Kragtariefverhogings vir Tshwane nie nou ingestel

Argieffoto

Die Tshwane-metro mag nie voortgaan met die implementering van sy nuwe elektrisiteitstariefverhogings soos aan Nersa voorgelê nie.

Dit kom nadat die burgerregte‑organisasie AfriForum in ’n prokureursbrief Nersa versoek het om nie die verhoging goed te keur nie. AfriForum voer aan die beoogde verhoging op ’n tarief sou neerkom op ʼn tarief wat hoër as die voorgestelde 13,8% vir munisipaliteite.

Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria, wat Vrydag Nersa se vergadering in Pretoria bygewoon het, sê in ʼn verklaring die organisasie verwelkom Nersa se besluit.

“Nersa het die Tshwane-metro skerp gekritiseer en gesê die raad moet sy huis in orde kry, en aangedui dat AfriForum se voorstelle vir ’n openbaredeelnameproses oorweeg sal word,” sê Grobbelaar.

Tshwane het die afgelope maand drie verskillende elektrisiteitstariefverhogings vir die 2019/2020-termyn aangekondig. Dié tariefverhogings sluit ’n elektrisiteitsverhoging van 12% in met drie basiese tariefheffings van onderskeidelik R56, R120 en R200 wat betaalbaar is voordat enige krag verbruik word.

Die basiese tarief beteken dat kragverbruikers dié tarief sal betaal voordat enige elektrisiteit verbruik word. Grobbelaar verduidelik vir koopkragverbruikers beteken dit indien jy R56, R120 of R200 se krag aankoop, jy geen eenhede sal ontvang vir die kragaankope nie en bykomende krag sal moet aankoop voordat jy enigsins eenhede ontvang.

Die eerste verhoging wat aangekondig is, het in die geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) verskyn en sluit ’n basiese tarief van R56 in wat op alle verbruikers van toepassing is. Die tweede aankondiging het op 19 Junie vanjaar in die Staatskoerant verskyn en sluit ’n basiese tarief van R200 in.

AfriForum het verder deur ’n PAIA-proses ’n derde basiese tariefverhoging van R120, wat die metro voorgestel het, bekom. Volgens AfriForum se berekeninge sal die basiese heffing van R56 soos in die GOP voorgestel, nie ’n probleem wees nie en mag verbruikers dalk minder betaal as voorheen, maar die ander twee voorgestelde basiese tariefheffings sal nie die afsnypunt van 13,8% haal nie.

Nersa se riglyne vir elektrisiteitsverhogings stel ’n voorgestelde verhoging van 13,8% vir munisipaliteite voor om te verseker dat dié verhogings nie buitensporig raak nie. Die probleem met die basiese tariefheffings, soos deur die metro voorgestel, is egter dat die persentasie verhoging van kragverbruikers heelwat meer sal wees as die voorgestelde 13,8%.

Volgens Grobbelaar poog die metro om verbruikers veel meer te laat betaal as wat deur Nersa voorgeskryf word. “AfriForum glo die Tshwane-metro het op ’n slinkse wyse ’n manier gekry om verbruikers veel meer te laat opdok as die toegelate 13,8%. Die heffings van R200 en R120 is skerp verhogings van die voorgestelde R56 en blyk onredelik te wees en kan nie geregverdig word nie.”

Die voorgestelde tariefverhoging sal dus nie op 1 Julie in werking tree soos beoog nie, maar eers later, nadat ’n billike proses gevolg word.

Grobbelaar sê vir tyd en wyl sal die tarief tot verdere kennisgewing onveranderd bly.

Inwoners van Pretoria kan AfriForum se stryd teen die tariefverhogings steun deur die petisie te onderteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Hu ·

Nou wanneer gaan iets in die Kaap gebeur ons betaal nou al hoe lank heffings op krag en water nog voor dat jy krag of water gebruik het hoekom is almal stil daaroor gaan dit vir die miljoeners wat in plakkerskampe bly en baie arm speel as hulle krag wil he kan hulle betaal wat ons betaal niks in die lewe is verniet nie

Ouvrou ·

JHB metro het ook nou ‘n R200 heffing op voorafbetaalde krag begin vra. Ons is gedreig deur die ANC munisipaliteit om dit te installeer of hulle sny ons krag omdat ons meter boks in ons erf is. Volgens hulle het ons hulle toegang geweier. (ALMAL IS BEDAGS BY DIE WERK) Nou kos meer as 500 kwh R182, 23 per kwh maar mense wat nie voor afbetaal nie betaal slegs R165, 22 terwyl hulle vir meer as 3000 slegs R182, 87 per kwh betaal. ONS BETAAL VIR SOWETO.

Oosie ·

Ek Ken baie mense wat van die hand na die mond leef en en spook en spartel om R50 of selfs minder se krag elke nou en dan te koop. Hoe gaan hierdie mense aan die gang bly!?

