Kovsie-studente kan glo skade eis ná skorsing

Foto: eNuus

Foto: eNuus

Die twee studente wat vrygespreek is nadat hulle daarvan beskuldig is dat hulle ʼn medestudent op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat aangerand het, kan volgens ʼn regskenner, skade eis van die universiteit.

Cobus Muller en Charl Blom is daarvan beskuldig dat hulle probeer het om Muzi Gwebu met hul bakkie om te ry. Gwebu het aangevoer toe hy die twee daarna gekonfronteer het, het hulle hom aangerand.

Muller en Blom is in die Bloemfonteinse streekshof vrygespreek. Die Menseregtekommissie het ook bevind dat daar nie enige stawende bewyse bestaan om onweerlegbaar te bevind dat dit ʼn rassevoorval was of dat Gwebu se menseregte geskend is nie.

Die universiteit het in die lig van die hofuitspraak en die bevinding van die MRK, die twee studente se skorsing van die universiteit se kampusse met onmiddellike effek opgehef. Muller het verlede jaar sy BSc in konstruksiebestuur voltooi, maar kon, weens sy skorsing, nie die gradeplegtigheid in April bywoon nie. Blom word toegelaat om terug te keer om sy studies te voltooi.

Willie Spies van Hurter Spies prokureurs het aan Maroela Media gesê die twee studente sal moontlik skade kan eis van die universiteit. “Veronderstel die skade wat hulle gely het, was dat hulle een akademiese jaar gemors het omdat hulle verkeerdelik vir een jaar geskors was. Indien hulle kan aandui dat die universiteit onregmatig opgetree het om hulle te skors hangende die kriminele saak, sal hulle wel skade kan eis,” het hy gesê.

Volgens Spies kan hulle moontlik vir verskeie redes eis. “Die skade van ’n jaar se vermorste studiegelde, losiesgelde asook die koste-implikasie van die feit dat hulle die werksmag een jaar later betree, kan in so geval gekwantifiseer en geëis word. Só eis sal eerder teen die universiteit as teen die rektor persoonlik wees. As die rektor self lasterlikhede kwytgeraak het, sou daar teoreties wel gronde vir ’n lastereis teen hom bestaan.”

Prof. Jonathan Jansen, rektor en visekanselier van die Universiteit van die Vrystaat, het in Februarie ná die beweerde voorval in ʼn verklaring gesê: “Dit is hartseer en teleurstellend dat na soveel vordering met die sosiale transformasie van die UV, so ‘n verskriklike voorval plaasgevind het. Dit is verblydend dat studente oor die hele spektrum hierdie bose dade veroordeel het. Die studente sal beslis nie toegelaat word om aan die Universiteit van die Vrystaat te studeer indien hulle in die kriminele en institusionele ondersoeke skuldig bevind word nie,” het Jansen gesê.

“Die twee voormalige studente is geskors en sal nou geregtigheid in die kriminele howe in die gesig staar. Daar word gehoop dat hulle in die loop van tyd tot hul sinne sal kom en herstel en versoening sal soek met die student wat hulle so gevoelloos benadeel het. Hulle is nie langer deel van die universiteitsgemeenskap nie,” het Jansen in ʼn ander verklaring, ook in Februarie, gesê.

Lees ook:
Video: Kovsie-studente eis verskoning van rektor
Kovsie-studente onskuldig bevind

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Bokkie ·

EIS en eis behoorlik. Wat gebeur met die leuenaar, word hy nie geskors nie?

Gerhard Bezuidenhout ·

Manne eis die wit waks uit hulle uit en indien julle vir Jansen n les kan leer, gee hom sommer in sy persoonlike hoedanigheid ook vet. Dit is n skande dat julle geskors is sonder behoorlike navorsing.En die siel wat julle valslik beskuldig moet ook op sy herrie kry.

Sjert ·

Hoop vir die twee studente se onthalwe dat antie Masipa nie oor hul eise gaan beslis nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.