KPMG-ondersoek byna afgehandel

Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het Vrydag gesê een van die ondersoeke oor die ouditeursfirma KPMG is byna afgehandel en sal aan ʼn ondersoekkomitee voorgelê word. Die ander ondersoeke verloop ook glad.

Irba ondersoek KPMG nadat die maatskappy in September verlede jaar sy verslae teruggetrek het oor die werk wat hy vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen het om bewerings van ʼn “rogue”-eenheid, wat glo deur voormalige SAID-kommissaris Pravin Gordhan aangestel is, en werk wat die maatskappy namens die omstrede Gupta-familie gedoen het, te ondersoek.

Bernard Agulhas, uitvoerende hoof van Irba, het in ʼn verklaring gesê die ondersoek na KPMG het verskeie fasette en verskeie ondersoeke is van stapel gestuur, bo en behalwe die aanvanklike ondersoek oor die oudit van die SAID-verslag en Linkway Trading, die maatskappy te midde van die R30 miljoen Gupta-troue-skandaal waar openbare geld na bewering gebruik is om die privaat huwelikseremonie te finansier.

ʼn Interne KPMG-ondersoek het bevind dat die werk wat vir die Gupta-familie gedoen is, nie voldoen het aan die aanvaarde standaarde van die maatskappy nie, en senior leierskap van die maatskappy in Suid-Afrika het bedank.

Irba sal verslag doen aan die parlement oor die vordering van sy ondersoeke.

“In twee sake, waar inligting van KPMG versoek is, is die inligting nog nie ontvang nie en Irba is steeds in gesprek met KPMG om die nodige inligting te bekom om dié ondersoeke af te handel,” het Agulhas bygevoeg. “Wat betref die SAID-saak, is Irba in gesprek met die SAID-kommissaris en meeste van die inligting is reeds ontvang. Irba is vol vertroue dat die bykomende inligting binnekort ontvang sal word.”

Agulhas het gesê dit voldoen aan Irba se magte onder die wet om enige inligting te versoek wat nodig is om sy ondersoek af te handel.

Agulhas het gesê die Irba-ondersoek is onafhanklik van die Ntsebeza-ondersoek wat deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) van stapel gestuur is.

Die SAIGR het in Oktober ʼn onafhanklike ondersoek aangekondig oor die gedrag van sommige geoktrooieerde rekenmeesters wat in diens was van KPMG, onder leiding van ʼn onafhanklike regter wat as die voorsitter sal optree.

Toe SAIGR die onafhanklike ondersoek aangekondig het, het Irba gemaan dat daar moontlik verwarring kan ontstaan oor die aard, omvang en bevindings van twee verskillende ondersoeke, of dat die twee ondersoeke moontlik saamgevoeg kan word.

“Irba beklemtoon dat hy hoegenaamd nie betrokke is in die Ntsebeza-ondersoek nie en sal met sy eie ondersoek voortgaan kragtens die Ouditprofessiewet,” het Agulhas gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Rabes ·

Maroela ek wil julle gelukwens met die artikel wat julle geplaas het. Ek hoop net julle plaas al die ander artikels ook meer vollediger dat ons kan weet wat aangaan en nie hoef te raai nie. Baie dankie.

Koos ·

Ondersoek, onsersoek, ondersoek…..daar kom NOOIT iets daarvan nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.