KPMG stel nuwe voorsitter aan

Prof. Wiseman Nkuhlu. Foto: KPMG

Die ouditeursfirma KPMG het Woensdag die nuwe voorsitter van sy direksie aangekondig terwyl die maatskappy sy geloofwaardigheid pobeer herstel nadat die firma in omstredenheid rakende die invloedryke Gupta-familie gedompel is.

Prof. Wiseman Nkuhlu, die land se eerste swart geoktrooieerde rekenmeester, is as voorsitter aangewys.

Die aanstelling kom nadat Ahmed Jaffer in September verlede jaar te midde van ʼn uittog van KPMG-vennote uit sy amp as voorsitter bedank het. Altesaam agt vennote het destyds uitgetree. Dit sluit Trevor Hoole as uitvoerende hoof en Steven Louw as hoofbedryfsbeampte in.

Nkuhlu, tans die kanselier van die Universiteit van Pretoria, het meer as 30 jaar ondervinding in die openbare en private sektor.

Hy het al as direkteur gedien in die ouditkomitees van verskeie vooraanstaande genoteerde maatskappye en was ook ʼn ekonomiese raadgewer van oudpres. Thabo Mbeki.

KPMG het ook Ansie Ramalho as ʼn onafhanklike direkteur aangestel. Sy en Nkuhlu sal hul nuwe poste vanaf 1 Maart beklee.

Nhlamu Dlomu, KPMG se nuwe uitvoerende hoof, het gesê dié aanstellings sal die nodige ervaring en wysheid bring terwyl die firma kritieke besluite neem om dit te herbou.

Die onafhanklike reguleringsraad vir ouditeure (Irba) het Vrydag gesê een van die ondersoeke oor KPMG is byna afgehandel en sal aan ʼn ondersoekkomitee voorgelê word. Die ander ondersoeke verloop ook glad.

Irba ondersoek KPMG nadat die maatskappy in September verlede jaar sy verslae teruggetrek het oor die werk wat hy vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) gedoen het om bewerings van die sogenaamde “rogue”-eenheid, wat glo deur voormalige SAID-kommissaris Pravin Gordhan aangestel is, en werk wat die maatskappy namens die omstrede Gupta-familie gedoen het, te ondersoek.

Ansie Ramalho. Foto: KPMG

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

LouE ·

Ek het nog altyd ouditeure met dieselfde agting as vir regters beskou. Helaas dis die einde daarvan. Hulle het hulle geloofwaardigheid verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.