Kovsies aanvaar nuwe taalbeleid

universiteit van die vrystaat 3

Hoofgebou op die Bloemfontein-kampus van die Universiteit van die Vrystaat Foto: UV Facebook

Die raad van die Universiteit van die Vrystaat het Vrydag ʼn nuwe taalbeleid aanvaar tydens ʼn vergadering by sy Qwaqwa-kampus.

Volgens die nuwe beleid, wat deur die meerderheid van die raadslede goedgekeur is, verbind die universiteit hom tot ʼn taalryke omgewing wat veeltaligheid betref, met spesifieke fokus op Afrikaans, Sesotho, isiZulu en ander tale wat op die drie kampusse in Bloemfontein en Qwaqwa verteenwoordig word.

“Gebaseer op die kernwaardes van inklusiwiteit en veeltaligheid, sal Engels die primêre onderrigtaal wees op voorgraadse en nagraadse vlak,” het Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, gesê. “Veeltaligheid sal onder andere deur ʼn uitgebreide onderrigstelsel, wat spesifiek vir eerstejaars ontwerp is, bevorder word.”

Volgens die universiteit sal parallelmediumonderrig in professionele programme, soos onderwysersopleiding en teologiestudente, wat by tradisionele Afrikaanse kerke in die bediening wil tree, en daar ʼn duidelike behoefte in die mark bestaan, voortgesit word. Dit geld vir parallelmediumonderrig in Engels-Afrikaans en Sesotho-Zulu. “Hierdie reëling moet nie die waardes van inklusiwiteit en diversiteit van die universiteit ondermyn nie.”

Loader het bevestig die primêre formele taal van die universiteit se administrasie sal in Engels plaasvind, met voldoende aanpasbaarheid om uiteindelik veeltaligheid dwarsoor die universiteit in te stel.

“Formele studentelewebedrywighede sal in Engels plaasvind, alhoewel veeltaligheid in sosiale interaksies aangemoedig word,” het Loader gesê.

Regter Ian van der Merwe, voorsitter van die UV-raad, het gesê dit is ʼn groot stap vorentoe vir die universiteit. “Ek loof die raad vir die konstruktiewe en positiewe manier waarop die gesprekke plaasgevind het.”

Die universiteit het bevestig hy bly verbind tot sy beleid om Afrikaans as ʼn akademiese taal te bevorder, Sesotho en isiZulu as hoëronderwystaal binne die konteks van die behoeftes van die universiteit se verskillende kampus te ontwikkel, en gebaretaal en Braille te erken en te bevorder.

“Die goedkeuring van ʼn nuwe taalbeleid kom ná ʼn mandaat op 5 Junie 2015 aan die raad gegee is om die instansie se taalbeleid te hersien,” het Loader bygevoeg.

Die nuwe taalbeleid word vanaf Januarie 2017 in werking gestel.

Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het aan Maroela Media gesê die besluit van die universiteit is radikaal. “Dit is baie wyer as taal, maar totale kultuurverandering,” het hy gesê. “Die senaat met al die Afrikaanse vanne moet nie dink dit is net Afrikaans wat getransformeer gaan word nie. Dit gaan ook Afrikaners wees. Die Bothas, Van der Merwes en Venters wat vir Engels ter wille van volhoubare stabiliteit gestem het, gaan nie deel van daardie volhoubaarheid wees nie. Baie van die senaatslede wat vir die besluit gestem het, is ‘walhalers’ wat bloot die aftreewal wil haal voor die transformasie van mense begin. Hulle onbaatsugtige opoffering vir transformasie is die drome en loopbane van jong Afrikaanse akademici.”

Volgens Hermann is die verwydering van Afrikaans nie die einde van transformasie nie, maar ‘n voorwaarde vir die begin van transformasie. “Kovsies se radikale transformasie en ontwrigting begin nou eers. Die universiteit gaan sonder Afrikaans en stabiliteit wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

32 Kommentare

Jaco ·

Veeltaligheid word nie met die voortrek en uitsluitlike gebruik van een taal bevorder nie. Die inheemse mense is die ondergang van hul eie tale.

