Kragkrisis: Enorme toename in private opwekking nodig

(Argieffoto)

Elke fase van beurtkrag kos Suid-Afrika ʼn geraamde R500 miljoen per dag en na raming het meer as ʼn miljoen werksgeleenthede sedert verlede jaar weens beurtkrag verlore gegaan.

Dit is boonop so duidelik soos daglig dat Eskom nie die kapasiteit het om aan die land se huidige energiebehoeftes te voldoen nie en dit beslis ook nie in die toekoms sal kan doen nie. Om opwekkingskapasiteit te verseker en te verseker die kragnetwerk bly stabiel, is ʼn enorme toename in private opwekkingskapasiteit nodig.

Dít volgens ʼn verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) wat Woensdag bekend gestel is, wat ook waarsku dat selfs al voer Suid-Afrika die regering se voorgestelde Geïntegreerde Hulpbronplan (IRP) perfek uit, die land steeds teen 2030 beurtkrag gaan ondervind.

Eskom sal in die komende dekades die meeste van sy steenkoolaanlegte uit gebruik stel wat teen 2035 tot ʼn verlies van 22 000 MW gaan lei. En luidens die SNI-verslag gaan Suid-Afrika nie uit sy energiekrisis kan kom sonder radikale ingryping en ʼn radikale herstrukturering van die kragopwekkingslandskap nie.

Suid-Afrika ondervind al die afgelope 15 jaar lank beurtkrag en sedert 2007 word die land gereeld onderwerp aan kragonderbrekings. “Die gevolge vir die ekonomie is verwoestend,” lui die verslag.

Nie net het die land se BBP per capita sedert 2011 gedaal nie, werkloosheid het sedertdien van 24% tot meer as 34% opgeskiet.

Terwyl die krisis voortwoed, het die regering ten beste swak geformuleerde planne aangekondig wat nooit in werking gestel gaan word nie, en ten slegste is Eskom geplunder deur staatskapers.

SNI sê energiesekerheid is kritiek vir ekonomiese groei en werksekerheid vir elke Suid-Afrikaner.

Vooruitsig vir toekoms

Eskom het tans geïnstalleerde opwekkingskapasiteit van 51 115 MW, met ʼn nominale kapasiteit van 46 466 MW. Nietemin kan daar tans steeds nie aan die spitstydaanvraag van 34 155 MW voldoen word nie weens te veel opwekkingseenhede wat deurlopend die gees gee.

Eskom se steenkool-opwekkingsvloot is stokoud – gemiddeld 41 jaar as Medupi en Kusile uitgesluit word – en die aanlegte, wat ontwerp is vir ʼn leeftyd van 50 jaar – nader hul einde.

Om hierdie krisis te pak, het die regering die IRP ontwikkel, maar SNI bevind in die verslag dit is hopeloos onvoldoende. Die plan voorsien ʼn algehele opwekkingskapasiteit van 81 984 MW teen 2030, mits niks skeefloop nie. Die WNNR raam egter dat die vraag na krag teen 2030 met 40% gaan toeneem.

Die regering se plan steun egter swaar op son- en windkrag.

“Die regering se plan kan dalk voldoende wees slegs as alles perfek uitgevoer word, die son 24 uur per dag in Suid-Afrika skyn en die wind die heeltyd waai. Kortom: dit is onmoontlik.

“Permanente beurtkrag staar die Suid-Afrikaanse arbeidsmark in die gesig as ons net op die regering staatmaak om die energiekrisis af te weer.”

SNI gee toe dat die krisis reusagtig is, maar sê dit is nie onmoontlik om te bowe te kom nie.

Grafika: Elsabe Erasmus

Viëtnam se suksesverhaal

SNI verwys in die verslag na Viëtnam wat in 2017 ʼn spesiale verskaffingstarief aangekondig het vir maatskappye en individue wat sonkrag opwek en dit voor 2018 in die netwerk invoer. Die gevolg was verstommend en binne ʼn jaar het Viëtnam 4 500 MW opwekkingskapasiteit by sy netwerk gevoeg.

Nog ʼn nuwe tarief, spesifiek vir mense wat sonpanele op hul huise se dakke aanbring en krag in die netwerk voer, het teen Januarie verlede jaar tot nog ʼn bykomende 9 000 MW opwekkingskapasiteit gelei. Hiervan is 6 000 MW net in Desember 2020 opgerig.

In Suid-Afrika word fase 6-beurtkrag ingestel wanneer daar ʼn tekort aan 6 000 MW is.

SNI sê Suid-Afrika het reeds alles wat nodig is om Viëtnam se sukses na te doen. Die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) het reeds in 2007 ʼn verskaffingstarief aangekondig, maar dit is nog nooit gebruik nie. Private opwekking, tot op ʼn kapasiteit van 100 MW, is moontlik deur ʼn blote permit van Nersa.

“In hierdie stadium word die bottelnek bloot veroorsaak deur ʼn gebrek aan politieke wil om die kragkrisis op te los.”

