Kragtoevoer gedeeltelik herstel ná brand by substasie

Die brand het Maandagaand uitgebreek. (Foto: CityPowerJhb/Twitter)

Spanne van City Power spook steeds om alternatiewe oplossings te soek vir ʼn kragonderbreking ná ʼn reusebrand Maandagaand by die Robertsham-substasie in Johannesburg uitgebreek het.

Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, sê die omvang van die skade word steeds bepaal en opruimingswerk by die substasie duur voort.

Vier substasies, Wemmer, Crown Gardens, Mondeor en Mulbarton, is geïdentifiseer wat kragtoevoer kan bied.

“Die werk vorder goed en spanne is besig om met droë ys die ander twee transformators skoon te maak, wat nie deur die brand geraak is nie. Twee transformators, wat op bystand is, het laboratoriumtoetse geslaag. Dit is nog slegs die elektriese toetse wat gedoen moet word,” het Mangena bygevoeg.

Die transformators wat in die brand beskadig is sal verwyder word sodra die struktuur voldoende afgekoel en die olie uitgetap is.

Kragtoevoer is Dinsdag omstreeks 14:00 herstel na onder andere Ridgeway, dele van Ormonde, Wes-Turfontein, Chrisville, Crown Garden en Robertsham.

“Die werk duur voort om kragtoevoer na ander dele te herstel. Ons hoop dat dit teen vanaand afgehandel kan word en die res teen Woensdagoggend.”

Die ondersoek na die oorsaak van die brand duur voort.

Maroela Media het vroeër berig die brand het om 20:30 ontstaan en onder meer twee hooftransformators verwoes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarel ·

Ondersoek duur voort maar jy sal nooit weet nie en geen.
Vervolging sal ingestel word nie

Di ·

“Sekeres” besig om die hele land af te brand! Die skuldiges moenie gaan betoog wanneer daar nie meer dienslewering is nie. Skiet hulle self in die voet

Mieke ·

Ds nou nie almal nie. Maar daar’s definitief ‘n deel van die “sekeres” wat SA wil vernietig!

Theuns ·

Duidelik ramaposa het geen beheer oor sy anc cadres nie. Swakste president ooit! Erger as Zuma!Oral word alles afgebrand en die “jellieman” se stil man se niks, soos altyd. Bang vir eie skaduwee. Saam met zuma se 9 jaar en nou rama se 4 jaar is dit 13 VERLORE JARE! Net kriminele wen. Laat hou dink ne…

Jan ·

Die olie wat in die transformators gebruik word om hulle af te koel moet gereeld vir viskositeit getoets word. Dit word nie meer gedoen nie en wanneer die olie te dik raak, “arc” die elektrisiteit deur en slaan die transformator aan die brand. Dit is wat gewoonlik gebeur by al die transformators wat so gereeld aan die brand slaan, maar Eskom of die Stadsraad (gewoonlik die Stadsraad s’n) sal dit nooit erken nie. Nog iets van dienslewering waarvan die publiek salig onbewus is.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.