Henri ·

Jaco – ek ondersteun jou opinie.
Alle handboeke vir professionele grade word in Engels publiseer. Maatskappye neem persone in diens wat hopelik met meer as 85% van die inhoud bekend is, en met meer as 5% van die populasie kan kommunikeer.
Taal – of Afrikaanerskap gaan ook met sekere waardes gepaard. Daar is niks meer vernederend om (as ‘n ouer Afrikaanssprekende persoon) te sien hoe die blanke jeug hulself op kampusse gedra nie – militant, onverdraagsaam, kortsigtig.
Studente moet studeer (met of sonder ‘n woordeboek byderhand) – en dit geld vir alle studente wat met verskillende taalvaardighede by ‘n Universiteit registreer.
Wees trots Afrikaans in jou lewe, maar bekwaam jou om op alle vlakke, en hopelik in meer as net een taal vir jouself ‘n loopbaan te skep.

JP ·

Werklik waar. Hierdie is al in RW Johnson se boek “South Africa’s brave new world” voorspel. As Afrikaans val, sal geen ander afrika taal ‘n kans staan om te vorder nie. Teen so ‘n pas gaan almal engels praat.

Abie Greyling ·

Was besig om ‘n meenthuis vir my kinders te koop vir hul beoogde studies. Sopas besluit op ander alternatief! Dankie Kovsies! Jammer Bloem!

wynand ·

Sies julle.Hoe voel dit om n rugsteker te wees? Solidaritet hoe lank nog voor nog Akademia die lig in al die provinsies gaan sien? Dit is die begin van die einde van Kofsies. Hulle verkoop hulle taal om hul werk te behou maar gaan hulle werk ook verloor want onbevoegde lektore gaan aangestel word en dan het hulle alles verloor. Nou gaan die volgende episode begin waaroor diemassas gaan kla.Te veel witmense daar.En dan?Wie gaan bly en wie gaan ry?Waarom nie universiteite bou waar die swart tale uitgebrei kan word nie.Waaromn Afrikaanse universiteit opoffer? Kan die swarttaal praters nie vir n slag hulle eie ding doen sonder om iets te vernietig nie? Bou self.Doen iets selfen wees trots daarop .Hou op om ander mense se goed te”vat”. Wat keer hulle? Moenie se geld nie.Se eerder dis makliker om iemand anders se goed te”vat”.

Veritas ·

En so sal ons aanhou toegee aan hul eise totdat daar van ons taal, kultuur en nasie, niks oorbly nie. Binne minder as twee geslagte gaan Afrikaans, as besigheidstaal, heeltemal verdwyn. Daarna, of selfs gouer, sal daar nie enige Afrikaanse skole of universiteite bestaan nie. Dit sal dan nie meer die moeite werd wees om Afrikaans as huistaal te hê nie aangesien die kinders dan in ‘n vreemde taal onderrig moet word. Die aanslag teen Afrikaans gaan feller word en as ons nie NOU opstaan nie sal die Afrikanervolk teen die jaar 2100, nie meer bestaan nie. Dit klink dalk negatief maar indien ons nie NOU aksie neem nie, is dit wat gaan gebeur. Asseblief Afriforum, betrek Afrikaners in die sakewêreld, wat omgee vir Afrikaans, en gebruik hulle invloed om te help veg vir die behoud van Afrikaans. Mense soos Johan Rubert wat ‘n Britse dagblad gedreig het om al sy maatskappye se advertensies te onttrek omdat een van hulle verslaggewers, Afrikaans afgemaak het as gemors. Die uiteinde van die saak was dat die dagblad ‘n verskoning publiseer het. Ek is oortuig daarvan dat die Afrikaner se geld, hard behoort, te praat in hierdie stryd. LANK LEWE AFRIKAANS !!

andries ·

Niemand daar kon hulle man staan nie.Hoop hulle word ook hof toe geneem soos by Stellenb.Solidariteit enAfri -gaan julle iets kan doen hier? Hoor graag van julle.

Martino ·

Kul jou hier, kul jou daar, en siedaar: Engels is die primêre onderrigtaal. Veeltaligheid? My voet man, dink julle ons is stompsinnig? Regter, vir u het ek nog altyd die hoogste agting gehad, maar “‘n groot stap vorentoe” klink vir my na intellektuele huigelary.

jaco ·

wat sou afrikaanssprekendes maak as dit kul jou hier kul jou daar en siedaar net Zulu is die amptelike omgangs- en akademiese taal. wees eerder bly alles word Engels. dis immers oorspronklik n wit Europese taal.

