KPMG nou ʼn ‘ander maatskappy’, sê voorsitter

Prof. Wiseman Nkuhlu. Foto: KPMG

Wiseman Nkuhlu, voorsitter van die beleërde ouditeursfirma KPMG Suid-Afrika, het gesê die maatskappy het baie verander sedert sy reputasie beskadig is oor werk vir die voortvlugtige Gupta-familie, die SAID en VBS Mutual Bank.

In ʼn ope brief aan Suid-Afrikaners het Nkuhlu gesê KPMG het die land teleurgestel en om die vertroue terug te wen wat die maatskappy verloor het, gaan nie maklik wees nie.

“Dit is belangrik om ons verskoning te herhaal aan ons mede-Suid-Afrikaners vir werk wat skade berokken het aan Suid-Afrikaanse instansies en medeburgers. Ons het nie aan ons eie standaarde voldoen nie en ons het die land teleurgestel. Ek besef dit gaan nie maklik wees om weer die publiek se vertroue terug te wen nie. Mense sal KPMG nie wil beoordeel oor dit wat ons sê nie, maar dit wat ons doen,” het Nkuhlu gesê.

Die maatskappy het “niks om weg te steek nie” en werk saam met owerhede. Sipho Malaba, voormalige vennoot van KPMG wat glo R34 miljoen ontvang het om VBS Mutual Bank se “boeke te kook” is by die Valke aangemeld, het hy bygevoeg. Die maatskappy sal ook voor die kommissie van ondersoek na staatskaping onder leiding van adjunkhoofregter Raymond Zondo getuig.

“Ek doen ʼn beroep op Suid-Afrikaanse ondernemings, die regering en die publiek – dat julle sal sien KPMG Suid-Afrika is vandag heeltemal ʼn ander onderneming as 18 maande gelede. Ons doen ook ʼn beroep op julle geduld terwyl ons steeds meer doen om te wys hoe ons verander het.”

Die maatskappy het “beduidende introspeksie” gedoen en veranderinge gemaak aan wie met die maatskappy werk, hoe die maatskappy sy werk doen en personeellede se optrede.

Die beleërde ouditeursfirma het Nkuhlu in Maart vanjaar aangestel om die raad vanjaar te lei. Nkuhlu is ook ʼn kansellier van die Universiteit van Pretoria en voormalige president van die Suid-Afrikaanse Instituut van Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Gaan julle dus nou vir die 400 hardwerkende, eerlike, bekwame, opgeleide werknemers wat julle “laat gaan” het (omdat die bestuur en senior vennote skelm en pateties is) hulle poste terug gee? Indien nie…….is julle nog net dieselfde as 18 maande gelede en het niks verander nie. Ek hoop julle vou in totaliteit,,,,en ALMAL verloor hulle inkomste…..

Adam ·

Jy is in die kol. Na die personeelvermindering is KPMG waarskynlik net nog meer moreel bankrot. Sedert KPMG se “gesig” teen die spoed van wit lig verander is oor die laaste paar dekades, is hulle nog heeltyd besig om teen die ghriespaal af te gly. Dit terloops is die geval met ‘n groot aantal korporatiewe ondernemings.

ManieM ·

Hoe kan jy hulle ooit weer vertrou. Werk met die owerhede wat jy juis nie kan vertou nie. Hulle moet liewers met iets beters na vore kom, maar hierdie gaan nie vir my werk om hulle weer te vertrou nie

Piet Pompies ·

Die verskoning wat aangebied word oor die vermorsing van belasting geld betaal glad nie my kruideniersware. As daar regtig spyt is oor enige belasting geld wat vermors is, betaal dan belasting geld terug aan die belasting betalers. Nog elke keer wat ons kos koop by die winkel betaal ek met geld, niks anders.

LouE ·

Ha ha ha. Julle het julle kans gehad. Julle het van ‘n edel beroep ‘n bespotting gemaak.

Rupert Ashford ·

Ja ne? Ek is nie vertroud met die gektroieerde rekenmeesters institute en sy reputasie nie, maar die UP gly ook maar teen die ghriespaal af so Prof Wyse Man, ons sal maar moet sien.

maplotter ·

Net lee woorde , geen daadwerklike optrede, ek sien geen grootskaalse vervolging nie van KPMG mense of staat amptenarre nie. Volgende keer kom hul met groter bedrae weg.

Alida ·

Hoeveel van die galbrakers hierbo is kliente van KPMG? Julle kan lekker afgaan en vergeet dat ons familie het wat vir die maatskappy werk en hulle het niks met die gekonkel te doen gehad nie. Dink voor julle afgaan.

Rooikop ·

Transformasie lewer getransformeerde resultate. Verskonings moet nooit eers nodig wees nie. Julle is jammer tot volgende keer

Herman Goosen ·

Ha Ha Ha. Jy is nie nou by ‘n plakkerskamp toespraak nie Wiseman. Die feit dat daar geen poging in die maatskappy aangewend was om hordes ongeruimdhede aan te spreek nie, totdat mense laat gaan is nadat ander van buite julle korrupte en onetiese manier van ouditkunde en besigheids metodes ontbloot het is ‘n duidelike bewys dat julle ‘n korrupte kultuur het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.