Kragonderbrekings dié Noord-Kaapse dorpe se voorland

(Argieffoto: Mazhar Zandsalimi/Unsplash)

Vier wanbetalende munisipaliteite in die Noord-Kaap het kennisgewings van Eskom ontvang dat hul grootmaat elektrisiteitstoevoer van volgende maand af beperk gaan word.

Die Tsantsabane-munisipaliteit se kragrekening was teen einde Augustus met R154 909 143 agterstallig terwyl die Emthanjeni-munisipaliteit Eskom meer as R90 miljoen skuld.

Die Kamiesberg- en Richtersveld-munisipaliteit het Eskom teen einde verlede maand onderskeidelik meer as R21 miljoen en R12 miljoen geskuld.

Eskom is nou van voorneme om dié munisipaliteite se grootmaat elektrisiteitstoevoer van 7 Oktober te begin beperk.

Dit gaan beteken dat inwoners van Postmasburg, De Aar, Britstown, Hanover, Garies, Kamieskroon, Kroonsig, Klipfontein, Kheis, Nourivier, Spoegrivier, Paulshoek en Port Nolloth van die eerste week in Oktober daagliks tussen 06:00 en 20:00 kragonderbrekings gaan ervaar.

Stefanie Jansen van Rensburg, woordvoerder van Eskom, sê die kragvoorsiener besef dat inwoners en dienslewering hierdeur benadeel gaan word.

“Eskom sal dus elektrisiteitsvoorsiening volgens ʼn gereguleerde patroon beperk in teenstelling met die volstrekte ontkoppeling van elektrisiteit. Dit sal lede van die gemeenskap en verbruikers die geleentheid bied om alternatiewe reëlings vir die geskeduleerde periodes te tref.”

Die onderskeie dorpe se kragonderbrekings sal egter voortduur totdat die munisipaliteite hul skuld vereffen het.

“Die munisipaliteite se versuim om sy verpligtinge teenoor Eskom na te kom, ondermyn en plaas Eskom se vermoë om op ʼn finansieel volhoubare basis nasionaal elektrisiteit te lewer, in gevaar.

“Ingevolge die bepalings van die Wet op die Regulering van Elektrisiteit 4 van 2006 en die elektrisiteitsvoorsieningsooreenkoms tussen Eskom en die munisipaliteit, is Eskom daarop geregtig om elektrisiteitsvoorsieningsdienste van enige wanbetalende munisipaliteit te weerhou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Kokerboom ·

Ek hoop dit sal die inwoners noop om drasties op te tree teen die korrupte ANC kaders in beheer van munisipaliteite en beheer te neem van hul plaaslike owerhede. HOE kry ‘n munisipaliteit dit reg om meer as 150milj vir krag te skuld? Waar is daai geld heen?Skreiende skande. Ek kry die getroue betalers en besighede baie jammer maar ESKOM is ‘n besigheid!!

ROELOF ·

Nou wanneer begin Eskom met die grootste wanbetaler, Eskom?

johanf ·

Moes al lankal gebeur het, baie Mun betaal nie hul aankope, en spandeer die verkope “elders”……. Swak bestuur, kan nie priotiseer en pas nie hul verpligte kredietbeheer beleid toe nie, nou behoort die inwoners meer druk op daardie Mun te plaas. Net jammer dat die gereelde betalers ook daaronder lei.
En met ń Munisipale Verkiesing op hande, sal kredietbeheer verslap……..
Politiek hoort nie in ń Raadsaal…….

Petrus ·

Wonder hoeveel inwoners het krag aan Munisipaliteit betaal?

Hendrik ·

Ek hoop die inwoners vat die korrupte munsipaliteit bestuurders vas. Nou is die tyd om ontslae te raak van die korrupte ANC kaders. Kom ons vat ons dorpe en land terug van die korrupte leiers.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.