Kovsies sluit eers weer

Foto: UV/Facebook

Foto: UV/Facebook

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) se kampusse sal tot 28 Oktober gesluit wees.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het gesê die kampusse sal gesluit wees sodat die akademiese program aangepas kan word. “Die senior leierskap van die universiteit het die risiko’s versigtig ontleed en met studente, die polisie en ander rolspelers vergader om studente se veiligheid te verseker en die situasie te probeer stabiliseer.”

Volgens Loader kon daar egter nie ʼn ooreenkoms bereik word nie. “Dit word verder bemoeilik deur die feit dat die universiteit kennis ontvang het van die voorneme om ʼn interdik te bekom om die universiteit te dwing om met onmiddellike inwerkingstelling te heropen.”

Loader het beklemtoon dat die universiteit nie vir die res van die jaar sal sluit nie. “Die Bloemfontein- en Suid-kampusse sal egter van Donderdag [13 Oktober] tot Vrydag [28 Oktober] gesluit wees. Die twee weke sal kritiek wees om gebeurlikheidsplanne in te stel, om die akademiese program aan te pas en te verseker dat studente hul studie kan voltooi.”

Die Bloemfontein- en Suid-kampusse sal vir voorgraadse en honneursstudente gesluit wees terwyl administratiewe en akademiese personeel sowel as meesters- en doktorale studente sal werk. Koshuisstudente moet teen 12:00 Saterdag hul kamers verlaat.

Die akademiese program het Maandag hervat nadat die universiteit die vakansie vervroeg het. Daar was egter gewelddadige betogings en talle studente is in hegtenis geneem. Prof. Nicky Morgan, waarnemende rektor van die UV, het Saterdag in ʼn verklaring gesê die universiteit sal al die nodige maatreëls in plek stel om te verseker dat akademiese bedrywighede die afgelope week onverstoord op die kampus kan voortgaan.

Morgan het ook ʼn donker prentjie geskets van die praktiese implikasies indien betogers nie toelaat dat klasse vandag hervat word nie, wat onder meer insluit dat 6 000 studente nie vanjaar volledige transkripsies van hul grade en sertifikate vir hul kwalifikasies ontvang nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Riaan ·

“….. Donderdag[13 Oktober] tot Vrydag[38 Oktober] gesluit wees.”

Tot die kalender in die nuwe s.a. is al deurmekaar. Oktober het nou al 38 dae ;)

Landi Slatter ·

Dagsê Riaan

Dankie vir jou terugvoer. Ons vra om verskoning vir die tikfout, die berig is reds gewysig.

Groetnis
Landi nms Maroela Media

Wilma ·

Ai, en die kinders wat nou sover van hulle huise af is, waar mut hulle nou so vining vervoer kry? dit is tragies… en hulle moet alle saam vat, want dit wat daar bly word dalk gesteel…

elmar wepener ·

Ons land is aan die brand! Asb kan die beheerraad van Kovsies nie asb iets uitwerk nie? Ander universiteite is afgebrand maar kinders het nog klas???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.