Krag vir Kersfees; Vryburg se ligte bly voorlopig aan

(Argieffoto: sahistory.org.za)

Inwoners van Vryburg en Stella in Noordwes se ligte bly minstens dié Kerstyd aan nadat ʼn tussentydse ooreenkoms met Eskom aangegaan is om nié grootmaatelektrisiteitsverskaffing aan die Naledi-munisipaliteit op te skort nie.

Maroela Media het vroeër berig inwoners van dié dorpe het hulle tot die hooggeregshof gewend ná ʼn besluit deur Eskom dat die dorpe se elektrisiteit voortaan tussen 06:00 en 20:00 afgeskakel gaan word.

Die munisipaliteit skuld Eskom nagenoeg R300 miljoen, wat die reeds sukkelende kragvoorsiener genoop het om dié stap te doen. ʼn Betaling van R5 miljoen is vroeër gemaak, maar was oënskynlik nie genoeg om die ligte aan te hou nie.

Die krag op die dorpe word die afgelope twee weke reeds sowat vier uur per dag afgeskakel, ʼn stap waarna inwoners verwys as “strafkrag”.

Van Donderdag sou dié tydperk tot sowat 14 uur per dag verhoog word, het De Clercq Matthee, ʼn lid van Besorgde Inwoners van Vryburg, gesê. Die saak sou ook vandag op ʼn dringende basis in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

Matthee het gesê die besluit sou rampspoedige gevolge vir die plaaslike ekonomie ingehou het. Dit sou bestendige watervoorsiening ook bykans onmoontlik gemaak het.

Volgens hom het Eskom Woensdag egter ingestem dat die krag nie afgesny sal word tot die hofaansoek volgende jaar – waarskynlik in Januarie – aangehoor word nie.

“Dit is ʼn klein oorwinning vir ons,” het hy gesê.

Inwoners het in hul brief aan Eskom aangevoer sowat 90% van die inwoners het voorafbetaalde kragmeters, wat beteken hul krag is rééds betaal.

Die sakeorganisasie Sakeliga het die afgelope week ook ’n ingrypingsplan aangekondig om elektrisiteitstoevoer na sakegemeenskappe dwars oor Suid-Afrika te herstel.

Dit sluit in interdikte om Eskom te verhoed om kragvoorsiening aan betalende eindgebruikers in wanbetalende munisipaliteite af te sny; omseiling van munisipaliteite in plaaslike elektrisiteitsverspreiding; en die voorlegging van eenvoudige, maklik implementeerbare regulasieveranderinge aan die regering.

Sakeliga se jongste stappe volg op Eskom se aankondiging dat hy kragvoorsiening aan eindgebruikers in verskeie plaaslike munisipaliteite landwyd gaan afsny as gevolg van munisipaliteite se wanbetaling.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hb ·

Inwoners moet namens die korrupte munisipaliteit aansoek doen vir n interdik, wat n belaglike land waarin ons deesdae bly!!! Waarheen is die Eskom geld???

Strandloper ·

Hallllloooooo jul moes die steenkool meti mond droog blaas…dit het gewerk..geen loadshedding!

jaco ·

vryburg en stella word deur die ANC beheer. Eskom word ook deur die ANC beheer. So waarom nou dreigemente van krag afsny en so aan? Is die ANC dan nou lelik met die ANC? Skryf bloot die skuld af. dis tog alles “binne die ANC-huis”. Dis n administratiewe proses wat hoogstens 1 week sal duur om dit net af te skryf.

Nettie ·

NOU HOEKOM WORD SOWETO EN SEKERE ANDER SWART INFORMELE GEBIEDE, WAT ÓÓK NIE HUL ELEKTRISITEITSVERBRUIKSKOSTE AAN ESKOM BETAAL NIE, NIE ÓÓK AFGESNY NIE???????????

Ooooooooohhhhhhh ……………………. ek vergeet: Die A en See regeer daar en daardie gebiede is A en See stemmers se woonbuurte …….

Pampoen ·

Ons betaal indirek vir alle wanbetalers. Dus is dit in my belang dat alle gebruikers hulle regverdige deel betaal en dat nie-betalers se krag afgesny word. Die munisipaliteit koop die krag by Eskom en herverkoop dit weer aan inwoners. Eskom kan nie enkele persone binne die munisipaliteit aanspreek nie, want daardie mense het niks by hulle gekoop nie. Dus moet die hele munisipaliteit (die klient) se krag afgesny word om betaling te fasiliteer. Die probleem met betalers se krag wat ook in die proses afgesny word is nie ‘n Eskom problem nie. Dis ‘n munisipale probleem. Die inwoner moet toy-toy totdat die munisipaliteit hulle kragrekening betaal. As dit nie vining genoeg gebeur nie moet hulle ‘n paar karre afbrand.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.