Elektrisiteitstoevoer is na alle gebiede in Benoni herstel ná ʼn brand Vrydagoggend by ʼn kragsubstasie uitgebreek en grootskaalse kragonderbrekings aan die Oos-Rand veroorsaak het.
“Die span het ononderbroke gewerk om die kragtoevoer weer te herstel,” het Doctor Xhakaza, burgemeesterskomiteelid vir water en energie van Ekurhuleni, gesê.
Maroela Media het vroeër berig die brand het by die 132 kV- Rynfield-hoofsubstasie uitgebreek. Een transformator en vier minisubstasies is beskadig.
Xhakaza het gesê die kragvoorsiening is binne 24 uur ná die voorval herstel na die grootste deel van die inwoners wat hierdeur geraak is.
Die Ekurhuleni-munisipaliteit het R20 miljoen opsy gesit vir die 2015/2016 finansiële jaar om die hele Rynfield-stasie op te gradeer en herstelwerk te doen. “Die opgradering sluit beskermingstoerusting en algemene opgraderingswerk in om die substasie se stabiliteit en kapasiteit te verbeter,” het Xhakaza bygevoeg.
Hy het gesê die munisipaliteit bedank inwoners vir hul geduld terwyl hulle aan die probleem gewerk het en vra om verskoning vir enige ongerief wat veroorsaak is.