Voorgestelde oplossings

Die regering het die afgelope paar jaar die leiding met die oplossing van die kragkrisis probeer neem – met rampspoedige gevolge, lui die verslag. “Dit het gelei tot 15 jaar van verkwiste geleenthede terwyl besluitnemers óf deur onbevoegdheid lamgelê is, óf deur korrupsie en ideologie.”

Suid-Afrika is dus een van die min geïndustrialiseerde ekonomieë wat nie kragsekerheid kan waarborg nie.

SNI sê die kragkrisis is die groot hekkie vir ekonomiese groei, maar die regering se reaksie hierop was om bloot niks te doen nie. “As Suid-Afrika die probleem wil oplos, gaan die burgery moet ingryp om druk op energiereguleerders te plaas en energie-onafhanklikheid te bekom van ʼn korrupte en oordonderende regering.”

  • Desentraliseer opwekking: SNI stel voor dat enigiemand wat in die posisie is, moet aansoek doen vir ʼn permit om krag op te wek en dit te verkoop. Dit is tans ʼn omslagtige proses wat gemik is op kommersiële opwekking, maar druk moet geplaas word sodat dit dak-opwekking ook insluit. Plaas opwekkingspanele op die dakke van winkelsentrums, skole, parkeerterreine en huise. “Ons moet hierdie kapasiteit bou omdat die regering bloot nie kan nie.”
  • Skrap beperkings: SNI stel voor dat boubeperkings op onafhanklike verskaffers van hernubare krag (REIPPP’s) geskrap word en dat die risiko-verligtingsprogram vir kragverkryging by onafhanklike kragprodusente (RMIPPPP) heeltemal laat vaar moet word. Regulasies wat beleggers uit die mark hou, insluitend dié oor BEE en verkryging, moet ook geskrap word.
  • Verhoog opleiding, verbeter tegnologie: Suid-Afrika gaan in die komende dekade groot getalle vaardige tegnici en ingenieurs nodig hê, spesifiek vir die hernubare kragsektor. Miljoene mense gaan nodig wees om hernubare energie en bergingsoplossing te ontwerp, te installeer en te onderhou. Tans is daar ʼn groot tekort aan vaardighede. Opleiding moet verhoog word sodat Suid-Afrika met sy eie arbeid en vaardighede die krisis te bowe kan kom.
  • Invoer-tariefskema: SNI stel voor dat die regering gedesentraliseerde opwekking aanmoedig deur ʼn invoer-tariefskema vir son- en windkragopwekking – wat binne ʼn jaar aanlyn kan wees – in te stel. Bestaande regulasies maak dit reeds moontlik. “Pleks daarvan dat miljarde rande aan projekte soos REIPPP en RMIPPPP bestee word, moet ons die geld bestee om kleinskaalse opwekking en selfvolhoubaarheid moontlik te maak deur ruim invoer-tariefskemas.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

VaalDonkie ·

Ek sal net ‘n belegging maak in opwekking op my eie werf.

Leon ·

Die regering sal eerder toekyk hoe die land inmekaar val as om die voorgestelde aanpassings te doen.

Kokerboom ·

Wonderlike geleenthede as vryemarkbeginsel net toegelaat word deur sosialistiese sentralistiese kaderregering

domheks ·

Stop net eers om vir buurlande krag te voorsien! Daarna al die wanbetalers. Dan kan Eskom dalk voorsien. Maar cANCer het mos belowe hulle sal huise/spoel toilette/ krag/water VERNIET kry!

Danie ·

Die ANC vra nou dat ons alternatiewe krag toevoer oplossing moet soek. Die ANC het hierdie land in die afgrond in bestuur. Die ANC het die mense van Suid Afrika beroof en in armmoede in gedryf nou wil hul bakhand staan en vra dat die mense van Suid Afrika moet help. Ek n gewone huis eienaar moes meer as n jaar se elektrisiteits gelde vat om n krag opwekker te koop en tans kos dit my R2000 per maand aan brandstof om my krag opwekker net 2ure in die oggend en 2 ure in die aand te hardloop. Wie gaan my daardie gelde terug betaal. Mantashe/ Eskom. Nee ANC ek sal jou nie n sent gee nie. Dit is nou die tyd vir die mense van alle rasse om op te staan en te vra vir n referendum om die ANC te verwyder.

Manie ·

Stem 100% saam met jou, maar daar is so wrintag nog ‘n domkop afduimer wat dink die ANC doen goed.

Pieter ·

Dit klink alles baie edel en werkbaar, maar die boubeperkings en die risiko verligtingsprogram is ongelukkig in werking, hoewel die SNI gaan vra dat dit geskrap moet word. Die kanse is egter NUL, want dit sal beteken Patrice Motsepe sal nie kan skep nie. Dit is juis in plek gestel sodat hy alleenreg het op ALLE alternatiewe energieverskaffing. Cyril moet mos vir sy familie sorg……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.