KragDag bied selfdoen-oplossings vir Kapenaars

Kragdag Wes-Kaap het gewys dat mense dringend na oplossings soek om hulself teen staatsverval te verskans. (Foto: Verskaf)

Die Sakeliga KragDag-ekspo, wat reeds sedert 2008 net buite Pretoria aangebied word, het verlede week sy eerste ekspo in die Wes-Kaap gehou. Die geleentheid bied ʼn vertoonvenster vir energie- en ander selfstandigheidsoplossings.

Die ekspo word deur talle kundiges beskou as dié plek waar entrepreneurs en tegnologie saamgevoeg word tot die grootste versameling van selfstandigheidsoplossings op elke denkbare terrein. Die ekspo het derhalwe leersame geleenthede aan elke besoeker gebied.

Vanjaar se tema was “Kom ons bou ʼn kragstasie” en Kapenaars kon by kundiges in die energiesektor leer oor hoe elke huis en gesin selfstandiger kan leef en veral ook om volhoubare en bekostigbare oplossings te vind om onafhanklik van Eskom te raak. Sodoende kan hulle self genoeg elektrisiteit vir hul huishoudings en ondernemings opwek.

Die ekspo is op die Môreson-plaas, net buite Malmesbury, aangebied en het 5 260 besoekers gelok. Volgens KragDag is die groot getal besoekers ʼn aanduiding dat Suid-Afrikaners die waarde begin besef om hulle teen staatsverval te verskans.

Altesame 103 uitstallers het verskillende produkte ten toon gestel en daar is ook verskeie demonstrasies aangebied. Die uitstallings het gewissel van watersuiweringstelsels, sonkragoplossings, die omskakeling van organiese energie in biogas, elektriese voertuie, buitelugkragtoerusting en alternatiewe onderwysoplossings. Die ekspo het ook ʼn sterk landboukomponent ingesluit.

KragDag se groot fokuspunt is alternatiewe kragopwekking en volgens HP Steyn, bestuurshoof van KragDag, is kragoplossings dringender as ooit. Hy sê KragDag bied die geleentheid aan entrepreneurs om ʼn groot verskeidenheid van selfstandigheidsoplossings op alle terreine aan huishoudings en ondernemings te bied, hetsy dit te doen het met watertekorte, watersuiwering, voedselproduksie, onderwys of sekerheid.

Sakeliga, die hoofborg van KragDag, moedig reeds geruime tyd sy lede en ander mense aan om na selfdoen-alternatiewe te soek om die trefslag van die voortslepende kragkrisis te verlig.

“KragDag nooi ander organisasies, instansies en ondernemings om deel te word van hierdie aksies om ʼn energieselfstandigheidsgolf te ontketen wat ook ʼn breër energie vir ʼn selfstandigheidslewe kan losmaak,” sê Steyn.

Mense in die noorde en sentrale dele van die land kan weer na ʼn KragDag-ekspo uitsien wat vanaf 9 tot 12 Augustus, 20 km oos van Pretoria, aangebied word. “Dit beloof om geleenthede aan huishoudings en ondernemings te bied om finaal van Eskom se onbetroubare dienste verlos te word,” sê hy.

KragDag, Sakeliga en Solidariteit het aangedui dat hulle afsonderlike maar aanvullende aksies van stapel gaan stuur om huishoudings en ondernemings te help om van Eskom-afhanklikheid te ontsnap.

Sakeliga KragDag Wes-Kaap 2024 se datum word binnekort bekend gemaak. Hou die webwerf dop vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Althes ·

Mooi Sakeliga! Dis goed om pro-aktief te wees. Saam sal ons oorwin. Eendrag maak mag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.