Kraaie gaap steeds oor groot dele van SA

Dié foto is Vrydag om 10:00 in Springs aan die Oos-rand geneem (16 November 2018). Foto: Paul Snyman via ReënvalSA (Twitter)

Suid-Afrikaners wat gehoop het die naweek sal effens koeler temperature meebring, moenie te vinnig die waaier wegpak nie – die hittegolf wat tans groot dele van die land in sy greep het, sal nog tot minstens Maandag voortduur.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het reeds vroeër vandeesweek gewaarsku dat ʼn hittegolf oor verskeie dele van die land verwag word en het vandag gesê die warm toestande sal nog tot Maandag voortduur.

Gedeeltelik bewolkte toestande en reënval word vanaf vandag plek-plek oor die sentrale binneland verwag, maar nie genoeg om die temperature af te koel nie.

Inwoners van Gauteng, die Vrystaat, oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die Noordwes en noordwestelike dele van KwaZulu-Natal loop almal onder die hittegolf deur.

Rekordtemperature is Woensdag op verskillende plekke in die land waargeneem. Tosca in Noordwes was ʼn bloedige 42,4 °C, met Postmasburg ʼn kortkop agter op 40,4 °C. In Klerksdorp is 38 °C gemeet, 36,9 °C in Kroonstad en 34,3 °C in Ficksburg.

Vandag se verwagte maksimum in Pretoria is 36 °C, terwyl die kwik in Johannesburg tot 34 °C sal styg. Bloemfontein se verwagte maksimum temperatuur is 37 °C, Kimberley ook 37 °C, Mahikeng sou na verwagting 38 °C bereik en Klerksdorp 37 °C.

Die weerdiens het weereens ʼn beroep op inwoners in dié provinsies gedoen om baie water te drink en direkte sonlig te vermy. Troeteldiereienaars is ook gemaan om te sorg dat troeteldiere genoeg vars water het en koel gehou word.

Volgens die weerdiens sal hoogdrukstelsels vanaf Sondag verspreide buie in die oostelike dele van die land bring, hoewel dit in dié stadium nie lyk of dit veel meer as katspoegies sal wees nie.

Die reën wat vir 25 November oor ’n wye gebied voorspel word, dui in hierdie stadium ook nie op strome water nie, maar ’n groot deel van die binneland kan ’n ietsie te wagte wees.

Die Noorweegse voorspelling oor die volgende week of so dui aan dat Kimberley dan ’n broodnodige 17 mm te wagte kan wees. Die nabygeleë Griekwastad sit amper droëbek met 4 mm.

Bethlehem, wat voor dan hier en daar ’n neerslaggie kan verwag, sal volgens die voorspelling op 25 November 14 mm reën ontvang. Pretoria, Polokwane en Bloemfontein is elk 13 mm te wagte.

Kroonstad en Vryheid is elk 5 mm te wagte, maar Vryheid kan reeds Maandag 5 mm ontvang. Vir Rustenburg word 19 mm voorspel en Bothaville se voorspelling is 6 mm.

Hoewel die Noorweegse weerdiens besonder akkuraat is, moet ʼn mens in gedagte hou dat voorspellings aansienlik kan verander. ʼn Paar dae gelede is min of meer landwye reën ook aan die einde van die tiendaevoorspelling, wat die langtermynvoorspelling genoem word, voorspel. Dieselfde aand het die reënvoorspelling egter soos mis voor die son verdwyn, en pas ’n paar dae later ’n herverskyning gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Ellisras ·

Die warmte plek in die land is iewers tussen Ellisras Musina en Phalaborwa. Maar nou gaan een of ander grapjas sy kar vir 3 ure in die son parkeer. Die thermo meter met sy nuwe selfoon afneem. En vir almal vertel hy het bewyse van ‘n nuwe Suid Afrikaanse rekord temperatuur. Kom kuier in Ellisras en voel wat warm is.

humor ·

Aag man, julle weet nie wat warm is nie . Gaan bly eers op Onseepkaaaans. As n donkie daar oor die fyn turfsand stap dan brand sy kloue so dat hy hom op sy sy neergooi en hy gee n kraak en vlie weer op met spoed na n koeltetjie toe.

magda ·

As jy wil voel wat is die warmste plek,kom Hotazel toe, dan sal jy voel..

Elllishel ·

Kom kuier in Ellisras die kwik sak nie in die nag nie. Slange en wild kom dorp toe dis so droog hulle soek water.

magda ·

Uhuh Ellishel. Kyk maar vir jou self. Ons temperature is hoër as julle sn, en koel ook nie af snags nie, dis rerig so,! Net soos die naam se HOTAZEL.

VanZyl Meyer ·

Goeie dag mense,hier in Usakos,Namibia is die temperature ook ondraaglik.Dit wissel van 45º tot 50º..Desember en Januarie is nog opad.Van reen op die oomblik is daar nie ‘n moontlikheid nie
Groetnis

Karolis ·

In dele van die Karoo is die reenmeters leeg en die termometers vol.
Selfs die VF doen hier bemarking net met whats-app.

pieta ·

Ag asseblief…hier by ons is dit so warm…. die gevriesde hoender wat ons in die son laat ontdooi het voor die sondagmaal, het homself verskuif na die skaduwee.

Herman Toerien ·

Soos in die berig vermeld, kan saker nog verander. Ek so pas hier en daar na die jongste voorspelling vir die 25ste gaan kyk. Oor die algemeen is minder reën voorspel, maar gelukkig oor meer dae – die Vrydag tot die Maandag – versprei. Die belangrike ding is dat die Noorweërs se gevorderde toerusting sien dat daar vog in die lug gaan wees. Hoe nader aan die datum hoe akkurater sal dit ook word.

Anita ·

Al die jare was temperature 30gr en meer en nooit was dit n hittegolf nie. dink weerburo is bietjie in n hittegolf.

Marina ·

Limpopo, veral Ellisras word nie eers genoem nie, wys jy net hoe warm is dit die kant.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.