Krag bly aan in Vrystaat-dorpe danksy betalingsooreenkoms

Kragonderbrekings van 14 uur per dag is voorkom danksy ʼn betalingsooreenkoms tussen die betrokke munisipaliteit en Eskom.

Maroela Media het vroeër berig sekere dorpe in die Vrystaat sou van Saterdag, 17 Maart, 14 uur lank per dag kragonderbrekings beleef. Dit het gevolg nadat Eskom Vrydag bevestig het dat gesprekke oor betalingsooreenkomste tussen Eskom en Tokologo-munisipaliteit vasgeval het. Tokologo-munisipaliteit bedien onder andere Boshof, Dealesville, Hertzogville en Seretse.

“Nadat Eskom die munisipaliteit ʼn grasieperiode gegun het om aan Eskom se voorwaardes te voldoen en die agterstallige skuld van R36 464 659.52 te betaal, het Eskom geen ander keuse nie as om die huidige kragonderbrekings te verhoog,” het die kragvoorsiener vroeër in ʼn verklaring gesê.

Geskeduleerde kragonderbrekings van ses en ʼn half uur per dag het reeds op 21 Februarie in die munisipaliteit begin. Vanaf Saterdag, 17 Maart, sou dit tot 14 uur per dag toeneem (vanaf 06:00 – 20:00).

Eskom het Vrydagmiddag laat bevestig dat die kragonderbrekings verhoed is, toe die munisipaliteit ʼn betalingsooreenkoms met die kragvoorsiener aangegaan het. “Kragonderbrekings na Tokologo-munisipaliteit word met onmiddellike effek opgeskort.”

Eskom het gesê die munisipaliteit se betalings en voldoening aan die ooreenkoms sal gemonitor word. “Indien hulle nie aan die betalingsooreenkoms voldoen nie, sal die kragonderbrekings binne 48 uur weer ingestel word,” het Bibi Bedir, senior bestuurder van kliëntediens by Eskom in die Vrystaat, gesê.

Klante kan Eskom kontak by 08600 ESKOM (08600 37566) vir verdere inligting.

Maroela Media het vroeër berig Eskom het ook ʼn ooreenkoms aangegaan met een van die Vrystaatse munisipaliteite wat sedert verlede maand onder kragonderbrekings gebuk gaan.

Bedir het gesê Eskom het ʼn ooreenkoms met die Masilonyana-munisipaliteit wat Brandfort, Theunissen, Winburg en Verkeerdevlei bedien, bereik. Kragonderbrekings na die Masilonyana-munisipaliteit is ook met onmiddellike effek opgeskort. Dié munisipaliteit het Eskom meer as R48 miljoen geskuld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Peet Schabort ·

Alles en nog wat het ook te doene met die saamsmyt van dorpe wat die risiko soveel groter maak vir wanbetalings omdat daar nie ordentlike beheer uitgeoefen kan word. Nou ly die betaler ook onder die kultuur van wanbetaling wat al jare bestaan. Ook amptenare wat nie hul werk doen agv oa nie voldoende opleiding. Selfs om bome korrek te snoei is ‘n sirkus en word dit vermink of sommer kniehoogte afgesaag. Dan praat ons nie eers van rekenings en die instandhouding van strate. Laat ek net hier stop . . .

HPV ·

Deur ook die betalende mense se krag te sny skiet Eskom hulself in die voet. Honderde van die betalende mense is besig om hul eie alternatiewe kragbronne te installeer. Huishoudings kan dit alreeds vanaf so laag as R100k laat doen. So verloor Eskom daagliks al meer inkomste.

Muffin ·

Die meerderheid Munisipaliteite sit met die probleem om nie Eskom te betaal nie. Die vraag is hoekom betaal hulle nie Eskom nie. Die antwoord is dat die fondse gebruik word vir salarisse. Daar is te veel amptenare met te hoe salaris pakette wat ver te hoog is vir die betrokke Munisipaliteit se inkomste. Paaie en dienslewering ly daaronder.

ne ·

Ek stem saam, salarisse is te hoog. Kom jy daar moet jy ure in die tou staan om bedien te word, maar as jy in die kantore rondkyk is daar hordes wat op die selfoon is of tee/koffie te drink of net te gesels (luidrigtig, en uitbundig te lag). Geen een is proffesioneel nie. Sommiges praat so onduidelik dat jy niks kan verstaan nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.