Kovsies vervroeg ook reses

Foto: UV/Facebook

Foto: UV/Facebook

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het aangekondig die vakansie vir studente sal vervroeg word nadat die kampusse Dinsdag gesluit was weens die betogings.

Lacea Loader, woordvoerder van die universiteit, het gesê daar is, in oorleg met die studenteleierskap en ná sorgvuldige beoordeling van bedryfskwessies op al drie kampusse, ooreengekom alle klasse, toetse en opdragte word tot Vrydag 7 Oktober opgeskort. “Dit beteken dat die universiteit van Woensdag 28 September tot 7 Oktober vir ʼn verlengde vakansie sluit. Die akademiese program sal op Maandag 10 Oktober 2016 hervat.”

Loader het gesê dit sal die universiteit die geleentheid bied om, in samewerking met die studenteleierskap, akademiese en steunpersoneel, asook die groter gemeenskap, eensgesindheid te toon ter ondersteuning van gratis onderwys vir die armes en die ontbrekende middelgroep.

“Die administrasie van die universiteit sal op Donderdag 29 September voortgaan en personeel sal toegang tot hul kantore hê om die bykomende akademiese ondersteuning vir studente te beplan, om die herskedulering van die akademiese kalender te oorweeg, om met die departement van hoër onderwys en opleiding oor die studente se eise te gesels en om met steundienste voort te gaan tydens die verlengde vakansie.”

Volgens Loader sal die universiteitsbestuur en studenteleierskap ook in die volgende drie dae by gesprekke betrokke wees om ʼn platform te skep wat bevorderlik is vir voortgesette samewerking tussen studente en die universiteitsleierskap. “Die opskorting van toetse, klasse en opdragte sal ook tyd bied vir studenteleierskap en die universiteitsbestuur om oor ʼn sosiale kompak en etiese kode vir protesoptrede ooreen te kom en dit te onderteken.”

Betogende studente het Dinsdag ander studente en personeel geïntimideer en veiligheidspersoneel met geweld van die Qwaqwa-kampus verwyder. “Universiteitseiendom is ook aan die brand gesteek. In die lig van ons verbintenis tot die veiligheid van personeel, studente en universiteitseiendom op die kampus, was dit nodig om die kampus en koshuise onmiddellik te ontruim. Koshuisstudente mag egter tot Woensdagmiddag op die kampus aanbly.”

Die universiteitsleierskap het weereens sy steun vir ʼn nasionale beleid van gratis onderrig vir die armes en ontbrekende middelgroep benadruk en sy steun vir vreedsame protes oor sake wat vir sy studente van belang is, beklemtoon.

“Ons verstaan ook die frustrasie van baie studente en hul ouers/voogde met betrekking tot die sluiting van die kampusse en die impak wat dit op akademiese personeel, personeel in die steundienste, ons veiligheidspersoneel, onderrig, leer, projekte, opdragte, lesings, toetse, veldwerk, administratiewe steundienste en die akademiese kalender oor die algemeen het en verbind ons daartoe om alles in ons vermoë te doen om die lewering van gehalte-onderrig aan al ons studente onder moeilike omstandighede te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

John ·

Foeitog UV! Ons harte breek vir die bestuur en die studente, veral die ware studente, ja die uitgeputte toi-toiendes… Ons glo die moeilikheidmakers sal ‘n slag hul duur selfone en notaboeke afskakel en die tyd gebruik om te studeer (ha, ha). Die bestuur staan by die armes en middelgroep en glo die staat gaan handevol geld pos na finans se rekening. Ja, en die alumni sal hul harte wyd oopmaak vir die amokmakers al moes hul eie pa’s maar hoes of andersins self ‘n joppie iewers uitskrop vir ‘n paar ekstra rande… maar hulle sal verstaan die’ arme bloedjies is nie gewoond aan die werklikheid nie…

Andre ·

Studente wat vra om gratis onderrig, moet verslag gee van hulle punte. Sonder prestasie geen geld. Onderpresteerders hoort nie op universiteit nie.

Zuri ·

Ek stem saam met Ahooy. Niemand dink aan ons sakke nie. Ek moet my kind ten duurste 800km huis toe kry vir die vakansie wat ek met plesier doen. Dan stuur ek hom weer terug die 10de Oktober. Watse versekering het ek dat hy wel met sy klasse kan voortgaan en nie weer moet wag tot daar die hoeveelste sms deurkom van wanneer die klasse weer gaan begin nie. As dit wel ek sê wel gaan gebeur word toetse ingedruk om op te maak vir verlore tyd wat hulle benadeel. Dit is tyd dat teen hierdie studente opgetree word wat ander verhinder om te studeer.

Lance ·

Hier kom baie hofsake teen universiteite wat nie die diens kan lewer waarvoor daar wel betaal was nie …wat n benarde situasie ! Soek nou my geldtjie terug !

Dup du Plessis ·

Lance, dink ook ouers moet volgens ‘n glyskaal aandring op korting vir elke dag wat verlore gegaan het a.g.v. hierdie betogings……en in die toekoms moet BETALENDE ouers dalk ‘n gedeelte van gelde terughou en dit eers na die laaste eksamens betaal…….kan maar net dankie se my kind is op PUK….enigste funksionerende universiteit maar omdat dit hoofsaaklik afrikaans is, word die krane vir demografiese transformasie sterk oopgedraai om die plek ook maar binnekort soos die ander te laat word…..hopelik sal daar teen daardie tyd ‘n volwaardige, privaat afrikaanse universiteit wees wat ‘n verskeidenheid van kursusse aanbied.

E ·

Dink jul werklik die rektore sal bly wees as education free is? Dink jul werklik hul sal tog te bly wees om vir minder te werk?

Johann ·

Ek dink en doen in MY voorkeur taal…en my geld praat ook Afrikaans! Joune?

tw ·

Enige waarborge dat na die vakansie die betogery nie voortgesit gaan word nie? As dit wel voortgaan, wat is die volgende stap? Sal ons maar weer die universiteite sluit?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.