Krag aan’t herstel in Karoo

Verskeie gebiede in die Sentraal-Karoo is sonder krag gelaat nadat storms die Laingsburg/Touwsrivier-gebied se 132 kV-kraglyne beskadig en ʼn enorme netwerkprobleem veroorsaak het. (Foto: Verskaf)

Eskom is goed op dreef om die krag na verskeie dorpe in die Sentraal‑Karoo te herstel. Dié gebied was vir meer as ʼn week lank sonder krag weens ʼn reusekragfout in die stelsel.

“Goeie nuus! Die krag kom weer aan in die Karoo. Sewe van die geraakte kragsentrales is weer aan die werk en binne die volgende paar ure sal die krag volledig herstel word,” het Allan Winde, premier van die Wes-Kaap, net ná 08:00 Donderdag gesê.

“Dit was ʼn groot krisis met kos wat vrot geword het en mense wat voedseltekort ervaar het.”

Maroela Media het vroeër berig die Karoo‑Hoogland-munisipaliteit het ʼn ramptoestand verklaar nadat die kragonderbrekings ernstige ontwrigting veroorsaak het.

Die plaaslike owerheid bedien die distrikte van Frasersburg, Sutherland en Williston. Verskeie ander dorpe – Roggeveld, Laingsburg, Ladismith, Leeu-Gamka, Swartberg, Merweville, Matjiesfontein, Prins Albert en die omliggende gebiede – sit ook sonder krag.

Dit het veral boere swaar getref omdat hulle nie hul lande kon besproei of vir hul diere kon water pomp nie.

ʼn Kleinveeboer by Prins Albert, wat op voorwaarde van anonimiteit met Maroela Media gepraat het, het Donderdag gesê die afgelope paar weke was ʼn groot terugslag vir boere, wat net-net weer begin het om hul voete te vind.

Hy kon nietemin sy mielie- en lusernoes red met behulp van ʼn kragopwekker wat die afgelope paar dae deur die AfriForum-tak op George aan hom geleen is, en met borgskappe vir diesel – onder andere deur Agri Wes-Kaap.

Sodoende kon hy darem sy oeste besproei en verseker dat sy diere kos het.

Dit bring egter net tydelike verligting aangesien voortslepende hoë beurtkragvlakke die boere steeds baie geld vir diesel uit die sak jaag – geld wat hulle nie het nie.

Winde het inwoners van die Karoo gevra om asseblief nie almal hul geisers en waterpompe aan te skakel nie sodat die vraag na krag nie die aanbod oorskry nie. “Dankie aan almal wat ons die afgelope twee weke ondersteun en gehelp het om die krag weer aan te kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Casper ·

Winde het jy al vir 10 dae in koue water gebad of gestort,nee.Het jy al vir 10 dae lank sonder water gesit,nee.Daardie boere verdien warm water en water in hulle krane veral in die Karoo waar dit vrek warm is.Hoe moet boere beurte maak om te stort en vir hulle diere en gesaaides water te gee.Jy is belaglik verby.

Bolandse Nooi ·

@Casper, mens kan nog verbykom met ‘n skotteltjie of emmertjie water om mee te was, maar diere kan nie sonder drinkwater klaarkom nie en gesaaides (voer) vrek in die versengende hitte.

Jy reken seker dit sal heelwat beter gaan as die gebied waar jy woon deur die ANC beheer word. Gaan gerus dan voort en gaan stem vir hulle, maar moenie kla as jy oor 2 jaar nog steeds geen krag het nie.

Danie ·

Dit is seker wat gebeur wanneer mense wat hulle lewe lank nog snoesig in die stad gebly het, opslag hulle self as kenners opstel oor alle sake platteland. Dit terwyl hulle nog nooit daar was nie.

Duck ·

Dit is so waar, ons hier in die stad en omgewings, is al so gewoont dat as jy die kraan oopdraai, is daar water, soos in Engels gestel “we take it for granted”
Ek is bly julle is darm aan die “herstel” Eskom moet maar “spark”

ENRICO ·

Mense, hou op om vir Winde die skuld te gee, hy kan net help om druk op Eskom te plaas, die kragmaste is die nasionale netwerk Eskom se werk om reg te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.