Krag, vervoer vreet helfte van werkers se salaris

(Argieffoto: Steve Buissinne/pixabay)

Krag en vervoerkoste vreet tans die helfte van minimumloonwerkers se salarisse, wat beteken dat hulle geweldig op kosaankope – waarvan die prys ook beduidend toegeneem het – moet sny.

Die Pietermaritzburg Economic Justice and Dignity Group (PMEJBD) se indeks van huishoudelike bekostigbaarheid, wat kospryse van 44 supermarkte en 30 slaghuise op verskeie plekke in die land dophou, wys dat die gemiddelde koste van ʼn huishouding se kosmandjie verbruikers in Januarie al R4 917,42 uit die sak jaag. Dit is R64,25 (1,3%) meer as verlede maand en R516,40 (11,7%) meer as in Januarie verlede jaar.

Die PMEJBD sê stygende pryse tesame met Eskom se kragtariefverhoging van 18,65% wat in April in werking tree, gaan minimumloonwerkers onder die broodlyn laat leef. Die kragtariewe ter sprake is Eskom se tariewe aan regstreekse klante en groot ondernemings. Die munisipale kragtariewe tree in Julie in werking en word later bepaal.

Die organisasie sê die tariefverhoging sal die regering se voorgestelde minimumloonverhoging halveer.

“Ons argument is dat geen loononderhandelings eers van stapel gestuur moet word voor Eskom se jaarlikse tariefverhoging bekend is nie. So ʼn tariefverhoging moet dan in die hoër loonverhoging ingereken word,” sê die organisasie.

“Die jaarlikse tariefverhoging hou ʼn reusegevaar vir werkers se lone in. Loonvoorstelle wat voor Eskom se aankondiging gemaak is, moet opwaarts aangepas word om die verhoogde kragtarief te akkommodeer.”

Die nasionale minimum loon is tans R23,19 per uur, en R185,52 vir ʼn agt uur lange werksdag. In Januarie vanjaar, met 21 werksdae, is die maksimum nasionale minimum loon vir ʼn algemene werker R3 895,92.

ʼn Werker wat ʼn gesin van vier mense moet onderhou, het ongeveer R973, 98 van dié salaris oor; dit is onder die broodlyn van R1 417 per persoon per maand.

Hierdie items in kosmandjie nou duurder

Kossoorte wat vandeesmaand met 5% of meer gestyg het, sluit in aartappels (ʼn 10 kg-sak kos nou 28% meer), wit suiker (5%), kool (8%), wortels (6%), appels (5%), lemoene (6%), wors (9%), kerriepoeier (12%), aftrekselblokkies (7%) en sop (5%).

Kossoorte wat met 2% of meer gestyg het, sluit in kookolie (3%), stampmielies (3%), sout, tee, eiers, hoenderpote, hoenderlewer, beesvleis, tamaties, groen soetrissies, geblikte sardyne, piesangs, margarien en bruinbrood.

Die pryse van kosmandjies het in Januarie duurder geword in Durban (1,2%), Kaapstad (3,6%) en Pietermaritzburg (3,8%), terwyl pryse effens gedaal het in Johannesburg (-0,1%) en Springbok (‑6,9%).

Die hoofrede vir die daling in Springbok is goeie afslagaanbiedings op graan, vleis en brood.

Die prys van ʼn versameling basiese skoonmaakmiddels en toiletware het in Januarie met 1,3%, oftewel R11,52, gestyg en is al 20,8% of R158,31 duurder as die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Althes ·

Die regering wat besluite neem,besef nie hoe hul ons werkerklas benadeel nie. Om deesdae ñ werk te kan hê, kos op die tafel, ñ dak oor die kop, om vervoer te kan hê en ñ skoon kredietrekord,is bitter uitdagend.

Nettie ·

Hoe moet mense oorleef hierop? Hoe moet kindertjies gevoed en geklee word en ‘n opvoeding kry hierop?

Chris ·

Die impak van Escom se inploffing is groter as mens eintlik dink. Dit raak alle vlakke van die samelewing. Almal praat raas en het voorstelle om Escom reg te ruk. Ses tot twaalf maande is genoem. Ek sal Escom binne drie maande reg ruk/skok mits ek “vrye teuels” gegee word. Dit vat nie geniale breinvermoē om dit reg te ruk nie. Daar is slegs een besluit en o.a is ‘n wilsbesluit wat dit die deurslaggewende is.

Republikein in die Wes Kaap ·

Bring net jou eie fles koffie en eetgoed werk toe..

muffin ·

wat van arm mense en die pensioen en die sassa – ou mense , gestremde en wat nie werk nie om te leef en hulp. hulle sukkel

Goldy ·

Werkgewers moet gedwing word om werknemers met goeie werksetiek en vanpaste poste, vannaf die huis mag werk. Wereldwyd laat dit mense nie net baie geld spaar nie maar meer as n uur in tyd.

Schalk ·

Die antwoord of oplossing kan ongelukkig nie altyd by die werkgewer se voete geplaas word nie.

Diets ·

Stem 100% saam. Ek is meer produktief by die huis as die werk. Ook meer rustig geestelik. Werk langer ure, want as die werkgewer na my kyk, moet ek 100% meer gee. Sal dit met graagte weer doen.

KaRoOkWaGgA ·

Ja en die ander helfte vreet die kaders in die regering met belasting!
Ek kan nou nog nie oor die belaglikheid kom van die R 350.00 toelaag tydens covid nie. Ek lewe regtig op die brood lyn omdat dinge in ons land so haglik is en dit is dan amper R200.00 as mens by die betaalpunt weg stap. Wat op aarde koop daardie mense met R350.00 om vir die hele maand aan die lewe te bly?!

Hasie ·

Die regeringsamptenare bekommer hul oor niks want hul betaal vir niks en kry masiewe salarisse om niks te sit en doen nie .Solank daar foto’s van hul kamtige “werksaksies” geneem word doen hul mos hul ” werk” Verder praat hul onsamehangend , baie woordjie was niks beteken nie. …maar ai só mooi klink ….

Elma ·

As julle dink dis net minimumloon werkers wat hieronder gebuk gaan maak julle n massiewe fout hoor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.