Kragonderbreking veroorsaak verkeernagmerrie in JHB

Erge verkeersopeenhoping Vrydagmiddag in Johannesburg. (Foto: Verskaf)

ʼn Reuse‑kragonderbreking in talle buurte in die sentrale en noordelike dele van Johannesburg het Vrydagmiddag erge verkeersopeenhopings veroorsaak.

Volgens City Power het die kragonderbreking talle woonbuurte in Johannesburg geraak, insluitend Sandton, Midrand, Illovo, Alexandra, Rosebank, Hyde Park, Parkview, Westcliff, Northcliff en Linden. Minstens 20 substasies is deur die onderbreking geraak en elke substasie voorsien krag aan minstens tien woonbuurte.

Eskom het bevestig die kragonderbreking is veroorsaak deur ʼn onderbreking by ʼn transmissie-substasie. Die kragvoorsiener het beklemtoon die onderbreking het nie met beurtkrag verband gehou nie.

Tegnici is dadelik na die perseel gestuur om die probleem op te spoor en teen 15:50 het City Power bevestig dat die kragtoevoer herstel is.

Die kragonderbreking was egter lank genoeg om erge verkeersopeenhopings te veroorsaak en motoriste wat op pad was huis toe vir die naweek se bloeddruk op te jaag. Sosialemediagebruikers het foto’s gedeel van lang rye voertuie wat by aansluitings en snelwegafritte staan aangesien verkeersligte ook buite werking was.

Intussen hou kraggebruikers asem op om te sien of beurtkrag dié naweek toegepas sal word. Dit kom nadat Eskom elke dag die week gewaarsku het dat die nasionale kragnetwerk onder druk verkeer en dat beurtkrag waarskynlik is. Die kragreus kon egter daarin slaag om heelweek die ligte aan te hou en beurtkrag is nie die week toegepas nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Se maar net ·

Kan ons nie maar afsien van die woord kragreus nie en dit nou kraggeraamte of so iets noem nie.

HPV ·

Die enigste reuse in eskom is ‘n berg skuld, reuse prestasie bonusse, reuse salarisse, reuse onbevoegdheid, dit in ag geneem is dit seker ‘n kragreus.

Leser ·

Verskonings Eskom.
Sit julle in die verkeer of is julle al tuis en word julle private krag nie hierdeur geraak nie.
Moet dalk ondersoek word dink ek…

John ·

Hoe toevallig kan toevallig wees… met Venezuela ook in die donker… en Eskom in die pound seats… ons moet weet wie is die baas…

Lalie ·

Ja nee daar moet “generators”? vir hulle wag anders weet ek nie.

IK ·

‘n Normale dag in Afrika, ‘n abnormale dag is wanneer niks verkeerd loop.

Willem Grobler ·

Kragreus? Kragdwerg is méér korrek en nader aan die waarheid.

KaterinaKat ·

KragZombie. Reeds dood maar ploeter nog stadig aan vir n tydjie.

Marinda ·

Nou verstaan ek hoekom my man sê hy wil nie daar gaan bly nie.
Sterkte aan almal wat in daardie verkeer vas gesit het.

Gert van Wierdapark ·

Krag-Dwergie is die naam! Sneeuwitjie kan nou maar op die stoof gaan sit. Eishkom en Eishgaan, maar niks gebeur nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.