Kragkrisis: Meer instandhoudingswerk moontlik

Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit (Foto: Kgosientsho Ramokgopa/Twitter)

Kgosientsho Ramokgopa, die minister van elektrisiteit, het Sondag inligting verskaf oor die vordering wat gemaak word wat betref die kragkrisis in die land. Dit is een jaar sedert die nasionale energie-aksieplan ingestel is.

Ramokgopa het gesê daar is die afgelope week goeie vordering gemaak wat betref kragopwekking en dit beteken dat al hoe meer instandhoudingswerk gedoen kan word.

Volgens hom is die toename in kapasiteit toe te skryf aan ʼn daling in die aanvraag en verhoogde kragopwekking deur die kragvoorsiener.

Ramokgopa sê daar is tussen Mei en Julie 2023 ʼn verbetering van sowat 2 000 MW per maand in beskikbare kragopwekkingskapasiteit.

Indien meer instandhouding gedoen kan word, kan dit die moontlikheid van onverwagse tegniese probleme uitskakel, aldus die minister.

Van die kragstasies wat baie goed vaar wat betref kragopwekkingskapasiteit, is Medupi (88%), Lethabo (86%), Matimba (72%), Camden (66%), Duvha (62%) en Majuba (60%).

Kragstasies wat kragopwekkingskapasiteit van tussen 40% en 59% verskaf, is Koeberg op 48% (slegs een eenheid is hier beskikbaar), Matla (47%), Arnot (44%), Kendal (42%) en Kriel (40%).

Kragstasies wat onderpresteer of waar daar tegniese uitdagings is, is onder andere Hendrina (27%), Grootvlei (27%) en Tutuka (13%).

Hy sê die probleme by Kusile sal ook getakel word en eenheid 5 sal na verwagting teen die einde van Oktober aangeskakel word.

ʼn Skoorsteen by Kusile se eenheid een het in Oktober verlede jaar ineengestort nadat as in die pyp opgebou het. Die ineenstorting het ook Kusile se eenheid twee en eenheid drie geraak. Dit het tot ʼn verlies van 2 100 MW se opwekkingskapasiteit gelei.

Ramokgopa sê die tydelike skoorsteenpyp vir een van die drie eenhede sal na verwagting in die laaste week van November gereed wees en nog een teen 24 Desember 2023. Kusile se kragopwekkingskapasiteit beloop tans slegs 19%.

Sodra die eenhede by Kusile aangeskakel word, sal dit groot verligting bring, aldus die minister.

“Ek is baie optimisties oor die toekoms,” het Ramokgopa bygevoeg. “Ons het ‘n baie hoë standaard vir onsself gestel en ons sal daarop fokus om die energiebeskikbaarheidsfaktor verder te verhoog.”

Eskom het intussen fase 3-beurtkrag Sondagoggend om 05:00 opgeskort. Fase 1-beurtkrag geld Sondag van 05:00 – 16:00, gevolg deur fase 3-beurtkrag tot Maandag om 05:00.

Fase 1-beurtkrag sal Maandag van 05:00 – 16:00 ingestel word.

Onverwagse tegniese probleme het Saterdagmiddag op 16 547 MW gestaan met 4 507 MW op beplande instandhouding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

annie ·

Wat sal Eskom sonder diesel en Suid-Afrikaners sonder paraffien en kerse doen?

Hannes ·

“Ek is baie optimisties oor die toekoms,” het Ramokgopa bygevoeg.
Gemeet aan Afrika standaarde vaar julle uitstekend, die Afrika geskiedenis bewys hom oor-en-oor.

Kobus ·

Ek neem aan die “minister” gaan nie die feit dat baie instansies en huishoudings hulle eie krag voorsien ook as ‘n faktor sal noem nie. Natuurlik nie, ANC moet mos goed lyk

Papsak ·

Ek sien nog geen verbetering by Eskom van Mnr De Rhyter weg is nie regtig hierdie wat hom n elektriese minister noem is net daar om sy sakke ook goed vol te maak want geen stelery of korrupsie het gaan le by Eskom nie nou gaan dit net bietjie beter aan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.