Krag in Pta dalk dae lank nog af

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Groot dele van Pretoria-Oos kan moontlik nog dae lank sonder krag sit ná ʼn ontploffing Saterdagaand by die Wapadrand-substasie uitgebreek het.

Silver Lakes, Zwavelpoort, Lombardy, Tierpoort, Wapadrand, Donkerhoek, Equestria, Faerie Glen, Olympus en Boardwalk word deur die onderbreking geraak.

Maroela Media het vroeër berig die brand het kort voor 21:00 Saterdagaand uitgebreek. ʼn Gedeelte van die substasie se beheerstelsel het in vlamme opgegaan.

Volgens Phillip Nel, burgemeesterskomiteelid vir nutsdienste by die Tshwane-metroraad, beoog die metro om die elektrisiteitstoevoer na Wapadrand, Equestria, Silver Lakes, Six Fountains, Tygerpoort en Zwavelpoort teen Maandagmiddag te herstel.

“Verdere herstelwerk is nodig om die elektrisiteitstoevoer na die res van die buurte te herstel. Die metro kan dus nie nou al ’n aanduiding gee van hoe lank dié herstelwerk sal duur nie, maar verwag dat dit moontlik vir ten minste nog ’n paar dae af sal wees. Ons sal die inwoners voortdurend op hoogte van sake hou,” het Nel gesê.

Volgens Nel werk die metro se energie- en elektrisiteitsafdeling sedert die ontploffing onverpoos om die skade te herstel.

Nel het Sondagaand gesê goeie vordering is reeds gemaak met die opruim van beskadigde toerusting. Sodra die opruimingswerk voltooi is, kan beskadigde toerusting begin vervang word.

“Die Orchard-substasie het genoeg kragpanele beskikbaar gestel sodat al die uitgebrande panele by die Wapadrand-substasie vervang kan word,” het Nel gesê.

Volgens Nel was van die kragkabels ook beskadig en die herstelwerk daarvan het reeds begin.

Nel het bevestig die probleme by die substasie kan nie toegeskryf word aan die munisipaliteit se versuim om infrastruktuur in stand te hou nie. Hy sê die instandhouding van die substasie was in elke boekjaar vooropgestel.

Stadsingenieurs stel ondersoek in na die oorsaak van die brand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Werner ·

Wel in die ou dae was sleutelpunte opgepas.As hulle Eskom sink bereik hulke hulle verdere doelwitte.Dalk fase twee

Riaan ·

Dit is ‘n herhalende probleem. Die genoemde woonbuurte gaan gebuk onder kragonderbrekings ten minste 1 keer elke 5 weke, en dit sluit nie “load shedding” in nie. Dit sal egter opreg waardeer word indien die substasie vir eens en vir altyd ordentlik herstel word, want soos wat dit op die oomblik aangaan kry ek die gevoel Tswane het ‘n Kubaanse ingenieur of 2 daar in diens.

Stefaan ·

Hoe nou gemaak met die krag opwekkers sonder brandstof en verbod op brandstof kanne.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.