John ·

Die koekoekvoels het toe ook die UV-nes gevat. ‘n Kenmerk van die voels is dat hulle nooit hul eie neste bou nie, maar ander voels uitboelie uit hul neste, die kleintjies uitskop en hul eie eiers daarin le. En raai dan begin van die kleiner voels vir hulle werk: Dra kos aan vir die groot pokkels van oggend tot aand en glo vas dis hul eie kleintjies wat so honger is.

saarkie ·

Dirk Hermann jy het die gevolge van die nuwe taalbeleid uitstekend uiteengesit. Rol van Solidariteiit en Afriforum om Afrikaner saam te snoer word net al groter. Verraaiers en joiners soos op die UV senaat sal nie ons moed breek nie

johan ·

Ek het nou al my respek vir die regter verloor net soos ek dit verloor het vir wim en price.Nog een wat geval het en geen rugraat het nie.Wat n jammerte.Ek het dit nie van n regter verwag nie.Wat volg nou?Te veel wit studente te veel wit lektore .Dit gaan nou in n hool verander wag maar en sien. Die volgende eise sal eersdaags volg.Wag maar en sien en dan word daar weer toegegee.Niemand het respek vir iemand sonder integriteit soos in hierdie geval nou die regter en natuurlik wim en price nie.

Bruno Stef ·

Dit is nou die mees agterbakse houding en besluit wat geneem is om Zulu/Sotho en Afrikaans gesamentlik die agter sitplek te laat inneem en op die langer duur alhoewel dit op papier staan net te ignoreer.Wetlik kan ons regsmense ons miskien beter inlig maar my beskeie mening is dat dit n fynbeplande set is wat ou Jonathan Jansen se hand en uitsprake in gesien kan word.

Penellope Jones ·

En so tree ons terug, nog ‘n bietjie meer, en nog verder totdat alles weggeneem is.

Michael ·

Ons moet so gou moontlik soveel Afrikaans sprekende mense kry om solidariteit en Afriforum finansieel te ondersteun want Afrikaanse skole is volgende ons moet selfonderhoudend raak en begin dink en net die twee Afrikaanse organisasies gaan kan help.Ons sal hierdie aanslag oorleef net saamstaan en slim wees

JC ·

Wel, Hof toe die met UV. Daar is geen manier dat die Howe hierdie sinlose inbraak op ‘n grondwetlike reg sal duld nie. Tog te jammer vir UV. Dit gaan hul duisende rande se regskostes kos, waar daar immers nie geld is nie!Ruggraatloos! HHA toe en dan seker die grondwetlike hof indien nodig. Hier moet ons die streep trek. Tot hiertoe en nie verder nie! Afriforum het reeds “dreigbriewe” begin stuur. Ongrondwetlik, en onregverdigbare diskriminasie op grond van taal! Sterkte UV, ek dink julle gaan dit nodig he.

JC ·

Anders as sommige (skaars) kommentators; huldig ek die idee dat die stryd vir Afrikaans JUIS in die howe gewen sal word en nie in die openbare opinie nie, want niemand het ‘n probleem met Afrikaans nie behalwe vir ‘n paar moeilikheidmakers en linkses! Die openbare mening is juis Afrikaans goedgesind mense! en is dit ‘n minderheidsreg wat afgedwing moet word. Luister! Ons moet ons grondwetlike taalregte afdwing in die howe! Anders is dit slegs ‘n “papierreg”. Die grondwet is die hoogste reg in hierdie land van ons, en Afrikaans word spesifiek daardeur beskerm! Ek is eintlik ietwat bly hieroor want nou kan die saak in die howe getoets word en Afrikaans en sy sprekers se regte gevindikeer word. Word daar gekyk na die grondwetlike proporsionaliteitstoets is dit duidelik dat niemand benadeel word deurdat Afrikaanses in hul taal lesse gegee word nie, behalwe slegs die Afrikaanssprekendes wanneer daar dan gepoog word om weg te doen met Afrikaans as onderrigtaal. Dit is regtig grondwetlik gesien ‘n “no-brainer” en gaan UV ‘n duur prys in die Hof betaal vir hul sinlose en irrasionele besluit. Voorwaarts Afriforum en Solidariteit! Voorwaarts Afrikaans as Grondwetlike reg!

