Kragverhogings dra by tot ʼn perfekte ekonomiese storm

(Foto: pixabay)

Die verhoging van 8,61% vir munisipaliteite en 9,61% vir direkte gebruikers wat Nersa aan Eskom toegeken het, maak deel uit van ’n perfekte storm wat besig is om saam te pak oor die verbruikers en belastingbetalers van Suid-Afrika.

Munisipaliteite moet nou nog self besluit oor hul eie verhoging op die verhoogde prys aan Eskom en verbruikers kan hulle gereed maak om eersdaags sowat 17% meer vir krag te betaal.

Nersa moet ook hierdie munisipale verhogings goedkeur, maar dit sou in lyn wees met die 17,80% verhoging wat Nersa verlede jaar goedgekeur het.

“Gegewe munisipaliteite se haglike finansiële posisies, spreek dit vanself dat die meeste sal probeer om die verhoging so groot as moontlik te maak,” sê Michal Groenewald, woordvoerder van die VF Plus.

“Die verhoogde elektrisiteitstariewe gaan tot verdere verarming van inwoners lei wat meer wanbetalers tot gevolg gaan hê en dus munisipaliteite se sukkelende finansiële posisie verder gaan verswak. Plaaslike ekonomieë kan nie groei te midde van onbekostigbare en onbetroubare elektrisiteitsvoorsiening nie.”

Groenewald sê die verhoging aan Eskom moet ook gesien word teen die agtergrond van reddingsboeie van miljarde wat die staat jaarliks aan die kragvoorsiener gee. In die 2020/21-boekjaar het dit altesame R56 miljard beloop.

“Hierdie geld kom direk van die belastingbetaler en indien dit bereken word as deel van die jaarlikse tariefverhoging aan Eskom, sou die persentasie aansienlik meer beloop. Dit, tesame met ander verhogings in belangrike verbruikersmiddele soos brandstof en voedsel laat Suid-Afrika volgens die marknavorser Trading Economics met ’n verwagte inflasiekoers van 4,45% vir vanjaar.”

Die verwagte ekonomiese groeikoers is skaars 1% vir vanjaar en slegs 0.60% vir 2023. Die oorlog in Oekraïne kan hierdie projeksies boonop veel slegter laat lyk.

“Soos by munisipaliteite moet die handvol getroue betalers van belasting en dienstegelde reeds ’n haas onmoontlike las dra terwyl ekonomiese onheilswolke om hul koppe saampak. Hierdie storm is hoofsaaklik geskep deur onbevoegdheid en korrupsie op elke vlak van regering en by elke instansie waar die ANC betrokke is.”

Groenewald meen wat Eskom aanbetref, sal daar dringende en ingrypende herstrukturering moet plaasvind. “Net so dringend as wat ’n nuwe regering die land van ondergang moet red.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

10 Kommentare

jongste oudste gewildste
Flip

Die verhogings van mediese fondse is nie vêr agter nie want iewers moet hulle die geld kry om hul peperduur kantore te huur…..

Drikus

Dit is definetief die perfekte ekonomiese storm gegewe dat die 8.61% kragverhoging tesame met ‘n brandstof prys van R24 per liter asook ‘n verhoging in die reserwebank se repo koers vir ‘n hele klomp verhogings gedurende die jaar met nie minder as 25 basis punt per slag, ons middelklas inkomste groep gaan kelder, omdat ons nie maklik verhogings van meer as 6% van werkgewers sal ontvang nie.

Blomme

En so moet die gewone mense betaal vd foute en gulsigheid van ń korrupte regering terwyl hulle voortgaan om in luuksheid te lewe.

annie

Ons winter is oppad en al hierdie verhogings begin inskop. Verbruikers is na aan die emmer skop. Ongelukkig lê Rusland bietjie ver weg anders kon ons hom ook soos leiers in die Noorde die skuld gee vir alles.

Mad Mike die Rhodesiër

Terug na die 17de eeu, Jan van Riebeeck se tyd, toe kerse, lanterns, vure en koolstowe die enigste vorm van “elektrisiteit” was…