit was al 23:30, maar ek het ingestem om hom te sien,” het sy gesê. Sy vertel dat RJ by die koshuis opgedaag het en baie ontsteld was omdat sy nie die naweek saam met hom na sy ouers toe kon gaan nie. Hy het vir haar gesê hy het besluit om sommer daardie aand nog Dewetsdorp toe te ry.

“Ek het vir hom gesê dit maak glad nie sin om nou in die middel van die nag te ry nie en hy moet eerder wag tot die volgende dag, maar hy het aanhou sê hy voel nie lekker nie en hy wil nou ry. Ek het vir hom gesê ons moet dalk net mekaar ʼn bietjie ruimte gee en mooi dink wat ons van mekaar verwag voordat ons besluit om in ʼn vaste verhouding te wees en hy het heeltyd gesê hy kan nie sonder my leef nie,” het Stephanie gesê.

“Ons het nie baklei nie en ons het baie mooi met mekaar gepraat en afgespreek om mekaar die volgende dag te sien. Toe hy my groet, het hy my ʼn stywe druk gegee en my op my voorkop gesoen. By die deur het ek hom gevra, so ek sien jou môre? Hy het my nooit geantwoord nie.”

Terug in haar kamer het Stephanie ʼn stemboodskap van RJ ontvang waarin hy sê hy voel soos ʼn mislukking in haar en sy ouers sy oë en hy kan nie sy lewe sonder haar indink nie. “Ek het die boodskap 00:28 ontvang. Presies twee minute later het hy homself geskiet.”

RJ is met ʼn skietwond in sy kop in sy motor by Stuck in the Mud gevind. Hy het homself met die jaggeweer geskiet wat hy vir sy 21ste verjaardag gekry het.

“Ek dink daar was diepgewortelde kwessies binne hom wat hom gepla het, onder andere dat hy gedink het hy is ʼn teleurstelling vir sy ouers, alhoewel dit glad nie so was nie,” het Stephanie gesê. “Ek dink hy het daardie aand gevoel ek is nog iemand wat hom verwerp, alhoewel dit glad nie die bedoeling was nie. Daar was nooit sprake van nie meer vriende wees nie. Ek voel baie skuldig en ek wonder heeltyd of ek iets anders moes gesê het of iets anders moes gedoen het. Maar hoe kon ek geweet het?”

Stephanie beskryf RJ as ʼn vriendelike, lewenslustige mens wat baie naby aan die Here geleef het. “Hy was one of a kind. Hy het elke dag aangegryp en iets moois uit daardie dag gekry. Ons kort tydjie saam was soos ʼn feëverhaal. Hy het my nader aan die Here gelei en altyd net die goeie in my raakgesien. Alle dinge wat mooi is, dit was RJ.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Peet Schabort ·

Wat gebeur het is ‘n onbeskryflike tragedie. Maar liewe meisie, ek sien die liefde is vir jou nie blind en dis hoe dit moet wees. Ek sien geen skuldgevoel aan jou kant deur opreg en openlik te wees met jou gevoelens.
Sterkte aan julle almal betrokke hierby.

Eliza-beth ·

‘n Moeilike pad vir almal wat betrokke is lê voor. Sterkte en vrede.

rinda ·

Hier lê vir haar ‘n lang en moeilike pad voor, jy gaan jouself verwyt, sy familie mag dalk nie nou nie maar op ‘n stadium gaan mag hulle dalk ook. Dis ‘n eensame pad, ek weet, my man het in 2010 dieselfde gedoen. Sterkte aan almal betrokke by hierdie seun se tragiese heengaan.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.