Kragnetwerk gaan nog jare lank sukkel

Eskom waarsku dat die kragnetwerk nog jare lank onbetroubaar gaan wees. (Foto: Mujahid Safodien/AFP)

Suid-Afrika het sedert April verlede jaar tot en met vandag (Maandag) altesame 43 dae van beurtkrag agter die rug en die kans dat die gewraakte stelsel nog geruime tyd gaan voortduur, is goed. ʼn Jaar tevore het dié syfer op 46 dae gestaan.

Eskom het Maandag sy gebruiklike terugvoer oor die stand van die kragnetwerk gegee en sê in hierdie stadium gaan beurtkrag nog tot minstens Woensdag om 05:00 voortduur.

André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, sê daar is die afgelope paar maande goeie vordering met instandhoudingswerk gemaak, maar die stelsel presteer steeds nie soos dit moet nie. “Die uiteindelike doelwit is om prestasie sodanig te verbeter om die kans op beurtkrag te verminder. Die enormiteit van dié taak kan nie meer benadruk word nie,” sê hy.

“Eskom moet benadruk dat daar oor die volgende vyf jaar nog ʼn tekort van 4 000 MW gaan wees, soos pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede aangekondig het.

“Kapasiteitsprobleme gaan een van die grootste uitdagings bly, omdat die meeste van ons kragsentrales die einde van hul gebruiksleeftyd bereik.”

De Ruyter sê talle van die kragsentrales word al jare lank ver bo internasionale benuttingskapasiteit ingespan. Dít tesame met instandhoudingswerk wat in die verlede veels te lank uitgestel is, beteken die netwerk is onbetroubaar en onvoorspelbaar.

Daar is wel vooruitgang met die instandhoudingsprogram.

Die bestendigheid van die gesinchroniseerde eenhede by Medupi toon vordering, groot probleme by die Ingula-pompopgaarstasie is getakel en elk van die vier eenhede daar werk sedert verlede maand op die volle kapasiteit van 331 MW.

Steenkoolvlakke verbeter steeds en teen die einde van Februarie was daar ʼn voorraad van 52 dae by steenkoolkragsentrales, met die uitsondering van Medupi en Kusile.

Daar is in hierdie stadium ook geen kragsentrales wat permanent volledig in onbruik is nie.

Eskom sê die veerkragtigheid wat die netwerk tydens die tropiese storm Eloise getoon het, is ʼn duidelike aanduiding dat Eskom se beduidende belegging in die nat steenkool-strategie vrugte begin afwerp.

Jan Oberholzer, bedryfshoof van Eskom, waarsku dat die onbetroubaarheid van die stelsel gaan voortduur totdat die agterstand met instandhoudingswerk ingehaal word.

Volgens De Ruyter word die kragnetwerk boonop steeds geteister deur diefstal en vandalisme. Eskom bestee jaarliks sowat R2 miljard om beskadigde infrastruktuur te herstel.

Munisipale skuld

De Ruyter sê munisipaliteite landwyd het Eskom teen die einde van Januarie altesame R35,2 miljoen geskuld, ʼn situasie wat hy as “duidelik onvolhoubaar” bestempel.

Eskom is nou besig om ʼn samewerkingsooreenkoms tussen die kragvoorsiener en sukkelende munisipaliteite te finaliseer sodat Eskom as sogenaamde agent van munisipaliteite kan help met onder meer die installering van voorafbetaalde kragmeters, instandhoudingswerk en die invordering van skuld.

De Ruyter het egter gesê die munisipaliteite se skuld gaan nie afgeskryf word nie.

De Ruyter sê die oogmerk is nie om verhoogde wins te maak nie, maar om as inwerkingstellingsagent vir die munisipaliteite op te tree. Kragtariewe by die betrokke munisipaliteite behoort dus ook nie te verhoog nie.

Rassisme-ondersoek

De Ruyter, wat vir onder meer bewerings van rassisme ondersoek word, het gesê hy gee sy volle samewerking aan die ondersoek.

Die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor) en die kragvoorsiener self het reeds ondersoeke na die bewerings gelas.

De Ruyter word onder meer daarvan beskuldig dat hy van Eskom se swart diensverskaffers probeer ontslae raak ten gunste van wit diensverskaffers.

“Ek verwelkom die ondersoek,” sê De Ruyter.

Hy sê hy is nie bewus van die volle omvang van die bewerings teen hom nie, maar glo ʼn ondersoek gaan die lug daaroor suiwer.

De Ruyter het ook die voorsitter van Eskom se raad, prof. Malegapuru Makgoba, se steling dat rassisme en seksisme geen plek by Eskom het nie, herhaal.

Hy sê terselfdertyd kan onderprestasie en korrupsie nie geduld word nie en waar dit blootgelê word, sal Eskom die nodige stappe doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokerboom

Dankie Mnre De Ruyter en Oberholzer en jul getroue spanne. Jul het ‘n massiewe gemors ge erf. Rome is nie in een dag gebou. Dankie dat jul uithou

Karen

Die kragvoorsiening in SA is natuurlik glad nie belangrik nie… Wat wel belangrik is, is dat dorpsname en straatname verander moet word. Gaan my gesonde verstand te bowe dat die ANC nie prioriteit gee aan uiters belangrike kwessies nie.

OW

Eskom se munisipale skuld is seker R35000 000 ipv R35 000 000.

Pieter

Julle ANC kan en sal nooit n land kan best nie gaan orals in afrika so.

Korrelkop

O, Eskom sê dit nogal…. NOU TREK JULLE VINGERS UIT JULLE DINGESSE EN DOEN IETS DAARAAN!!