Krag gedeeltelik aan in ooste van Pta

Die Wapadrand-substasie (Foto verskaf deur Tshwane-metro)

As alles volgens plan verloop en kwaaddoeners nie weer ʼn stok in die wiel steek nie, behoort kragtoevoer vandag herstel te wees na al die woongebiede in die ooste van Pretoria waar inwoners sedert Dinsdag sonder elektrisiteit moes klaarkom.

Ernst Botha, wyksraadslid van die omgewing, het Maandag aan Maroela Media gesê baanbrekerswerk het daartoe gelei dat ʼn substasie in vyf dae gebou is, waar dit gewoonlik een tot twee maande sou duur.

“Verskeie kenners en tegnici wat net ná middernag saam met die burgemeester en ander rolspelers by die Wapadrand-substasie was voor ons die krag begin aanskakel het, het dit eens dat dit die eerste keer op die Afrikakontinent is wat mense so iets regkry,” het Botha gesê.

As voorsorgmaatreël het die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums en veiligheidsmaatskappye oor die afgelope naweek gereeld die woonbuurte gepatrolleer om te verhoed dat kragkabels gesteel word aangesien daar nie lading op is nie.

“Alles was Sondag nog reg en geen diefstal is aangemeld nie. Daar was egter kort voor middernag ʼn poging naby die Koedoesberg-substasie in Faerie Glen om kragkabels te steel. Toe ons die krag by die Wapadrand-substasie na die Koedoesberg-substasie begin herlei het, het die kragtoevoer tot almal se teleurstelling afgeskakel.”

Botha het gesê tegnici by die Koedoesberg-substasie het dadelik gaan ondersoek instel en in die verte mense met flitsligte sien weghardloop. By nadere ondersoek het hulle gesien die kragdrade was stukkend gesaag.

“Dit laat ʼn mens wonder of dit net ʼn mislukte kabeldiefstalpoging of sabotasie is, maar die spanne het reeds teen 03:00 begin om die stukkende kabels te isoleer sodat kragtoevoer na sowat 80% van Faerie Glen herstel kon word. Nog net sowat 20% van Faerie Glen het nie kragtoevoer nie.”

Botha het gesê weens ʼn tegniese probleem by een van die panele is Equestria, Silver Lakes en die omliggende woonbuurte nog in donkerte gehul.

“Tegniese spanne werk al om die uur om ander tegniese probleme op te los. As daar nie verdere misdaad voorkom nie, behoort kragtoevoer na al die woonbuurte vandag nog herstel te wees.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn brand het Dinsdag omstreeks 10:00 by die Wapadrand-substasie in die ooste van Pretoria uitgebreek. Brandbestryders is onmiddellik na die toneel ontbied en die vlamme is net ná 12:00 geblus. Die Tshwane-metro het egter later bevestig dat die substasie heeltemal in die brand verwoes is en oorgebou moes word.

Verdere ondersoeke word nog gedoen om die presiese oorsaak van die brand te bepaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

marous ·

Dit gaan enige normale mens se verstand te bowe waarom daar nie behoorlike sekuriteit by sleutelpunte is nie . In hierdie land is abnormaal en geen verstand orals aan die orde of wanorde van die dag!

Non-electric-city ·

Stem saam Marous. Sekuriteit by sleutelpunte!
My voorstel is dat sommer ál die werkers sommer leuenverklikker-toetse ondergaan.
Iémand ‘enable’ die kabeldiewe…

Antz ·

Moet saam stem. Ons maak ‘n groot hoeha oor die feit dat daar ‘n krag stasie in 5 dae gebou kan word. Dink nie aan die koste en mense wat daar onder lei nie. Krag stasies slaan nie net aan die brand vir niks nie. Daar word mos gesê prevention is better than cure”.

Hendrik ·

Groot, groot, groot verskil tussen ‘n substasie en ‘n kragstasie. Substasie, wat in die geval uitgebrand het is net die beheer van die gebied se krag waar krag bv vanaf 132kv na 115kv en laer spanning , wat bruikbaar is vir jou DSTV, omgeskakel word. Kragstasie is baie, baie , baie groot en vat ‘n paar jaar om te bou.

