Kraaie gaap heelnaweek oor weste van land

Franschhoek is een van die “koeler” Wes-Kaapse dorpe dié naweek met ’n verwagte maksimum temperatuur van 34 °C wat vir Saterdag voorspel word. Vir die nabygeleë Paarl word 40 °C voorspel. Foto: Morné van Rooyen

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku teen ʼn uiters hoë brandgevaar dié naweek oor die Wes-Kaapse binneland en die Noord-Kaap.

Die provinsies sal nog heelnaweek gebuk gaan onder ʼn hittegolf wat gepaardgaan met deurgaans hoë temperature oor die kusgebiede, Namakwaland, die Weskus, Boland, Klein-Karoo en Kaapse Skiereiland.

In die Noord-Kaap sal die kwik na verwagting op Springbok tot 37 °C styg, op De Aar tot 35 °C en op Upington raak-raak aan 40 °C.

In die Wes-Kaap word ʼn ondraaglike 43 °C vir Vredendal voorspel, 42 °C vir Worcester en 39 °C vir Beaufort-Wes en Oudtshoorn, terwyl Kapenaars hulle kan regmaak vir ʼn maksimum temperatuur van 37 °C.

Die nedersetting Vioolsdrif aan die Oranjerivier kan vandag 44 °C en môre 45 °C haal, met ʼn respyt van 40 °C Maandag en net 29 °C Dinsdag, maar teen volgende naweek sal dit na verwagting weer amper net so warm daar wees.

Die snikhete warm weer oor die Wes- en Noord-Kaap sal na verwagting Sondag voortduur, maar die temperature oraloor behoort teen Maandag te begin daal en teen Dinsdag sal dit aansienlik koeler wees oor die meeste gebiede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

LouE ·

MAROELA: Hoekom geen berigte en nuus oor Angus se ‘Its Time’ byeenkoms nie? Ignoreer julle dit dalk moedswillig?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.