Kragprobleme in Jeffreysbaai

'n Branderplankryer in Jeffreysbaai Foto: "JBay-Surfing at supertubes-001" deur NJR ZA via Wikimedia Commons

‘n Branderplankryer in Jeffreysbaai Foto: “JBay-Surfing at supertubes-001” deur NJR ZA via Wikimedia Commons

Die Kouga-munisipaliteit moes spook om weer die ligte in die Jeffreysbaai-omgewing aan te sit nadat ʼn dwarsbalk by ʼn spantoring van die drade afgesny het.

Vakansiegangers en inwoners het hul misnoeë uitgespreek op sosiale media nadat sommige plekke glo meer as 30 uur lank sonder elektrisiteit moes klaarkom.

“ʼn Dwarsbalk wat ongeveer 9 meter lank is, het Saterdag by een van die spantorings afgebreek en op die kragkabels geval,” het Laura-Leigh Randall, woordvoerder van die Kouga munisipaliteit, Maandag aan Maroela Media gesê. “Die spantoring is in ʼn veld tussen Jeffreysbaai en Humansdorp geleë en weens die erge reën die afgelope paar dae was die terrein bykans onbegaanbaar.”

Leigh het verduidelik verskeie van die munisipaliteit se voertuie met herstelspanne het op pad na die spantoring vasgeval. ʼn Hyskraan moes uiteindelik van Uitenhage ontbied word om met die probleem te help. “Selfs die hyskraan het vasgeval,” het sy gesê.

Die munisipaliteit het lank gespook om die dwarsbalk weer op te lig en die kabels te herstel. “Dit is ʼn ongelooflike slegte tyd van die jaar vir só iets om te gebeur,” het Leigh bygevoeg.

Sy het gesê die elektrisiteit moes ook stuk-stuk aangeskakel word. “Weens die hoeveelheid mense wat tans in Jeffreysbaai tuisgaan, was dit ʼn gesukkel om alles weer aan die gang te kry.” Volgens Leigh is daar steeds kragonderbrekings in Paradysstrand, Pellsrus en een of twee blokke in die dorp.

Leigh het gesê daar was ook ʼn probleem met riool by die pompstasie in Da Gamaweg. “Die suigtenk is reeds ontbied en die probleem behoort reeds opgelos te wees,” het sy gesê.

Christo Brits van Pretoria, het aan Maroela Media gesê hulle was 27 uur lank sonder elektrisiteit. Hulle hou vakansie naby aan die hoofstrand in Jeffreysbaai.

Emmie Koegelenberg, ʼn leser van Maroela Media, het gesê sy het ʼn plek in Jeffreysbaai wat sy uitverhuur. Haar gaste het gesê dit is nou al dag drie sonder elektrisiteit. “Ek voel baie sleg vir die vakansiegangers in ons plek,” het sy gesê. “Mense betaal vir hul verblyf en die minste wat gedoen kan word is om seker te maak daar is krag.”

ʼn Facebook-gebruiker het gesê hulle het rondgery en gekyk na ‘n paar huise vir ʼn moontlike belegging. “Mens gaan op vakansie om te rus en ‘n breek te vat van die alledaagse probleme in ons geval van Gauteng,” het hy geskryf. “Nou moes ons al by die R3 000 se bevrore goedere weggooi. Dit is ook glad nie pret met ‘n ses maande oue baba nie.”

Leigh het aan Maroela Media bevestig daar is nie ʼn “uitstroom” van vakansiegangers soos wat beweer word nie. “Dit kan mens duidelik aan die verkeer sien,” het sy gesê. “Dit is net ʼn baie slegte tydsberekening.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Nella ·

Sjoe. Die mense kan lekker oordryf. Ek was amper 30 uur sonder krag. Gedog ons kon braai toe die krag aangaan. Toe is al my vleis nog solied gsvries. Net die ysbakkies het net koue water i.p.v. ys ingehad… Het die leser dalk sy vrieskasdeur permanent oopgelos om te kan eis van sy versekering???

Nina ·

Weet jy, soveel soos beurtkrag op goeie dae my SOLIED afpie, dink ek regtig mense oordryf wanneer daar werklik ‘n probleem is! Goeie hel tog!

J,Z Myburg ·

Die voorige twee het sekerlik nie n besigheid nie ,of wil hulle reken n mens moet gelukkig wees oor wat verloor is,indien so gee julle salaris vir die wat verloor het en se dit is lekker om te verloor.

Nina ·

Wat moet die munisipaliteit doen wanneer iets breek? Lees asb die berig en dan weer my vorige kommentaar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.