Kraaie gaap dié week in Kaap

Argieffoto

Inwoners van die Kaapprovinsies kan hulself staal vir ’n baie warm week met temperature wat tot in die hoë 30’s kan styg. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) waarsku boonop dat warm temperature tot die ontstaan van wegholveldbrande kan lei.

Volgens Kumsa Masizana, ’n weervoorspeller verbonde aan die SAWD, sal temperature na verwagting teen Woensdag in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap styg.

“Die kwik kan teen Woensdag in die noorde van die Noord-Kaap – in die Upington-omgewing – tot tussen 36 °C en 38 °C styg,” het Masizana bevestig.

“In die omgewing van Clanwilliam en Redelinghuys in die Wes-Kaap kan temperature tot 37 °C styg. In die Vredendal-omgewing word ’n maksimum van tot 35 °C voorspel.”

Masizana sê in die Oos-Kaap sal temperature ook styg, maar dit sal nie so ʼn beduidende styging soos in die ander twee Kaapprovinsies wees nie.

“Maksimum temperature in die Gqeberha (Port Elizabeth)-omgewing sal na verwagting tot in die hoë 20’s styg.”

Reën word nog tot Dinsdag in dele van die drie Kaapprovinsies verwag.

“’n 30%-kans op reën word vir Maandag in die suidwestelike en oostelike dele van die Wes-Kaap en die verre noordoostelike dele van die Noord-Kaap verwag. Die wolke sal na verwagting teen Dinsdag begin opklaar en na die Oos-Kaap versprei.”

Die wolke kan egter weer teen Donderdag in dele van hierdie provinsie saampak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek het hoeka twee maal hierdie vakansie self roomys gemaak. Is eintlik vrek maklik. Ek klits een liter room, bietjie vanilla essence en ‘n halwe blikkie kondensmelk bymekaar totdat dit twee maal die volume is, dan vries ek dit vir ‘n paar uur. En daar het jy roomys! Ek gooi sommer ‘n gekrummelde Flake of twee en ‘n paar neute by om die girls te beindruk. En so bietjie koffie-likeur.

VaalDonkie ·

Gelukkig het ons ‘n swembad. Ek weet nie wat ek sonder een sou gemaak het nie.

Andries ·

Ek gaap self… Maar dink dit is omdat ek n vakansie nodig het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.