Afrikaanse Knaap ·

Wys jou net hoe lank dinge moet vat, tog in SA wag ons maande jare dekades.

Lizelda ·

Ek moet se nog nooit het die geraas van n klompie huis alarms vanoggend teen sowat 02:40 so goed geklink nie. Dit was n teken dat die krag aangekom het. Vir n kort rukkie net na 05:00 was dit weer af en my moed het in my skoene gesak. Ek hoop en bid dat behoorlike sekuriteit aandag sal geniet want al die skelms weet daar is nou weer n klomp aantal koper kabels beskikbaar. Ons is werklik dankbaar aan almal wat betrokke was om ons kragtoevoer na enkele dae weer op die been te bring maar vertrou dat behoorlike sekuriteit beskikbaar sal wees om nog so probleem hok te slaan.

GP ·

Ons is een van die gesinne wat van verlede week sonder krag sit. Ons is nie toegerus met generators en kamptoerusting soos van ons bure nie. Met ‘n klein baba en ‘n kleuter in die huis is dit nie grappies nie. Maar bewaar jou siel as jy durf kla op een van die sosiale forums. Hierdie moes in die eerste plek nie gebeur het nie. As ‘n belastingbetaler het ek seker die reg om te kla. Hoekom laat kom hulle nie ekstra polisie van ander dele van die stad nie. Hulle kan help die kabels oppas totdat dit behoorlik toegemaak word. Die spanne wat die substasie herstel werk dag en nag en die einste Ernst Botha hou ons darem gereeld op hoogte.

Riaan ·

Hoekom kan die weermag nie ingespan word om sleutelpunte te beskerm nie, hulle doen op die oomblik absoluut niks nie. Die week sonder krag kos die land ‘n fortuin

Hendrik ·

Mense wat in tegniese gebiede werk weet hoeveel dinge verkeerd kan gaan. Dit is net soos ‘n motorkar en moderne motors breek ook en net so sal elektriese toerusting ook breek. Daar is so baie faktore wat ‘n rol speel. Gaan maak eers seker van al die feite voordat daar vingers gewys word. Ek woon ook in die ooste van Pretoria en het geen kragkoppeling met die netwerk nie en het dus geen kragonderbreking gehad nie. Maar ek moet my sisteem bestuur en dit is een huis. Die mense moet maar sorg dat hulle rugsteun stelsel het.

Lizelda ·

Nou ja…net soos ons Faerie Glenners gedink ht d ergste is verby? Yippee ALWEER sonder krag.(Maandag 16.45) En d beste tyd vd dag…huistoe kom tyd. Weet nie wie dink d nonsense is snaaks nie.

Lizelda ·

En so is ons blydskap v korte duur…dis 16.45 Maandagmiddag, huitoe kom tyd en Yippee d krag is weer AF!!!!

Plantasiegorilla ·

Net ter inligting. Die krag is al af in Faerie Glen sedert laas Maandag vanaf
ongeveer 07 h30. Verseker nie sedert Dinsdag nie. Foutiewe beriggewing.

bgj van der westhuizen ·

dit is n bewys dat ons kan goed doen in n kort tyd as daar die wil is om dit te doen

Steven ·

Na 7 dae en 7 nagte is die krag weer aan in Silver Lakes…WHOOOPWHOOOOP!

Ulrigh ·

Ek stem saam met soveel kommentaar hier bo, hoekom word die kragstasies nie beman met veiligheidswagte nie. Waar gaan ons belasting geld heen. Dié probleem sleep voort en nou al vir jare, nie eers maande nie en moet mens tog nie as daar ‘n patroon is proaktief optree en voorsorg tref nie ? Regtig mense, hoeveel breinselle het jy nodig om te weet dat dit wat tans in plek is NIE werk nie. Ek voel so jammer vir die mense in die Ooste van Pretoria, regtig. Ek hoop iemand iewers sal wakker skrik en iets aan die saak doen vir eens en vir altyd.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.