Kragtariefverhoging ‘knou’ landbousektor

Verskeie organisasies het Nersa se kragtariefverhoging van 9,61% gekap en sê dat dit onbekostigbaar vir die gemiddelde Suid-Afrikaner is. (Foto: pixabay)

Die organisasie Agri SA is bekommerd dat ’n 9,61%-kragtariefverhoging selfs meer druk op die landbousektor sal plaas.

Die organisasie meen dat hierdie sektor reeds onder verhoogde insetkoste, belasting en loonrekeninge gebuk gaan.

Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) het Donderdag dié verhoging vir die 2022‑’23-boekjaar aangekondig. Dit sal op 1 April in werking tree. Eskom het aanvanklik vir ’n verhoging van 20,5% gevra.

Agri SA is een van vele organisasies wat hul kommer en kritiek sedertdien teen die verhoogde kragtarief uitgespreek het.

“Die elektrisiteitstariefverhoging is nog ʼn knou vir die Agri-sektor wat reeds deur verhoogde belasting en loonrekeninge in die gesig gestaar word.

“Die verhoging kom net een dag ná die begrotingsrede waarin Enoch Godongwana, minister van finansies, ’n verhoging in ’n verskeidenheid van belastings en aksyns aangekondig het, waaronder die gesondheidsbevorderingsheffing wat spesifieke kommoditeitsprodusente negatief beïnvloed,” het die organisasie Donderdag in ʼn verklaring gesê.

Agri SA meen dat hierdie verhogings kumulatief die vermoë van die sektor om ná die skokke van die Covid-19-pandemie te herstel, belemmer.

“Die aankondigings het gevolg op ’n verhoging van 6,9% in die nasionale minimum loon wat Maart in werking sal tree.

“Terwyl die verhoging wat deur Nersa toegestaan ​​is aansienlik laer as Eskom se versoek is, sal dit duidelik ernstige gevolge hê vir boere wat reeds geweldig onder druk is. Agri SA sal die besluit bestudeer en die regering nader om maniere te vind om die kostelas op dié sektor te verlig. Dit is nie net noodsaaklik vir ekonomiese groei en werkskepping nie, maar ook vir die land se toekomstige voedselsekerheid.”

Nersa moet verbruiker beskerm

Maroela Media het vroeër berig dat die tariefverhoging op 3,49% vir die 2022-’23-boekjaar bereken is, asook terugwerkende aansoeke wat voorheen goedgekeur is. Met inagneming van hierdie besluite oor ʼn terugwerkende aansuiweringsaansoek (RCA) staan die totale verhoging op 9,61%.

Die burgerregteorganisasie AfriForum het die besluit rakende die 3,49%-verhoging verwelkom, en gesê dat hy uit die staanspoor teen Eskom se 20,5%-verhoging gekant was.

AfriForum het skriftelik kommentaar by Nersa ingedien en ook aan die openbaredeelnameproses deelgeneem. Tydens dié proses het die organisasie ’n voorlegging gelewer wat aanvoer dat die koste van Eskom se beweerde korrupte aktiwiteite en wanadministrasie by die berekening van die verhoging in die komende jaar se elektrisiteitstarief, uitgesluit moet word.

“Nersa moet alles binne hul vermoë doen om die verbruiker te beskerm. Dit is ’n eerste stap in die regte rigting, maar ons het tydens ons voorlegging genoem dat Nersa nóg verder moet gaan wat omsigtigheidsbepalings in Eskom se werksaamhede betref. Ons glo dat die tarief wesenlik afwaarts aangepas moet word wanneer sulke stappe gedoen gaan word,” sê Morné Mostert, AfriForum se bestuurder vir plaaslikeregeringsake.

Mostert sê hy hoop die energiereguleerder sal hul standpunt in die hof kan verdedig indien Eskom soos in die verlede teen Nersa se tariefbesluit litigeer.

“AfriForum sal voorts die redes vir hierdie besluit bestudeer om die regte van verbruikers in die energiesektor te beskerm.”

Verhoging is steeds onbekostigbaar

Geordin Hill-Lewis, Kaapstad se burgemeester, sê Nersa se goedgekeurde verhoging is steeds 4,1 persentasiepunte hoër as inflasie, en dat die Kapenaars doodeenvoudig nie so ʼn verhoging kan bekostig nie.

Die stad het verlede maand sy teenkanting teen Eskom se “buitensporige” verhogingsversoek uitgespreek.

“Ons boodskap aan Nersa was eenvoudig: Kapenaars kan eenvoudig nie stygings bo inflasie in die koste van elektrisiteit bekostig nie. Sulke verhogings is onbekostigbaar en onregverdig. Dit bly ons siening.

“Ondanks ’n 544%-styging in die gemiddelde prys van elektrisiteit van 2007 tot 2021, het Suid-Afrikaners ’n voortdurende toename in beurtkrag en energie-onsekerheid gesien.”

Hill-Lewis sê die Stad Kaapstad werk daaraan om die koste van elektrisiteit mettertyd met sy onafhanklike kragprodusente (IPP’s)-projek te verlaag.

“Hierdie projek het ten doel om die stad toe te laat om elektrisiteit van IPP’s aan te koop teen ʼn laer koers as Eskom sʼn. Die projek het ook ten doel om beurtkrag in Kaapstad mettertyd te beëindig.

“Daar moet erken word dat jare se korrupsie, swak beplanning en wanbestuur by Eskom en in die nasionale regering ’n situasie geskep het waar Eskom skynbaar min ander keuses het as om vir massiewe verhogings te vra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Lillian ·

Hoekom moet die verbruikers betaal vir iets wat nie hul fout is nie? Want dit is belis nie ons skuld dat ESKOM in sy maai is nie.

SlinkseKoljander ·

VIVA ANC en hulle behoefte om geld te vat waar hulle kan en geen nagevolge voor omgee nie. En ons praat nie eers oor hulle vermoe om krag te kan voorsien aan Suid Afrikaners nie.

Natasha ·

Om te lewe raak nou regtig onbekostigbaar! Ek moet al klaar elke maand kies tussen elektrisiteit en brandstof. Om nie eens te praat van hoe duur kos word nie. Waar gaan dit eindig?

Nie Verbaas ·

Dit is duidelik dat daar geen daadwerklike wil van die regering is om die land se ekonomie te herstel nie. Meer geld word van burgers vereis om skuld te betaal vir lenings wat in elk geval geplunder en wanbestee gaan word. ESKOM is in die huidige toestand weens ANC kaders. Hoekom moet burgers met intelligensie vir hulle swak bestuur boet?

Saartjievandiebosveld ·

Nersa…daar om die verbruiker te beskerm….Wat ‘n grap…

Anel ·

Gewone mense kry al vir hoe lank nie verhogings nie. So ek kan nie verstaan hoe moet alles op gaan nie. Selfse werkers moet meer kry maar hul eie werkgewers kry nie verhogings nie. Of hul verhogings is baie minder. So word werkloosheid aan gevuur.

Yolandie ·

Dis nie net die landbousektor wat die krag verhogings lank nie meer kan bekostig nie. Dis die gewone gebruiker op straat. Dit raak by die dag meer ontmoontlik om net die noodsaaklikhede te kan bekostig om te lewe. Dit raak verrregaande!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.