Kragonderbreking duur voort in Johannesburg

Argieffoto

Johannesburg se City Power het gesê kragtoevoer sal na verwagting teen laat Maandagaand of Dinsdagoggend herstel word nadat honderde ondernemings en duisende klante al meer as ʼn week lank sonder elektrisiteit moet klaarkom.

Ondernemings in Johannesburg se middestad, insluitend banke, restaurante en winkels, moes van kragopwekkers gebruik maak om te verhoed dat hulle hul deure moet sluit. Sommige inwoners in woonstelle is al dae lank sonder elektrisiteit.

Die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) se provinsiale kantoor, wat in Marble Towers, in Jeppestraat gebaseer is, moes Maandag sy deure sluit en na die distrikskantoor in Pretoria skuif totdat die probleem opgelos is.

City Power het gesê sy tegnici het tot dusver reeds 40% van die betrokke dele in die middestad se kragtoevoer herstel.

Sol Masolo, woordvoerder van City Power, het gesê die kragvoorsiener bly toegewyd om aan die probleem te werk totdat die laaste klant se elektrisiteit weer aangeskakel is. “Ons is op skedule en toets tans die geïnstalleerde kabels en ander toerusting. Dit is ʼn noodsaaklike stap wat moet plaasvind voor enige nuwe toerusting aangeskakel word. Nóg ʼn hindernis is die klein, donker spasies in die 9 km lange tonnel,” het Masolo gesê.

Die kabels is beskadig deur ʼn brand tydens ʼn kabeldiefstal twee weke gelede. Die brand het verskeie toerusting beskadig in die sentrale sakedistrik. Verskeie gebiede in Johannesburg het kragonderbrekings beleef.

Die gebiede wat hierdeur geraak word, sluit die Carlton Centre, die premier se kantoor en verskeie geboue in Jeppe-, Plein-, Pritchard-, President-, Albert Sisulu-, Bree-, Marshalltown-, Karzene, Selby- en Durbanstrate in.

Die stad se ondersoekspan, onder leiding van forensiese ondersoekbeamptes, het reeds 22 persone in hegtenis geneem in verband met die onlangse kabeldiefstal.

Drie skrootwerfeienaars is verlede week Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die besit van koperkabels wat uit die middestad gesteel is.

Na raming word 45% van die kragonderbrekings in die stad veroorsaak deur kabeldiefstal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johanna Botha ·

Presies wat gebeur as die skelms aanhou om die kabels te steel en die polisie niks doen nie …so verwag maar meer van dit want hier by ons het ons soms 2 onderbrekings n week agv diefstal …nou is dit julle beurt !

Lig ·

Die oulike foto van die gloeilamp wat brand is seker Johannesburg se nuwe droom…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.