Kragminister se magte, funksies eindelik bekend  

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

Die magte van die minister van elektrisiteit is Vrydag bekend gemaak nadat pres. Cyril Ramaphosa ʼn proklamasie in dié verband onderteken het.

Dit kom nadat die ANC Donderdag die DA se mosie vir ʼn ad hoc-komitee om toesig te hou oor die werk van die minister van elektrisiteit in die wiele gery het. Die DA se mosie is reeds aan die begin van die maand in die Nasionale Vergadering gedebatteer, maar daar is eers gisteraand daaroor gestem.

Die ANC het dit duidelik gemaak dat hy nie ten gunste van só ʼn komitee is nie.

Die DA het in reaksie gesê dit is net nog ʼn voorbeeld van die regerende party se voortdurende onwilligheid om aanspreeklikheid en deursigtigheid te verseker.

Kevin Mileham, DA-LP en die party se woordvoerder oor minerale bronne en energie, het ook daarop gewys dat min. Kgosientsho Ramokgopa se bevoegdhede en funksies steeds nie bekend gemaak is nie en dat sy ministeriële prestasie-ooreenkoms ook nog uitstaande is.

Dié magte en funksies is Vrydag kort na 11:00 op die presidensie se webtuiste geplaas, drie maande ná Ramokgopa se aanstelling. Hiervolgens word die magte en funksies ingevolge art. 34(1) van die Wet op Elektrisiteitsregulering, wat tot dusver by Gwede Mantashe, minister van minerale bronne en energie, berus het, aan Ramokgopa oorgedra.

Ramokgopa kry relevante bevoegdhede en funksies soos uiteengesit in art. 34(2) van die betrokke wet.

Art. 34 van die wet handel oor nuwe opwekkingskapasiteit en maak voorsiening dat die minister, in oorleg met die Energiereguleerder, kan bepaal dat nuwe opwekkingskapasiteit nodig is om die voortgesette ononderbroke voorsiening van elektrisiteit te verseker. Hy kan verder ook die soort energiebronne waaruit krag opgewek moet word, asook die persentasies elektrisiteit wat uit sodanige bronne opgewek moet word, bepaal.

Kgosientsho Ramokgopa (Foto: GCIS)

Ramokgopa sal ook by magte wees om te vereis dat nuwe opwekkingskapasiteit gevestig moet word en hy kan voorsiening maak vir deelname van die private sektor.

Ander bevoegdhede en funksies vervat in die wet, insluitend dié wat verband hou met die inwerkingstelling van bepalings gemaak ingevolge artikel 34, berus steeds by Mantashe.

Ramokgopa hou toesig oor alle aspekte van die reaksie op die elektrisiteitskrisis, insluitend die werk van die Nasionale Energiekrisiskomitee. Hy werk ook voltyds saam met die Eskom-direksie en -bestuur om beurtkrag te beëindig en te verseker dat die energie-aksieplan, wat Ramaphosa reeds in Julie verlede aangekondig het, onverwyld ingestel word.

Mileham het vroeër sy kommer te kenne gegee oor die feit dat Ramokgopa net aan die president verslag doen en nie aan die parlement nie.

“Ten spyte van die ANC se protes dat min. Ramokgopa beskikbaar is om een keer per kwartaal vrae in die parlement te beantwoord, skiet dit ver tekort aan die toesig wat verwag en vereis word van uitvoerende owerhede.

“Gegewe die omvang en impak van die elektrisiteitskrisis sou ons ʼn baie hoër vlak van toesig verwag het rakende die planne en aktiwiteite van die minister wat verantwoordelik is om die probleem te pak en op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Samuel ·

Liewer laat as nooit nie, lui die spreekwoord. Ek glo nie dit sal enige verskil maak aan ons kragkrisis nie. Beide ons agbare minister en die staatspresident speel vir die gehoor.

Wondermaarnet ·

Nou eers? Hoeveel maande se salaris het hy nie al ontvang om niks te doen nie?

Papsak ·

Nou dat hy gehoor het hy moet gaan was verkeerde aanstel nou wil hy kom wys wat hy kan doen Ramaphosa hom seker gese hy moet wys want die stemmery kom nader maak vol jou sakke eskom lankal weg hou heuning smeer ons groot mense nie kinders nie

annie ·

Binnekort gaan hy ‘n hele span raadgewers kry en so voorts. Noem hulle maar Eskom 2 of Esdrom.

Gert ·

Maar net nog een passasier by op die soustrein, waarvan die meeste van die wiele en spoor al verkoop is vir skroot metaal.

domheks ·

In die begin het ons 1 daggie nie loadshedding gehad nie, toe het die nuwe besem nog skoon gevee. En nou? Sommer fase 8. Wat dan nou???

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.