‘Kragbeperking, nié beurtkrag geld’ – Eskom-hoof

Eskom sê onwettige kragverbindings veroorsaak enorme skade aan die netwerk en lei tot peperduur en lang herstelwerk. (Foto: Eskom/Twitter)

Eskom se uitvoerende hoof, André de Ruyter, sê Eskom doen alles moontlik om die ligte dié winter aan te hou en dat die kragvoorsiener se belofte – dat beurtkrag in Julie tot net drie dae beperk behoort te word – steeds geld.

Eskom het op 15 Maart laas beurtkrag in werking gestel.

De Ruyter het aan Martin Bester van Jacaranda FM gesê Eskom is wel besig om kragtoevoer na sekere gebiede wat onder kragdiefstal en vandalisme deurloop, te beperk. Dié doelbewuste beperking verskil van beurtkrag en word in werking gestel om die netwerk teen oorlading en gevolglike skade te beskerm. Beurtkrag word in werking gestel wanneer Eskom nie aan die vraag na krag kan voldoen nie ten einde ʼn algehele ineenstorting van die netwerk te verhoed.

De Ruyter sê toevoer aan verskeie munisipaliteite wat agterstallig is met die betaling van hul rekeninge by Eskom is inderdaad die afgelope ruk beperk. Volgens hom word Eskom egter maklik die sondaar gemaak wanneer kragprobleme ondervind word, maar dat die oorsaak dikwels by munisipaliteite lê wat nie hul agterstallige kragskuld vereffen nie.

“Munisipale owerhede moet ook aanspreeklikheid vir die betaling aanvaar,” het De Ruyter gesê.

De Ruyter het ook reageer op Eskom-werkers wat die afgelope ruk gereeld geteiken word wanneer hulle in gebiede waar grootskaalse kragdiefstal plaasvind, ontplooi word om onwettige verbindings te ontkoppel. Die onwettige verbindings lei tot enorme skade aan die kragnetwerk.

Onwettige kragverbindings in ‘n informele nedersetting. (Foto: Eskom/Twitter)

In sommige gevalle word werkers aangeval en selfs gyselaar geneem sodat hulle nie verbindings ontkoppel nie. Net verlede maand is twee veiligheidwagte wat deur Eskom aangestel is om tegnici tydens herstelwerk te vergesel, in Philippi-Oos in die Wes-Kaap doodgeskiet.

Wat betref die beskerming van Eskom se netwerk, het De Ruyter gesê dit is bykans onmoontlik om die bykans 180 000 km kabels van sy verspreidingsnetwerk deurlopend te polisieer. Eskom maak staat op sy eie veiligheidswagte, private maatskappye en die owerhede om met dié reusetaak te help.

Te midde van groot koue wat oor verskeie dele van die land verwag word, het die kragvoorsiener Dinsdagaand gesê opwekkingseenhede by die Medupi- en die Tutuka-kragsentrale het uitgeskop wat tot ʼn verlies van 1 300 MW in die stelsel gelei het. Woensdagoggend het Eskom gesê ʼn derde eenheid, ook by Tutuka, het vanoggend uitgeskop. Die eenheid by Medupi wat gisteraand ingekonk het, is darem vroeër vandag weer in diens gestel.

Eskom het egter gewaarsku dat die stelsel onder groot druk bly.

Volgens De Ruyter was Eskom Dinsdagaand genoodsaak om op sy dieselopwekkingseenhede staat te maak, maar dat die kragvoorsiener steeds in die vraag na elektrisiteit kon voorsien.

Eskom het egter gesê enige bykomende herstelwerk gaan sy vermoë om die ligte op spitstye – tussen 17:00 en 21:00 – aan te hou, ernstig in die gedrang bring. Hy waarsku ook dat die situasie tot die naweek kan voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

daniel ·

Die mense wat iets kan doen aan die situasie sit almal op hul hande en droom van biljoene, verder stel hulle nie belang nie.

Eiervrug ·

Ag whatever… Julle kan die naam verander soveel julle wil. As die krag af is, is dit omdat iemand nie sy werk reg doen nie. Ek weet van geen ander plek in die wereld waar dit ‘n probleem is om die land se ligte aan te hou nie…

Johanncb ·

Bestempel Eskom dit nou as prestasie dat beurtkrag laas in Maart toegepas is? Intussen het nog kragsentrales uitgeskop! Hoeveel instandhouding is gedurende grendelgreep gedoen? Elektrisiteit is mos ‘n noodsaaklike diens, nie waar nie?

Stefan ·

Maak vir my sin.
Kragbeperking na die gebiede wat nie betaal nie in plaas van load shedding vir die gebiede wat wel betaal, financieel baie beter vir eskom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.