Krag: Hernubare energiebedryf staan reg om te help

alternatiewe-energie

Argieffoto: Hybridsunshine.com

Suid-Afrika sal teen 2050 vier werkende kragvoorsieners soos Eskom nodig hê om die land se ekonomie van elektrisiteit te voorsien.

“Ons is egter besig om vas te val in ʼn stapel regulasies terwyl die land elektrisiteit uit alle hernubare bronne moet begin opwek en by die elektrisiteitsnetwerk bywerk,” het Clyde Mallinson, lid van die Suid-Afrikaanse energiebergingsvereniging, gesê.

“Suid-Afrika kan selfs kernkrag gebruik mits dit kostegewys met wind, sonkrag en energiebergingsgeriewe kan meeding,” het hy bygevoeg.

Mallinson was deel van ʼn paneel kenners uit die hernubare energie-bedryf wat die Nasionale Persklub Dinsdag in Pretoria toegespreek het.

Verteenwoordigers van die vereniging van windenergie, Suid-Afrikaanse sonkragbedryf en die WNNR het aangevoer die soort elektrisiteit wat dié bedryf aan die elektrisiteitsnetwerk kan verskaf, is in die meeste gevalle nie net goedkoper nie, maar kan ook talle werksgeleenthede verskaf.

Volgens Wido Schnabel, voorsitter van die Suid-Afrikaanse sonkragbedryf se vereniging, kan ʼn kragsentrale van wind of sonenergie met twee gigawatt kapasiteit, sowat 36 000 werksgeleenthede skep, terwyl ʼn soortegelyke steenkoolsentrale net 28 werksgeleenthede het.

“Daar is beslis werksgeleenthede in hernubare energie afgesien van die feit dat dié soort energie ook boonop veel skoner is om te gebruik,” het Schnabel bygevoeg.

Die verenigings meen ook die infrastruktuurontwikkeling wat die bedryf benodig kan die plaaslike ekonomie ʼn welkome hupstoot gee as die komponente wat vir opwekking benodig word in Suid-Afrika vervaardig word.

“Die wêreld is besig om te beweeg na skoner bronne van energie en Suid-Afrika is in die besonderse posisie dat die land oor groot hoeveelheid son en wind beskik. Boonop is die prys om hierdie soort energie wat deur hernubare bronne opgewerk word besig om jaarliks te daal.

“Koste van energie, wat deur hernubare bronne opgewerk word, kan selfs verder gesny word as komponente plaaslike vervaardig word. Die regering kan hier ʼn groot inset lewer met die soort beleid wat hulle volg,” het Stanley Semelane, waarnemende hoof van die WNNR se navorsingsgroep, gesê.

Hy meen dat die koste van die komponente van ʼn windturbine met tot 65% gesny kan word, maar daarvoor moet vervaardigers weet die regering staan gereed om in opwekking in hierdie bedryf te belê. Die verkrygingsprosesse sal ook bespoedig moet word.

Clyde Mallinson van die SA energiebergingsvereniging en Wido Schnabel, voorsitter van die SA sonkragbedryf aan die woord. (Foto: ‘n Skermgreep uit die regstreekse uitsending van die Nasionale Persklub.)

Nuwe bloudruk vir energie ná nege jaar

Die hernubare energiebedryf was verheug toe Gwede Mantashe, minister van minerale bronne, die hersiene geïntegreerde hulpbronne plan (IRP) in Oktober 2019 bekendgemaak het.

Business Live het toe nog berig dat Mantashe meen verskillende energietegnologieë hoef nie in ʼn konflik gewikkel te wees nie omdat die energiebloudruk vir Suid-Afrika ruimte vir almal bied.

Slegs twee maande ná die bekendstelling van die nuwe plan het Suid-Afrika fase 6-beurtkrag ervaar, die ergste vlak nog, en dit in die hartjie van die somer wanneer die aanvraag na elektrisiteit gewoonlik laer is as in wintermaande.

Volgens die WNNR het beurtkrag in 2019 soveel as R118 miljard gekos en so onlangs as Dinsdag moes dieselkragopwekkers in die Kaap gebruik word om te verhoed dat beurtkrag weer ingestel word.

Sowat 27 onafhanklike hernubare energieverskaffers staan egter slaggereed om saam sowat 2 300 MW elektrisiteit aan Eskom se sukkelende netwerk te verskaf.

Mallinson meen egter Suid-Afrika is tans nog vasgevang in ʼn scenario waarin steenkoolverskaffers beskerm word.

“Ek weet egter nie hoekom 500 tot 2 000 mense beskerm word ten koste van 55 miljoen mense nie. Daar hoef ook nie ʼn regulatoriese bottelnek te wees nie want ons gaan op die lange duur vier keer meer elektrisiteitsverskaffing benodig.”

