Krag gedeeltelik aan in ooste van Pta

Die Wapadrand-substasie (Foto verskaf deur Tshwane-metro)

As alles volgens plan verloop en kwaaddoeners nie weer ʼn stok in die wiel steek nie, behoort kragtoevoer vandag herstel te wees na al die woongebiede in die ooste van Pretoria waar inwoners sedert Dinsdag sonder elektrisiteit moes klaarkom.

Ernst Botha, wyksraadslid van die omgewing, het Maandag aan Maroela Media gesê baanbrekerswerk het daartoe gelei dat ʼn substasie in vyf dae gebou is, waar dit gewoonlik een tot twee maande sou duur.

“Verskeie kenners en tegnici wat net ná middernag saam met die burgemeester en ander rolspelers by die Wapadrand-substasie was voor ons die krag begin aanskakel het, het dit eens dat dit die eerste keer op die Afrikakontinent is wat mense so iets regkry,” het Botha gesê.

As voorsorgmaatreël het die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en veiligheidsmaatskappye oor die afgelope naweek gereeld die woonbuurte gepatrolleer om te verhoed dat kragkabels gesteel word aangesien daar nie lading op is nie.

“Alles was Sondag nog reg en geen diefstal is aangemeld nie. Daar was egter kort voor middernag ʼn poging naby die Koedoesberg-substasie in Faerie Glen om kragkabels te steel. Toe ons die krag by die Wapadrand-substasie na die Koedoesberg-substasie begin herlei het, het die kragtoevoer tot almal se teleurstelling afgeskakel.”

Botha het gesê tegnici by die Koedoesberg-substasie het dadelik gaan ondersoek instel en in die verte mense met flitsligte sien weghardloop. By nadere ondersoek het hulle gesien die kragdrade was stukkend gesaag.

“Dit laat ʼn mens wonder of dit net ʼn mislukte kabeldiefstalpoging of sabotasie is, maar die spanne het reeds teen 03:00 begin om die stukkende kabels te isoleer sodat kragtoevoer na sowat 80% van Faerie Glen herstel kon word. Nog net sowat 20% van Faerie Glen het nie kragtoevoer nie.”

Botha het gesê weens ʼn tegniese probleem by een van die panele is Equestria, Silver Lakes en die omliggende woonbuurte nog in donkerte gehul.

“Tegniese spanne werk al om die uur om ander tegniese probleme op te los. As daar nie verdere misdaad voorkom nie, behoort kragtoevoer na al die woonbuurte vandag nog herstel te wees.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het Dinsdag omstreeks 10:00 by die Wapadrand-substasie in die ooste van Pretoria uitgebreek. Brandbestryders is onmiddellik na die toneel ontbied en die vlamme is net ná 12:00 geblus. Die Tshwane-metro het egter later bevestig dat die substasie heeltemal in die brand verwoes is en oorgebou moes word.

Verdere ondersoeke word nog gedoen om die presiese oorsaak van die brand te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
marous

Dit gaan enige normale mens se verstand te bowe waarom daar nie behoorlike sekuriteit by sleutelpunte is nie . In hierdie land is abnormaal en geen verstand orals aan die orde of wanorde van die dag!

Non-electric-city

Stem saam Marous. Sekuriteit by sleutelpunte!
My voorstel is dat sommer ál die werkers sommer leuenverklikker-toetse ondergaan.
Iémand ‘enable’ die kabeldiewe…

Antz

Moet saam stem. Ons maak ‘n groot hoeha oor die feit dat daar ‘n krag stasie in 5 dae gebou kan word. Dink nie aan die koste en mense wat daar onder lei nie. Krag stasies slaan nie net aan die brand vir niks nie. Daar word mos gesê prevention is better than cure”.

Afrikaanse Knaap

Wys jou net hoe lank dinge moet vat, tog in SA wag ons maande jare dekades.

Lizelda

Ek moet se nog nooit het die geraas van n klompie huis alarms vanoggend teen sowat 02:40 so goed geklink nie. Dit was n teken dat die krag aangekom het. Vir n kort rukkie net na 05:00 was dit weer af en my moed het in my skoene gesak. Ek hoop en bid dat behoorlike sekuriteit aandag sal geniet want al die skelms weet daar is nou weer n klomp aantal koper kabels beskikbaar. Ons is werklik dankbaar aan almal wat betrokke was om ons kragtoevoer na enkele dae weer op die been te bring maar vertrou dat behoorlike sekuriteit… Lees meer »