Ilze ·

Ja Oosie ons leef ook so en kan nie meer as R50 bekostig wanneer ons koop en dan is dit ook maar niks

Theuns ·

Mense gaan kyk bietjie na Mogale City – Krugersdorp – my ma, ‘n pensionaris betaal R359 demand side levy – voor sy enige krag begin gebruik – dit is mal – haar hele krag rekening is R 700 – nou wie subsideer sy met daai R 359 -00 ?

Johanna Botha ·

As mens net kyk hoeveel straatligte onnodig deur die dag brand ! ! Iemand het dit geskryf en ek kon my oe nie glo nie : 1x straatlig = (300watt) , 10x straatligte =3KW wat 12 ure onnodig deur dag brand kos R72 / dag x 30dae = R 2160 / maand ! R25 920/ jaar. 100xstraatligte= R2 592 000/ JAAR ….dit kan BAIE slaggate regmaak, werk skep, veiligheid verseker …n stadsraad wat omgee vir die mense sal verseker die 100 ligte wat onnodig brand afsit …NIKS GEBEUR NIE ! !

Koos de Meyer. ·

Dis dan nou die einste DA wat die verhogings wil inbring. Hoekom gee hulle nie ons 6kl water en 5o kW eenhede terug wat vir die ander gegee word nie.

piet piet ·

Dit is hoe die DA regeer,lyk vir my maar dieselfde as die anc

zoom zoom ·

Wat is die doel van die heffing is daar iemand in Tshwane wat vir my kan sê. Is dit Om die la di da van Tshwane se eyes Te sponsor of die wat weier Om rekeninge Te etaal Te sponsor. Die enigste verskil tussen die DA en ANC is die kleure van hulle t shirts verder is albei partye partye pateties as dit by bestuurssake kom.

koos ·

Die DA in Tshwane wil geld tap op enige moontlike manier. Hulle werkers breek my asblik en belowe ‘n nuwe een. Die nuwe word afgelewer sonder dat die ou een gevat word. Ek vra en hulle werkers sê ek kan hom maar hou. Ek bly net 1 asblik uitsit per week maar word nou vir 2 op my rekening verantwoordelik gehou, en tipies Tshwane is hulle doodstil oor my klagte na hulle.

Linda ·

Dank aan AfriForum. Wat sal ons sonder julle doen? Interessant dat die DA- geleide stadsraad die verhoging by die agterdeur laat inglip. Ai!!!!

S ·

Janee die kamtige groot-pratery van die DA ….. soooo sal hul nog meer stemme verloor in die land. En so wys hulle hul ware kleure en planne vir die mense. Regtig baie teleurstellend … dis duidelik seker deel van hulle planne om die land so reg te kry en Eskom-probleme vinnig kamma op te los. Net so slinks soos die ander party en leuns seëvier maar orals!!
Hoe kan ons wat onder verdien die krag tariewe betaal. Party mense is te dankbaar as hul net n brood n week kan bekostig. Ek bid en hoop uit my hart dat Afriforum ons mense sal kan help en dat dit heeltemal weggeskraap word. Dankie Afriforum vir wat julle doen, ons waardeer julle baie!!

Diefie ·

En waarom sal die munisipaliteie nou hul eie mense laat betaal vir krag, as hulle dit verniet kan kry van ons af, wat betaal daarvoor. Jy kyk mos eers na jouself dan jou mense, dan is alles maan toe.

Rika labuschagne ·

En wat van kaapstad? Baklei hulle nie vir ons ook nie? Ons sin gaan vandag met 14 % op!

Gerda ·

Ek koop gewoonlik op die 1ste van elke maand krag (pre-paid) en het vanoggend dieselfde bedrag gekoop as die vorige maand maar heelwat minder eenhede gekry. Dit beteken dat die verhoging wel in werking getree het, indien nie, wie gaan my ekstra eenhede gee?

anton ·

Gerda, ek stel voor bring dit onder Afriforum se aandag.
En ja mense, iemand moet seker Soweto se R18 biljoen se krag rekening begin help betaal.
Hulle weier om vir hulle krag te betaal en nie Eskom of die regering doen iets aan hulle nie!!!
Ek hoop ek kan eendag heeltemal onafhanklik raak van Eskom en heeltemal ”Groen” gaan!!! Ek werk daaraan. Moeg om te betaal vir die ander wat alles wil he maar niks wil betaal nie.

Attie. ·

Ek het ‘n boorgat en my hele huis werk met 16 trekkerbatterye en 12 sonpanele. Alles is sonenergie behalwe die elektriese stoof en oond. My huis se twee geysers is sonaangedrewe. My waterverbruik per jaar is nul maar ek betaal dieselfde basiese heffings as almal. Dis wel lekker om die bure se kragopwekkers te hoor maar verder niks te weet van kragonderbrekings nie.

Chris Ws ·

Attie waars julle gasstoof dan?Ons werk al 22 jaar met net gasstowe.Ons gas werk plus minus R35 per maand uit.In die winter gebruik ons ons koolstoof dan spaar ons nog die gas ook.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.