Stanley Semelane van die WNNR en Ntombifuthi Ntuli van die SA windenergie vereniging het ook die voordele van ‘n groter verskeidenheid van energieverskaffers beskryf. (Foto: ‘n Skermgreep uit die regstreekse uitsending van die Nasionale Persklub.)

ʼn Uitstekende geleentheid

Schnabel het bygevoeg die verenigings staan ʼn mengsel van energieverskaffers voor.

“Suid-Afrika is eintlik in ʼn uitstekende situasie: Ons kragsentrales staan aan die einde van hulle rakleeftyd en dit beteken ons hoef nie iets af te skakel wat nog ʼn paar jaar kon aangaan nie. Boonop het ons ook die kans om koolstofgasse te verminder en hernubare energiebronne kan hierdie behoeftes komplementeer.

“Om ʼn nuwe hernubare kragsentrale te finansier, te bou en te bedryf kan minder kos as die brandstof en onderhoud van ʼn steenkoolsentrale. Hoekom dink ons dit is nog nodig om te argumenteer oor of ons hierdie soort sentrales aan die lewe moet hou?”

Schnabel het bygevoeg dat daar sedert die bekendmaking van die IRP-plan nog niks verder gebeur het nie. “En elke dag verloor ons net verder.”

Mallinson het op sy beurt gesê het glo die geïntegreerde hulpbronplan is reeds verouderd.

“Dié plan kyk na uitsette wat 440 terrawatt sal benodig terwyl ek reken Suid-Afrika gaan ʼn duisend terrawatt teen 2050 benodig, veral as ons, ons hele ekonomie van elektrisiteit wil voorsien.

“Tog word daar aangegaan asof die bloudruk ʼn dokument is waarby dogmaties gehou moet word, terwyl dit slegs ʼn beplanningsdokument is. Die energiebedryf ontwikkel ook so vinnig, ek glo die dokument moet eintlik elke drie maande bygewerk word, in stede van elke twee jaar, hoewel dat nege jaar laas hersien is.”

Mallinson het gesê dat ʼn splinternuwe vloot van wind-, sonkrag en energiebergingsgeriewe vandag R300 miljard minder as ʼn steenkoolgeriewe sou kos.

“So onlangs as vyf jaar gelde was die teenoorgestelde nog waar, splinternuwe steenkoolopwekkingsgeriewe sou Suid-Afrika R100 miljard minder as hernubare energie gekos het. Dit is hoe die bedryf verander het terwyl die regering nog op ʼn tien jaar-oue plan gewerk het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jack Sadie

Die probleem is dat almal wat vir
verandering/verbetering van kragbestuur vra, logika gebruik. Die ANC moet jy anders benader.

Dafer

‘n Paar vrae wat gevra moet word alvorens daar voort gegaan word: Watter aandeel besit kader? Van wanneer af? Waarmee is dit ‘gekoop’?

Johan Venter

Ek weet nie hoe die ANC by hierdie een verby gaan kom nie, dit is ver te bo hul vuurmaakplek, maar touopgooi sal hulle nooit, hulle wil als beheer sodat sorg gedra kan word dat die werk aan hul mense uitdeel word. Hulle sal vir die privaate sektor miskien die pinkie gee, maar dan seker maak dat almal kennis neem dit die die ANC wat so besluit het. Hulle is ‘n baie jaloerse organisasie wat net vir hul eie mense en die vakbonde sorg. Maar daar is mos nou nie ‘n manier dat hulle 4 Eskomme onder die vlerk kan… Lees meer »

Pottie

Dit gaan glad nie gedeur nog minder geld vir eskom. Die ANC sal dit nie toe laat nie. Gaan kyk wat gebeur nou by SAL hulle gaan hulle broers se pension geld gebruik hulle gaan dit nie eers weet nie

Bril

Gaan bestudeer Duitsland. Hernubare energie het veroorsaak dat die land die hoogste kragpryse in die EU het. Die meeste krag word steeds deur steenkool gelewer. Die probleem van hernubare energie, afhangende van die soort gereedskap, dat dit van weersomstandighede afhanklik is. Die kraglewering is ook te laag om oor groot afstande vervoer te word (transformators benodig baie krag) en as die bestaande kragnetwerk nie gebruik word nie (miljarde en miljarde se investering en instandhouding) val dit uitmekaar. Groot gedeeltes van die alternatiewe kragbronne (sonkrag, windgenerators) was deur jarelange staatssubsidies aan die lewe gehou. En selfs die alternatiewe kragbronne vereis instandhouding… Lees meer »