Kovsie-studente moet stem oor Afrikaans

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Studente van die Universiteit van die Vrystaat (UV) neem tans aan ʼn stemproses deel oor taalbeleid by dié tersiêre instelling.

“Die peiling is nie ʼn formele stemproses of referendum nie,” het die universiteit in ʼn verklaring gesê. “Dit vorm slegs een deel van talle deurslaggewende faktore wat op 4 Desember 2015 na die UV-Raad verwys sal word vir beraadslaging oor die toekoms van die taalbeleid by die UV. Die meningspeiling sal ’n aanduiding wees van personeel en studente se voorkeure vir moontlike taalmodel-opsies.”

Die UV is in die proses om sy taalbeleid te hersien ná klagtes deur studente dat aparte Afrikaanse en Engelse klasse rasseskeiding op kampus bevorder.

Opsies oor wat die taal van onderrig by die universiteit moet wees, sluit in:
a. slegs Engels
b. lesings word hoofsaaklik in Engels aangebied, maar met enkele uitsonderings (soos onderwyseropleiding wat in sowel Engels as Afrikaans aangebied word) en met voldoende taalondersteuning vir studente in Afrikaans, Suid-Sotho en Zoeloe
c. parallelle model (Engels en Afrikaans)
Die Onafhanklike Verkiesingskommissie sal die meningspeiling koördineer en oudit en studente kan van 29 Oktober tot Woensdag 4 November aan die peiling deelneem. Persone kan slegs met ʼn geldige personeelkaart of studentekaart stem.

Intussen het AfriForum Jeug studente van die UV aangemoedig om hul stemme te laat hoor en op te staan vir Afrikaans. “Studente kan hulle menings laat geld deur vir opsie C te stem in die UV se peiling onder studente oor die universiteit se voorgestelde taalbeleid,” het Eduan Dupper, woordvoerder van AfriForum Jeug, gesê. “Dit is van kardinale belang dat studente oor die taalbeleid gaan stem. Hierdie peiling kan die toekoms van Afrikaans by dié instelling bepaal en Afrikaanse mense kan nie bekostig om onderrig in Afrikaans by nóg ʼn instansie prys te gee nie.”

AfriForum Jeug het vroeër die jaar ʼn voorstel tydens die proses van openbare deelname ingedien.

“Afrikaans word by die meeste tersiêre instellings onder die vaandel van sogenaamde “transformasie” onderdruk. Dit wil voorkom of dié transformasie ten doel het om Afrikaans ten gunste van Engels uit instellings te verwyder, waarby weinig mense baat sal vind,” het Dupper bygevoeg.

Studente kan op die verskillende kampusse of aanlyn stem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nita ·

In die jare 50 en 60’s was wit mense rassisties teenoor witmense. Ons het Engelse en Afrikaanse leerders in die skool gehad. Maar in aparte klasse omdat dit die beste vir die leerders is. En weet enige van ons ministers hoe moeilik dit is om n klas in 2 tale gelyk aan te bied. Hierdie regering wil nou weer die wiel heruitvind. Ou praktyke wat 50, 60 jaar gelede afgeskaf is, wil hulle nou weer terugbring. Aanbieding van lesse in 2 tale tegelyk benadeerl die leerder. Dit het NIKS met wit of swart te doen nie. Ek wens die regering wil nou afklim van die ou holrug-geryde perdjie!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.