Kragtoevoer na dele van Welkom herstel

Een van die torings wat die afgelope paar dae buite Welkom omgeval het. (Foto: Eskom)

Kragtoevoer na dele van Welkom in die Vrystaat is laat Dinsdagaand herstel nadat twee torings in die streek die afgelope paar dae omgeval het.

Eskom sê gedeeltelike toevoer na die Jurgenshofmyn en die Brand-goudmynaanleg is herstel.

ʼn 132 kV-toring het Dinsdag omgeval nadat drade wat ʼn paal stut, gesteel is. Dit het gelei tot ʼn onderbreking in die toevoer na die Witpan-substasie buite die dorp.

Bouwerk aan ʼn nuwe toring en herstelwerk weens die skade wat die ineenstorting veroorsaak het, duur intussen voort. Eskom het intussen ʼn beroep op verbruikers in die gebied gedoen om elektrisiteit spaarsaam te gebruik en oorlading te voorkom.

Die herstelwerk van kragtoevoer na gedeeltes van Welkom wat sonder krag sit nadat ʼn ander 132 kV-toring Sondag omgeslaan het, duur ook voort.

Eskom sê nadat met herstelwerk begin is, het tegnici gevind een van die strukture is deur ondergrondse erosie beskadig wat beteken dit kon nie sterk wind weerstaan nie. Toe ʼn storm die streek Sondagaand tref, het die toring omgeval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.