Kragtoevoer herstel na brand in Jhb-tonnel

(Foto: Verskaf)

Die kragtoevoer is herstel na alle gebiede wat deur die ondergrondse tonnelbrand in die Johannesburgse middestad geraak is.

Die kragtoevoer is teen Maandagaand reeds na 98% van die gebiede aangeskakel, maar ’n deel van die middestad was steeds sonder krag weens ’n kabelfout, het Isaac Mangena, woordvoerder van City Power, gesê.

ʼn Brand het verlede Maandag in tonnels onder Ntemi Pilusastraat uitgebreek en is ’n dag later geblus.

“Spanne het sedert die brand uitgebreek het, onverpoosd gewerk om te verseker dat die kragtoevoer herstel word. Ons planne om teen Sondag reeds krag te herstel het, is deur die reënweer ontwrig.”

Die brand het die grootste deel van die stad in duisternis gedompel, onder meer in Newtown, Fordsburg, dele van of Mayfair, Booysens, die middestad, Selby, Wemmer, Westgate, Village Deep, Troyeville, Marshalltown en dele van Jeppe.

“Die meeste gebiede het egter teen einde verlede week weer krag gehad, met net gebiede oos van die middestad en langs die M2-hoofweg wat langer moes wag vir hul kragtoevoer om herstel te word.”

Volgens Mangena is die ondersoek na die oorsaak van die brand steeds aan die gang maar in ’n gevorderde stadium en ’n finale verslag sal binnekort gefinaliseer word.

Tshifularo Mashava, City Power se waarnemende hoof, het mense wat deur die onderbreking geraak is, bedank vir hul geduld, begrip en samewerking. “Ons vra om verskoning vir die ontwrigtings wat aan lewens en besighede veroorsaak is.”

Mashava het alle rolspelers bedank wat onverpoosd gewerk het om die brand te blus en die kragtoevoer te herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.