Dup du Plessis ·

Jy’s reg Michael, daar moet begin word met masiewe fondsinsamelings onder Afrikaners en selfs Arikaanssprekendes vir wie die taal deel van hul lewe en wese is. Dis wat Akademia en die stig van Afrikaanse universiteite tans kniehalter – die tekort aan voldoende fondse om werklik groot te kan gaan – my kinders is feitlik klaar studeer maar vir hierdie hartsaak mag ons onsself nie verraai nie……

Johann Marx ·

Die probleem is NIE die ander inheemse tale nie…..die probleem is Engels. Die liberale Engelse het die nuwe Suid Afrikaners in hulle universiteite ingenooi na 1994…..en kon na ‘n tyd nie huishou daarmee nie. Omdat hulle nie hulle besluit kon terugtrek nie, het hulle na Afrikaanse Universiteite “gevlug” (Gaan kyk maar die getal toenames van Engelse studente by Afrikaanse Universiteite na 1994). Sodra die Engelse dan daar opdaag, het hulle begin druk uitoefen vir verandering van onderrig-taal………..en sodra die Engels word, stroom die nuwe Suid Afrikaners soontoe…..en die liberales vlug. G’n wonder my ouma-grootjie het die Engelse gehaat met ‘n passie nie….

Sarie ·

Jy is so reg. Daar kan gerus ‘n opname by US gemaak word oor die getal wit Engelssprekende studente uit die Suidelike voorstede van Kaapstad so neffens Ikeys. Die blanke Engelssprekendes is ook die eentaliges in die land. Hulle skuil agter die swartes se frustrasies omdat hulle juis aan gebrek van moedertaalonderrig so swak op skool en universiteit vaar.

andries ·

Dankie JC vir jou positiwitet! Die Afrikaanse studente moet gehelp word daar. Jansen het mos gese hy was bang met die onlangse betogings.Hy was so bang dat hy nou Afrikaans prysgegee het.Wat n lafaard in die ergste graad tesame met die rugraatlose regter en univ bestuur.Lyk my hulle is almal bang.Help nou n nasie met sulke patete.

ontstoke ouer ·

grondwetlike hof toe asb. nms alle Afrikaans sprekende studente van alle rasse
wat in hul moedertaal wil studeer-by Kovsies
afriforum doen dieselfde asb as by Stellenbosch.

Danie ·

Maandag stop ek my aftrekorder. Ek het reeds een vir Afriforum. UV (deesdae mos UFS) s’n gaan vir nou vir Orania.

Jordaan ·

En reeds is daar kommentaar van een of ander snuiter wat aanvoer dit is nie genoeg nie “omdat die kultuur nog moet verander “. Ek wens die Afrikaanse mense wat hierdie veranderings goedpraat wil wakker skrik en besef die einddoel is om als wat wit is uit te wis.

nic ·

Ek weer begryp nie die tussentydse taalbeleid nie- waarom Engels en nie sommer reguit Sotho, soos wat duidelik die primere taal gaan word noudat Afrikaans uit die pad uit is?

Dawie ·

Tata Kovsies.Wat volgende.Dalk die skole.Lyk my hier sit van ons eie afrikaanse mense ons in die rug en steek. Ons kan dalk iets leer by die ander manne hulle staan ten minste saam.Dit lyk my ons gaan dalk ons eie ondergang veroorsaak want Ons stem net toe tot alles.Vir die alleen siel wat nog Afrikaans probeer promofeer is dit net te min om n verskil te maak.Die krits is kinders van kleins af in Afrikaanse kleuterskole , skole, en tersierre instellings. Deesdae sien ek al hoe meer Afrikaans spreekendes hardloop met hul kinders na Engelse skole toe. Ons gaan onself benadeel.Wees trots Afrikaans en promofeer Afrikaans oral.

John ·

Ons moet eers trotse Christene wees, dan volg die res. Daar was nie ‘n groot bohaai gemaak toe die rektor die UV-wapen gewysig het nie en sommer ook die Bybel as die bron van wysheid uitgefaseer het. Die Departement Teologie het ook weggedoen met die Christelike uitgangspunt as enigste studieveld. Alle godsdienste is nou gelykwaardig. Wat se dit? Ons word vreeslik benoud oor Afrikaans maar wat van ons geloof? Die vyand is besig om met ons te ploeg en ons laat dit toe.

andries ·

Jy is reg John.Christenskap eerste.Deur Christenskap kan n mens nooit vernietig word nie.

tamboti ·

Se weer:
Slim geleerde mense het “mooi” oplossings vir lelike sake, met slim argumente maar dit vat nie lank voor dit as fataal verkeerd bewys word nie! Common sense is vir ons “common” mense, maar natuurlik ook “commonly” reg. Koebaai Kovsies, hello Krotsies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.