Kragnetwerk steeds onder druk – Eskom

kragdradeEskom het Saterdag gesê die land se elektrisiteitnetwerk is steeds onder druk, maar dat beurtkrag tans nie oorweeg word nie.

“Alhoewel die kragnetwerk onder druk is as gevolg van min reserwes, verwag ons nie dat dit binnekort nodig sal wees om beurtkrag toe te pas nie,” het Andrew Etzinger, ʼn woordvoerder van Eskom, in ʼn verklaring gesê.

“Ons is besig om ons steenkool by kragstasies weer aan te vul.”

Etzinger het gesê verbruikers sal voortdurend op hoogte gehou word van verwikkelinge in die land se elektrisiteitstoevoer.

Eskom het Vrydag aangekondig hulle moes Donderdag beurtkrag in werking stel om ʼn algehele kragonderbreking te verhoed.

Beurtkrag is Donderdag vir die eerste keer sedert 2008 toegepas. Etzinger het Donderdag gesê die afgelope week se reën het daartoe gelei dat die kragreus se steenkoolvoorraad nat is, wat die kragnetwerk onder groot druk geplaas het.

Eskom het steeds die publiek versoek om elektrisiteit spaarsaam te gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

BJ ·

Tyd het aangebreek om Eskom of te privatiseer of as maatskappy sonder wins bejag te klassifiseer. Astronomiese ongegronde en onverdiende bonusse en salaris verhogings moet besnoei word en die miljarde moet eerder vir standvastige instandhouding en tariewe vermindering aangewend word.

Moontlik het die tyd nou ook aangebreek om die Openbare Beskermer te betrek sodat indringende en intensiewe ondersoeke en onafhanklike oudits van Eskom se finansies, administrasie en bestuur van stapel gestuur kan word.

Nat en lae gehalte oorskot steenkool a.g.v. beweerde uitvoer van hoog kwaliteit produk is geen verskoning vir instelling van beurtkrag nie wanneer kragsentrales in duie stort. Top kwaliteit steenkool word in die Waterberg distrik ontgin en aan Eskom gelewer. Om ‘n rekenaar sagteware stelsel te blameer vir die astronomiese tekorte aan onderdele vir instandhouding grens aan die beginsel van “‘n swak ambagsman blameer altyd sy gereedskap”.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.